Aan al die hengelvriende wat hulle vakansie hier by ons gaan deurbring, baie welkom! Die logiese vraag is waar kan ons probeer hengel en waar staan ons die beste kans. Daar is soveel plekke wat die moeite werd is om te besoek en die moontlikhede om iets vir die pan te kry is baie goed.
Ek gaan plekke noem wat sal strek vanaf die Plaat tot by die Damme. Wil jy jou vlerke verder strek kan jy ook Hermanus besoek en anderkant die Damme lê nog plekke soos Struisbaai/Agulhus.
Ons begin dus by die Plaat, wat ook nog onderverdeel kan word, maar dan word die storie te lank. Niemand hoef die vooruitsigte by hierdie plek te verduidelik nie. Ek sou sê dat die groot trekpleister die mooi galjoene is wat hier te kry is. Nou eers ‘n vriendelike waarskuwing -- dis seker die lekkerste eetvis nog en indien jy nie al hierdie vis op ‘n rooster gehad het nie, maak seker dit gebeur wel in die toekoms, net nie hierdie vakansie nie want die hengelseisoen is nou gesluit. Jammer vir jou. Daar is darem ook kabeljou en steenbras te vang, asook ‘n paar ander spesies. Jou aas hier behoort te bestaan uit, mossel, rooiaas (oppas vir galjoen), krewels en bloedwurm met visaas as ‘n ekstra.
Nie al die plekke wat ek gaan meld sal dieselfde moontlikhede bied nie, maar dit gaan mos nie net oor die vis wat jy vang nie, ál hierdie plekkies is waar jy ordentlik kan uitspan en die see geniet. Ons volgende plek is Stanfordsbaai. Hier kan jy en jou gesin heerlik ontspan terwyl jy hopelik vir ‘n vissie gaan sorg. Baie mooi kabeljou, steenbras en galjoen is al hier gevang, hoewel die vis nie altyd so volop is nie.
Volgende is dit die omgewing by Danger Point/Kruismansbaai. By omtrent al hierdie hengelgate kan dieselfde verskeidenheid visse gevang word, terwyl die verskillende ase altyd ‘n voordeel bly. Dan kom ons by Kleinbaai, en daarna Rooikransies, Franskraal, en hier moet ek Haaiklip noem want dis hier waar elke hengelaar wat regtig wil probeer, sy kabeljou gaan probeer aankeer. Onthou om ordentlike, vars sardyn by jou aas te voeg. Soms word geelbek ook hier aangetref. Indien jy Haaiklip in die visier het onthou net dat spasie daar beperk is en elke hengelaar weet van die “gentlemans’ agreement” -- gun die ander man sy plekkie!
Die Gruis moet ook in dieselfde asem as Haaiklip genoem word. By die Wrak, en omtrent die hele omgewing daar is waar die kabeljou, met die regte water, gesig gaan wys. Moet egter nie vergeet dat ‘n mosselkraker enige tyd jou aas kan optel nie.
Nou gaan ons bietjie verder aan en volgende is daar Pearly Beach, wat geen bekendstelling nodig het nie, daarvoor is te veel groot visse al hier gevang. Dan nog kom Soetfontein en Platjieskraal. Bietjie moeilik om te bereik, maar beslis die moeite werd. Weer eens, plaas veiligheidshalwe die galjoen maar terug in die see. Buffeljachs, volgende op die lys, bied groter moontlikhede vir boothengelaars.
Dan kry ons die Damme, met Rietfontein wat daaraan grens. Dis ‘n paar kilometers om af te lê, maar die grotes kry jy daar! Goed soos daardie mosselkrakers waarvan hierbo melding gemaak is, kabeljou en al daardie soort visse waarmee menige hengelaar maar net oor kan droom.
Net ‘n laaste versoek -- ons praat maar almal van die omgewing skoon hou, kom ons doen iets daaromtrent.
‘n Wenk? Moet jou nie doodstaar aan hierdie plek waar jy ‘n vis behóórt te vang nie, dikwels is dit die kombinasie van die regte kleur water en die meegaande wind wat die deurslag gee, in dis dikwels nie die “gewone” plek wat almal aanbeveel nie. O ja, onthou tog jy benodig ‘n hengelpermit.
Gaan jy met ‘n boot hengel is dit weer ‘n ander storie, en dié gaan ek baie kort hou. Nommer een teiken is kabeljou. Die Franskraalomgewing sal ‘n goeie begin wees. Daar is ook geelbek (kos bietjie soekwerk), buiten baie ander soorte vis soos hotties en roman. Jy benodig ligte asook swaarder gereedskap.
Sukses word jou toegewens en hou lekker vakansie, wees ekstra versigtig vir die see.
Groete, Seemeeu
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More