‘n Jong vrou van Blompark is die afgelope paar weke uit R24 000 geswendel. Janine* het aan die begin van die maand ‘n SMS ontvang waarin sy meegedeel is dat sy R250 000 in ‘n kompetisie gewen het. ‘n Nommer is verskaf wat sy moes bel. Die oproep is deur ‘n man met ‘n vreemde aksent in Engels geantwoord. Hy het Janine se selnommer gevra om seker te maak óf sy wel die wenner is. Hy het toe bevestig dat dit wel so is en ‘n verwysingsnommer gegee en gesê sy moet die vir niemand wys nie. Volgens Janine is daar aan haar gesê dat sy outomaties vir die kompetisie ingeskryf is toe sy ‘n simkaart gekoop en ge-“rica” is. Sy is later per SMS gevra om ‘n agent te bel vir verdere instruksies. Die Afrikaanssprekende agent, bekend as Linda, wou weet of sy die geld direk in haar bankrekening inbetaal wil hê en óf sy ‘n tjek sou verkies. Sy is later per SMS laat weet dat sy R1250 vir hanteringskoste by ‘n ABSA bankrekeningnommer, wat aan haar verskaf is, moes inbetaal. Sy het dit gedoen waarop nog R3820 gevra is vir regeringtoestemmingskoste om die geld van oorsee oor te plaas. Dié bedrag is ook inbetaal en ‘n sms het gevolg waar 5% van die wengeld (R12500) vir die Nelson Mandela Charity Foundation inbetaal moes word. Janine het gesê sy het nie die geld nie en Linda het laat weet dat sy die helfte self sou betaal. Janine het dit inbetaal waarna nog 10% van die wengeld, weer R12500, as agentekommissie versoek is. Dit moes binne 7 dae betaal word. Ook dié bedrag is oorbetaal, maar omdat naweke ook as werksdae getel is, was dit te laat. Linda het toe gesê dat dié R250 000 wel in Janine se rekening inbetaal is, maar dat dit weer uitgehaal is oor hul laat betaling. ‘n Nuwe rekening moes toe volgens Linda teen ‘n koste van R18,200-50 geopen word om die R250 000 te ontvang óf ‘n kansellasiefooi van R13000 moet deur Janine betaal word om haar inbetaalde R24000 terug te kry. Volgens Janine en haar kêrel stres hulle baie oor die geld want R12500 is by ‘n oom geleen. “Ek sal my motor moet verkoop om hom terug te betaal. Die mense het ook gesê ek kan hul nie bangmaak met die polisie nie, want hulle is ‘n wettige organisasie en het goeie prokureurs en advokate,” het Janine se kêrel gesê.
Janine het Woensdagoggend weer ‘n oproep gekry om die geld oor te betaal. Spr Kapt Danie Rautenbach het bevestig dat ‘n bedrogklag gelê is en dat dit ondersoek word. Hy het ook die publiek gewaarsku teen oproepe wat beloftes van wengeld maak.
*Die skuilnaam, Janine, is gebruik om die identiteit van die slagoffer te beskerm.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More