Wanneer Van Donk sy kombers oor Tafelberg gooi en die mammies op hul hakke loop, is dit nie meer Hollands in die Kaap nie. Almal – behalwe die capies – se gesigte togmaar suur, maarwanneer s die Sedoos waai, kan jy maar ‘n lanferlap laat neerdaal oor die Kaapse strate en sypaadjies; almal lyk asof hulle op pad is, of pas terug is van die hartseerste begrafnis wat hulle ooit in hul lewens bygewoon het. En daardie begrafnis kry nooit klaar nie, dieselfde kis sak keer op keer saam met die nuwe suidoosvlaag die grond in. Die kermgesang word oor en oor herhaal.
Staan hierdie inwoners egter op ‘n glashelder dag in Tafelbergweg en besing die asemrowende uitsig or die stad en die hawe, is daar selde of ooit ‘n verwysing na Van Donk wat die grou miswolk oor Paardeneiland pas twee dae tevore die hemelsfeer ingeblaas het. Die Kaapse Sedoos is net so ‘n ekologiese wonder soos die bekroonde Tafelberg. Dis die mens in sy onvergenoegdheid en gemaksugtigheid wat hierdie wind nie na waarde ag nie. Sou hy op ‘n dag besluit hy is moeg daarvan om oor rots en krapperige fynbos berg-af te tuimel, sal die skone Kaap nie meer skoon wees nie.
Laat ons dus maar die oeroue man met sy bolwange eer en respekteer wanneer sy lang baard oor die tefel begin kruip. Dis min genoeg dat mens jou drif en frustrasies kan temper in ‘n passievolle omhelsing met ‘n lamppaal in Adderleystraat.
Menige bloed-Gautenger besweer enigiets wat aan die Kaap gekoppel kan word as komende uit ‘n heksepot. Vreemd genoeg is die Stormers nie bo-aan hul lys nie enkan dit maar as vir lief neem dat hulle sekerlik ‘n goeie motivering daar-voor het. Wat hulle die meeste grief is ons wind. Kan ‘n mens hulle daarvoor verkwalik? Hierdie mense stap uit hul huise binne-in hul motors en vanuit hul onderdak parkeerruimtes direk in hul kantore in waar hulle die hele dag deurbring. Vanaand volg hulle dieselfde paadjie terug tot in hul kombuise. Hulle weet eenvoudig nie wat wind is nie.
Naweke sal mens hul heel waarskynlik aan die soom van ‘n ertjiegroen, hiasint-begroeide dam onder ‘n lustelose boom aantref met die geblêr uit ‘n iewers nabye jonkmanskar en die geklingel van bierbottels . So gewoond is hulle aan die gedruis van die menigtes, ure se gesing van motorbande op asfalt, sirenes en taxitoeters, dat die sagte ritsel van ‘n speelwindjie deur ‘n boom se blare vir hulle ‘n oorverdowende irritasie is. Die enigste wind waarmee hulle wel handevat is die geruislose koelte van ‘n lugversorger wat terselfdertyd al wat kiem en allergeen is loswikkel en die beperkte kantoor- of voertuigruimte instuur op soek na ‘n teelaarde in een of ander hardwerkende neusgat.
Wind was vir my sinoniem met die oggendpap en huisgodsdiens waarmee ek grootgeword het. Die winterwind wat om die huis se hoeke gefluit het en die skuiframe soms gewelddadig laat rittel het – totdat dit knie gebuig het voor ‘n dawerende reënbui. Onder ‘n sagte kombers opgekrul in ‘n gemakstoel of voor ‘n kaggelvuur, kan ek die woord “storm” nooit parallel bring met wind nie. Terwyl ander rondom my heelnag wakker lê uit vrees dat iets onder die aanslag sal meegee, slaap ek met ‘n glimlag , kombers onder my ken ingewikkel, sielsalig in die arms van die windengel.
Selfs die maandelange suidoos is vir my ‘n vreugde. Hoe mis ek dit nie op windstil dae terwyl die kwik in die termometer na kookpunt se kant toe dwing nie. Enige lesing bo twintig grade maak van my ‘n platgevalde soufflé. Neem dan nog die wnd weg en ek raak ‘n eierlose soufflé. Nikswerd weggooigoed. My somerdeure en -vensters is altyd oop vir die lafenis wat oor die see aankom en soms ‘n bietjie van die Suidpool saambring.
Gee my die wind. Enige wind. Ek sal hom omhels en koester namens almal wat hom verwerp en sy stof opvee met diepe dankbaarheid. Die deure van my huis en siel is altyd vir hom oop.
Carien Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More