Nie die heelal se energiekste televisie-kyker nie, kom ek tog onlangs af op ‘n program van Supernanny wat ek jare gelede gereeld gevolg het. Totdat dit my so de vieste in gemaak het dat ek dit afgesweer het.
Vir my kleingoed was daar net een paadjie wanneer hulle regtig die grense ernstig oorgesteek het: badkamer toe met die hande plat op die bad se vloer. Menigmaal moes ek myself eers afkoel en instel vir dit wat my te doene gestaan het . En daardie gewag was vir die slagoffertjie/s erger as die straf self. Sal hy weghardloop of maar gedwee bly?
Die weghardloop-tegniek het wel kop uitgesteek. Die laaste woorde wat in ‘n witkoppie se ore gesing het terwyl hy die agterhekkie agter hom toegeklap het was: “Onthou net, jy moet een of ander tyd weer huis toe kom!” Ook dit, reken ek, was ‘n vreeslike swaard om oor die hoof, want hy het geweet wat Ma sé, dit doen ma.
Later het die bad plek gemaak vir die inkorting- of inperkingmetode. Om vir die duur van ‘n naweek in werf-arres geplaas te word, was verskriklik. Om te hoor hoe jou ma jou vriende aan die anderkant van die drumpel verduidelik waarom hulle nie mag inkom nie , sou seker ‘n paar ongemagtigde woorde die gedagtes laat inskiet het. Selfs toe die kinders al op pad was na volwassenheid, is hulle vir ‘n maand lank Die Stal, of enige ander Saterdagaand vermaak buite die grense van die werf ontneem.
Omdat hulle – volgens hulle estimasie totaal onredelik - ‘n uur later tuisgekom het as wat die ooreenkoms was. Soveel van soebat en smeek en telefoonoproepe van maats wat vir hulle in die bresse probeer tree het, het ek nog nooit, voor of na daardie maand, beleef nie. Verjaardae is aangebied; die laaste uitgaan van die vakansie; op tyd, Tannie, ons sal almal help toesien daarna; asseblief Tannie. Die meeste van hulle was afhanklik van die blou Cortina bakkie vir ‘n geleentheid Stal toe. Dit was hulle grootste motivering. Tannie se ore was horende doof en haar tong afgestomp van dieselfde storie oor en oor herhaal. Wie nie hoor nie, moet maar voel.
En dan kom Supernanny in ‘n huis waar die kinders op die meubels spring, goed rondgooi en in woedebuie die ouers te lyf gaan en vloek. Sommiges van hulle se koppe kom nog nie eens bo die tafelrand uit nie. Die oplossing: ‘n Naughty Chair. Al skoppende en spartelende word daai outjie nou sitgemaak, steeds gillend en skreeuend. Ma en Pa moet dit ignoreer en aangaan met dit waarmee hulle besig was asof die kind nie bestaan nie – vir ‘n volle twee minute. Of die kind nou daai stoeltjie se pote almal afbreek in sy tirade of nie, hy word in elk geval na ‘n minuut van sy sit onthef met die nanny wat hom dwing om hande om die Ma se nek te sit en jammer te sé. Skaars vyf minute later is dit dieselfde storie en nou is die ma of pa gatvol – wie sou nie wees nie. Die kind is kamer toe geneem totdat hy afgekoel het. Terwyl die ma die vorige orkaan se herstelwerk opruim, plunder die kind gillend sy eie kamer, wat die ma weer sal moet gaan opruim.
Kinders sal altyd kanse vat om te sien in hoe verre hulle beheer oor hul ouers kan uitoefen. En jammerlik slaag hopeloos te veel van hulle daarin.
As ‘n kind duidelik weet wat toelaatbaar is en wat nie en as hy meer geprys word vir elke klein dingetjie wat hy reg doen, sal hy presies dit al hoe meer wil doen instede daarvan om aandag te soek met vloermoere. Daar is nie ‘n geestes- en verstandelik gesonde kind in hierdie wéreld wat nie floreer op ‘n drukkie en aanprysing nie. Dit is wat van hulle sterk en gedissiplineerde volwassenes maak. Met, natuurlik, af en toe ‘n nodige en nie-wreedaardige raps met ‘n verduideliking. Enige tyd van ouderdom twee jaar af wanneer hulle al mooi verstaan wat jy sé.
Maar moenie sommer die stoutstoele wegvat nie. Gee dit vir die ouers. Hulle het dit soms meer nodig.
Carien Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More