Front page - 29 November 2012

Front page - 29 November 2012

Gansbaai Courant

Khatshaza word hier deur Spr, Konst. Xolile Plaatjie (links) en A/O Arno van der Merwe begelei tydens sy aankoms vanaf Johannesburg.

Die twee martelmoordenaars van mnr Piet Huddlestone (65) van De Kelders, wat op 16 Julie 2007 wreed vermoor is, is Woensdag in die Kaapse Hooggeregshof tot lewenslank gevonnis.

Wyle Piet Huddlestone

Hulle het ook ‘n verdere 15 jaar tronkstraf vir verswarende roof gekry. Die afgetrede alleenloper posmeester is in sy huis deur sy tuinwerker, Mhlangabezi Khatshaza (27) en sy vriend, Mandlenkosi Nogaga (27), oorval. Sy geparkeerde gesteelde Toyota RunX is later deur ‘n inwoner van Blompark as verdag by die polisie aangemeld. Die eienaarskap is bepaal en met hul aankoms by Huddlestone se huis is hy vermoor op sy bed aangetref. Die ondersoek het op 3 Oktober 2007 ’n dramatiese wending geneem toe ’n verdagte gearresteer is. Die sewe en twintigjarige man, Mandlenkosi Nogaga, is by sy blyplek in Masakhane aangekeer nadat nommers van selfoonoproepe, wat op die dag van die moord van die vermoorde se selfoon gemaak is, deur MTN aan die polisie verskaf is. 
Speur-Kapt Danie Rautenbach en A/O Mossie Mostert van Gansbaai het die inligting opgevolg wat tot die arrestasie gelei het. Nogaga, wat toe reeds 7 jaar in Gansbaai gebly het, was ’n tydelike werknemer by ’n plaaslike onderneming en het geen vorige veroordelings of ‘n kriminele rekord gehad nie. 
Hy het die volgende dag 'n bekentenis afgelê.  Volgens hom het hy en Khatshaza, die dag van die moord na Huddlestone se huis in Woltemadestraat in De Kelders gegaan om tuinwerk te soek.  Khatshaza het na bewering vantevore daar in die tuin gewerk.  Huddlestone het glo gesê dat hy net werk vir een van hulle het. 

Die De Kelders moordenaar, Nogaga en Inspt. Mossie Mostert buite Gansbaai se polisiestasie. 

Volgens Nogaga het hy toe omgedraai en na die voorhekkie begin loop.  Hy het egter ’n struweling agter hom gehoor en toe hy omkyk, gesien hoe sy maat vir Huddlestone met ’n mes steek. Hy het toe teruggegaan en Huddlestone is die huis ingedwing waarna hy  verder aangerand is.  Hulle het na bewering besef dat Huddlestone die man wat vroeër by  hom gewerk het, herken het en daar is toe besluit om hom dood te maak.  Hy is verskeie kere in die kombuis met ’n mes gesteek en ook met ’n hamer teen die kop geslaan.  Die twee het daarna sy bene en arms vasgebind en hom na die slaapkamer gedra.  Volgens die patologiese verslag is hy toe weer met ’n lang mes agter die nek tot diep in sy bors gesteek.  Hy is daarna na bewering op die bed gegooi, weer met ’n hamer geslaan en met ’n duvet bedek.  Volgens Nogaga was hy baie bang en het na die moord van die huis af weggehardloop.  Hy en Khatshaza het egter weer teen laatmiddag teruggekeer om die motor te steel.  Volgens hom was hyself egter te bang om weer in die huis in te gaan en het toe by die straathoek in die bosse gewag.  Die silwer Toyota RunX is na bewering daarna in Blompark gelaat om die polisie op ‘n dwaalspoor te bring.  Volgens Nogaga is slegs R800 en ‘n selfoon tydens die moord gesteel. Die oorledene het ’n marteldood daarvoor gesterf.
‘n Landswye mensejag van meer as 4 jaar het gevolg totdat Khatshaza op 3 Oktober 2011 in Johannesburg gearresteer is. Hy is deur sy vingerafdrukke in Johannesburg opgespoor waar hy op parool was vir ‘n winkeldiefstalsaak in Diepkloof. Hy het sy halfbroer, Fundisile Majana, se naam en ID gebruik. Die plaaslike speurtak het sy spoor deur die hele land gevolg, maar hy het telkens daarin geslaag om die ondersoekspan te ontduik. Khatshaza moes volgens sy paroolvoorwaardes by die gevangenisowerhede aanmeld, maar is vroeër by sy blyplek aangekeer. Hy het ‘n bekentenis oor die moord  by  ‘n  landdros  in  Johannesburg  afgelê.
Die plaaslike  ondersoekbe-amptes, A/O Arno van der Merwe en Konst  Xolile Plaatjie, het die volgende dag na Johannesburg gereis om die beskuldigde te gaan haal. Die saak is die afgelope twee weke in die Hooggeregshof deur Regter J Bozalek verhoor. Advokaat Mkanyiseli Baliwe het namens die staat aangekla.
Volgens getuies het altwee beskuldigdes ‘n behoefte openbaar om hul harte oor die moord skoon te maak. Beide het hul na hul onderskeie arrestasies bereid verklaar om bekentenisse af te lê. Sélfs aan polisiebeamptes, wat hul net na die hof moes vervoer, tot by landdroste en hoë polisieoffisiere. Hulle was ook bereid om uitwysings op die moordtoneel te maak. Die twee het egter in die hof geen berou getoon nie en ongeërg voorgekom en  hul verdediging het in die Hooggeregshof aantygings van gedwonge bekentenisse, aanranding en intimidasie gemaak. Regter Bozalek het egter in ‘n binneverhoor beslis dat die getuies geloofwaardig was. Hy het ook vir kapt Danie Rautenbach en sy ondersoekspan gelukgewens vir hul deeglike werk en dat alle ondersoek-prosedures korrek gevolg is. Hy het gevolglik die beskuldigdes se bekentenisse as sulks vir hul verhoor aanvaar. Khatshaza en Nogaga het toe nie tot kruisverhoor ingestem nie en hul saak gesluit.
Die oorledene se broer van Franschhoek, Frans Huddlestone, het na die uitspraak gesê: “Ek is baie bly die skuldiges is gestraf. Dit bring berusting in die harte van die familie. Ek is ook trots op Rautenbach en sy span wat hul so goed van hul taak gekwyt het. Om vir Khatshaza in Johannesburg onder ‘n vals naam op te spoor was soos om ‘n naald in ‘n hooimied te vind.” Die hofsaak het volgens hom ou wonde oopgekrap. “Die uitslag regverdig egter die hartseer waardeur ons weer moes gaan.”
Francois de Jongh

Front page - 29 November 2012

Francois de Jongh

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Otto Bylmoord hervat

Otto Bylmoord hervat

Die staat se laaste twee getuies in die bylmoordsaak van Jan (Nugget) Otto het verlede week in die Strand se Streekshof getuig. Spr A/O Hayes en die hoofondersoekbeampte, Spr Kapt Danie Rautenbach, is na hul getuienis onder kruisverhoor geneem waa...

Gansbaai Courant
Fraternal ontbyt

Fraternal ontbyt

Gansbaai Ministers Fraternal het onlangs, onder leiding van die voorsitter, ds Dennis Naidoo, ‘n gesellige ontbytoggend geniet. Die geselligheid is goed bygewoon en die onderlinge samesyn het spontaan verloop.

Gansbaai Courant
VLV Nuus

VLV Nuus

Vertrou dat almal  'n baie geseënde Paasfees gehad het en dat almal uitsien na die laaste langnaweek.

Gansbaai Courant
DA Shows Its Multi Coloured Coat

DA Shows Its Multi Coloured Coat

The misconception that the Democratic Alliance is a political party for whites was blasted away at the DA Rally for the Eastern Region of the Western Cape in Hartenbos on Saturday (12 April 2014).

Gansbaai Courant
Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Ernst Toerien, ‘n NG Sending-predikant in Rusland het onlangs in Gansbaai saam met sy eggenote, Betsie en hul dogtertjie, Nadja (3) bietjie van Gansbaai se sonskynweer kom geniet.

Gansbaai Courant
Academia skitter op die Sportveld

Academia skitter op die Sportveld

Die afgelope naweek het Academia teen Swartberg Sekondêr rugby, netbal en sokker gespeel.

Gansbaai Courant