Groot prominensie is in mediadekking oor die Munisipaliteit Overstrand se konsepbegroting vir 2013/2014 aan die salarisse van die topbestuur en ook raadslede gegee.
Dit was gegrond op foutiewe aanduidings in die konsepbegroting dat die salarisvoorsiening vir die Munisipale Bestuurder en Direkteure met 14,2 persent sou styg, terwyl raadslede se vergoeding slegs met 1,3 persent toeneem.
Die Direkteur van Finansies, mnr Henk Kleinloog, bied sy verskoning vir hierdie foute aan, maar wys daarop dat die somtotaal van die begrotingspos vir salarisse korrek is en dat daar van die munisipaliteit se kant min gedoen kan word om hierop te bespaar omdat salarisse en lone deur prosesse buite die munisipaliteit se beheer bepaal word.
Wat die salarisse van die munisipale bestuurder en direkteure betref, het die fout ontstaan deurdat daar in die kolom vir die verwagte besteding vanjaar (2012/13) ‘n bedrag van R528 000 verkeerdelik onder “ander munisipale personeel” geallokeer was. Die implikasie daarvan is dat die voorsiening vir topbestuur inderwaarheid R8,238 miljoen in 2012/13 moes gewees het. Wanneer dit dan vergelyk word met die R8,803 miljoen wat vir 2013/2014 voorsien word, is die styging 6,9 persent.
By die raadslede se vergoeding vir 2013/2014 is die voorsiening vir selfoonuitgawes van R343 000 verkeerd geallokeer en as dit bygetel word, is die styging 6.2 persent.
Die proses om die salarisse en vergoeding van raadslede te bepaal, word in hoofsaak deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake kragtens die Wet op die Vergoeding van Openbare Ampsdraers gehanteer. Dit behels onder meer dat munisipaliteite volgens die totale munisipale inkomste (hulptoekennings uitgesluit) en die totale bevolking gegradeer word en dat die boonste limiete van die salarisse van die voltydse raadslede (Burgemeester, Onder-burgemeester, Speaker en Lede van die Burgemeesters-komitee) en deeltydse raadslede in lyn daarmee bepaal word. Die uitslag word in ‘n Staatskoerant gepubliseer en eers daarna kan ‘n raad die salarisse in oorleg met die provinsiale uitvoerende komiteelid vir plaaslike regering goedkeur. Dié proses word gewoonlik eers in Desember afgehandel. Dit is baie moeilik om vir sulke verhogings te begroot en as daar ‘n tekort is, word dit dan uit besparings op die salarisbegroting (ontoegewysde salarisse weens vakatures) befonds.
Die vergoeding van die munisipale bestuurder en direkteur is markverwant en ‘n onafhanklike vergoedingskonsultant word aangestel om dit te bepaal. Die uitslag daarvan kan nie deur die amptenare of die raad beinvloed word nie. Die metodologie wat so ‘n konsultant volg is om ‘n vergoedingsmodel vir senior bestuurders in plaaslike regering te ontwikkel op grond van data wat deur die munisipaliteit voorsien word, data wat hulle uit hul eie bronne kry en die gepubliseerde opnames van uitvoerende hoofde in Suid-Afrika soos in Maart van die bepaalde jaar. Dit word aangepas om vergoedingstendense in die arbeidsmark te weerspieel en dan statisties ontleed volgens die waardes van bepaalde posisies of groepe posisies en in die vorm van ‘n grafiek met persentiele aangebied. In Overstrand se geval word die mediaan gebruik, met ander woorde 50 persent van die proefsteek gaan meer verdien en 50 persent minder. Die uitslag van hierdie proses word eers einde April verwag. Alle ander munisipale amptenare se vergoeding word kollektief op nasionale vlak tussen die SA Plaaslike Regeringsorganisasie (SALGA) en die vakbonde beding. Kragtens ‘n multijaar-ooreenkoms wat verlede jaar gesluit is verhoog lone en salarisse vanjaar met ‘n persentasie wat gelykstaande is aan die gemiddelde styging op die Verbruikersprysindeks vir die tydperk van 1 Februarie 2012 tot 31 Januarie 2013, plus 1.25 persent. Die minimum loon verhoog ook met dieselfde persentasie as wat vir salarisse bepaal is. Benewens hierdie algemene verhoging, ontvang meeste amptenare ‘n jaarlikse kerfverhoging van 2,5 persent wanneer hulle ‘n jaar van goeie diens voltooi.
Fanie Krige
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More