Die verkeer staan vandag weer stil, dink Sophia as sy van die kerk af in Hoofstraat indraai.. Die Paasnaweek het nog nie regtig begin nie en die Kreefderby is eers môre. Sy vang vlugtig die beweging van wat na ‘n optog lyk, op pad dorp uit. Ag nee, al weer ‘n protes optog so op die langnaweek. In OK hoor sy hoe mense onder mekaar praat van die vreemde man wat net kom moeilikheid maak hier. Tyd vir luister het sy nie, want sy moet die laaste inkopies doen vir die troue wat môre op die plaas plaasvind en dan haar hare laat stileer.
Voorlaasjaar net voordat sy en Piet Kongo toe is, het dit al by die basaar op Baardskeerdersbos gegons oor ‘n man met velklere wat sommer in die veld bly. Op Rietfontein het ‘n paar vissermanne hom saam met ‘n paar plaaswerkers in die see agter die bamboes gesien. Ook by die ou skip is hy saam met mense in die see opgemerk. Kerneels Winkelhaak weet te vertel dat die man by hom op die land aangekom het en vir hom, Klaas Doppies en Kleinjan ‘n evangelie kom voorhou het en hulle genooi het om Kraaibosdam toe te kom waar hy hulle sondes van hulle sou afwas. Kleinjan het later vertel dat daar nogal baie mense onder die water gedruk is daardie dag, maar hy onthou veral die mooi jong man met die spierwitte klere. Die vroumense het hom onder hulle wimpers deur beloer, so mooi was hy.
Tussen waspoeier en hot cross buns gaan Sophia se gedagtes terug na die dag toe hy oor hulle eie werf aangekom het kombuisdeur toe. Sy was onmiddellik op haar hoede, maar stom van verbasing toe hy ongeërg by die twee Rottweilers op die grasperk verbystap en nie een van die diere reageer nie. Die fynbos van die Strandveld het aan hom vasgekleef en bruin bergwater het blink in sy sagte oë gekabbel oor die bokspoorpaadjies van sy songebrande gelaat. Sy moes net eenvoudig die sifhek vir hom oopmaak, sonder vrees of voorbehoud. “Sophia” - asof hy haar lank reeds ken - “ Ek weet jy en Piet gee gereeld van jul aardse besittings en geld aan die talle organisasies waaraan julle behoort, maar binnekort gaan hier ‘n man in die Strandveld aankom wat meer, maar tog ook baie min van julle gaan vra. Julle moet hom volg soos ‘n kind sy vader volg. “ Toe sy dit aan die etenstafel vir Piet vertel, het hy dit afgemaak as net nog ‘n vreemdeling wat probeer profeet speel.
Terwyl hulle in die Kongo was, het slegs een e-pos van Lydia melding gemaak het van ‘n nuwe man wat die Strandveld op horings geneem het. Met sy wit klere en riempiesandale kon mens hom nie miskyk nie. Hy is glo heel sag op die oog met sy lang hare, baard en ‘n vriendelike gelaat wat die lig van die son uitstraal. Sy stem is sag soos ‘n dagoud lam se pels en oral waar hy gaan, trek hy mense na hom toe aan. Mense beweer dat hy siekes gesondmaak en wonderwerke doen. Blykbaar het die Polisie hom reeds verskeie kere verwyder van plekke waar hy vir mense ‘n aanstoot was. Hy verdwyn dan om net later op ‘n ander plek in die omgewing sy verskyning te maak. Hy oornag sommer by enigeen, ongeag hoe eenvoudig die woning of hoe karig die kos. Op Buffeljagsbaai het hy almal wat in en uit die water was kos gegee van net ‘n paar vissies en brood. Sy volgelinge word by die week meer en hy het dit selfs gewaag om mense by Romansbaai te gaan doop. Terselfdertyd is daar ook mense wat met hom die spot dryf en hom selfs vloek wanneer hy in die publiek staan en preek. Hy staan egter vas daarby dat Hy hier sal bly totdat Sy taak afgehandel is, hier in die Hawe van God se Genade.
Dit is reeds na twee toe Sophia besig was om haar haarstilis te betaal. ‘n Opgeskote seun kom uitasem ingehardloop. “Hulle het hom aan die kruis vasgemaak daar naby Grootbos!” In die motor verduidelik die seun: “Dis die man met die wit klere. Hulle sé as hy nie wil hoor nie, sal hulle hom ‘n les leer. Oom Jaap Kierie het hom gister gesien berg uit gaan. Hy het lank daar by die letters van Gansbaai gesit, maar oom Jaap weet nie wat hy gedoen het nie.” Toe sy haar voertuig van die teerpad af stuur, trek digte wolke ‘n grou kombers oor die berg.
‘n Skemerte vou die Strandveld toe. En toe begin die hemel ween. Eers swaar druppels van hartseer oor hulle wat verkies het om nie te glo nie, maar later ook sagte trane van blydskap oor die handjievol siele wat die velleman se boodskap ter harte geneem het en bly wag het op die man wat al hulle sondes op sy skouers gelaai het.
Carien Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More