Betogers het die afgelope naweek en die begin van hierdie week Masakhane op horings geneem deur elke aand opruiend op te tree. Groot skade, van tot soveel as R200 000, is tydens dié onwettige betogings aangerig toe toilette afgebreek is en klipgooiery voorgekom het.
Vullisdromme is ook stukkend gebreek en vullis in die strate gestrooi. ‘n Man is ook in hegtenis geneem nadat hy die ANC Rdl, Nqinata by haar huis met sy vinger voor haar voorkop gestamp en met ‘n gholfstok gedreig het. Hy het na bewering geëis dat sy moet bedank. Die verdagte het reeds in die hof verskyn. Die Munisipale Wetstoepassers en die SAPD het ‘n sterk teenwoordigheid gehad en daar is by geleentheid met rubber koeëls geskiet.
Die ontevredenheid spruit na bewering uit die goedgekeurde protesaksie van die Masakhane Inwonersvereniging op Dinsdag 23 April.
Tydens daardie geleentheid is ‘n versoekskrif aan die Uitvoerende Burgemeester van die Munisipaliteit Overstrand, Rdl Nicolette Botha-Guthrie oorhandig. Dit het 13 eise bevat waarvan slegs ‘n paar oor dienslewering was. Daaronder is ‘n nuwe gemeenskapsaal, ‘n toilet vir elke geregistreerde plakkershut, persele vir agterplaasblyers en ‘n groter kliniek. Verder is daar geëis dat hul verkose ANC raadslid vir Wyk 1, Rdl Nomaxesibe Nqinata, moet bedank, asook die munisipaliteit se behuisingsbeampte, mnr Aron. Daar word ook geëis dat transformasie en regstellende aksie toegepas moet word omdat die munisipale administratiewe personeel in Gansbaai hoofsaaklik wit is met net twee swartes.
Rdl Botha-Guthrie het op al die eise breedvoerig geantwoord, maar die organiseerders was klaarblyklik nie daarmee tevrede nie.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More