Vullisstorting kwel

Vullisstorting kwel

Gansbaai Courant

“Gansbaai is nou die vullishoop van die Overstrand en die reuse vragmotors wat daagliks met vol vragte vullis vanoor die hele gebied hierheen stroom is ‘n padgevaar vir motoriste. Die opstapeling van vullis so naby aan die dorp skep ook ‘n wesenlike gesondheidsgevaar.” So sê ‘n inwoner wie se siening algemeen beaam word.

Navrae wat in dié verband aan die munisipaliteit gerig is, is as volg beantwoord. Die besluit om huishoudelike vullis wat oor die hele Overstrand gebied opgewek en gekollekteer word na die Gansbaai stortingsterrein te vervoer weens die onvermoë om die streeksstortingsterrein by Karwyderskraal (geleë tussen Hermanus en Botrivier) te gebruik, was genoodsaak deur bepaalde omstandighede.  Die gebruik van Karwyderskraal vir die verwerking van vullis, bourommel en takke was hoofsaaklik beperk tot die woongebiede van Hermanus en Kleinmond terwyl die materiaal van Stanford, Gansbaai en Pearly Beach by die stortingsterrein in Gansbaai verwerk is.  Alhoewel ‘n formele ooreenkoms gesluit is met die Overberg Distriksmunisipaliteit (ODM) (eienaar, Karwyderskraal), het laasgenoemde in gebreke gebly om finansieel voorsiening te maak vir noodsaaklike uitbreidings aan die houvermoë van die fasiliteit. Die finansiële posisie van die Overberg Distriksmunisipaliteit het dit ook nie toegelaat om ‘n kapitale investering van ±R12m te finansier nie.  Die gevolg was dat die stortingsterrein teen die einde van Desember 2011 gesluit moes word.  Dit het Munisipaliteit Overstrand in die dilemma geplaas om alternatiewe verwerkingsfasiliteite te bekom en aangesien die stortingsterrein in Gansbaai die enigste geregistreerde fasiliteit was, het die raad besluit om dit as ‘n alternatief te gebruik tot tyd en wyl die opgradering by Karwyderskraal afgehandel is.
Volgens die Direkteur Infrastruktuur en Beplanning van die Overstrand, Stephen Muller, sou die lening wat die ODM kon bekom tot gevolg gehad het dat vullisverwyderingstariewe met 30% sou verhoog. Dit is deur altwee die plaaslike munisipaliteite, Overstrand en Theewaterskloof, wat hierdie fasiliteit gbruik het, afgekeur.
Die moontlikheid om die streeksfasiliteit van die Overberg Distriksmunisipaliteit oor te koop is ook reeds op die hoogste moontlike vlak met die Minister van Plaaslike Bestuur bespreek en ook hierdie poging het misluk.  Munisipaliteit Overstrand was intussen verplig om in die 2012/13 finansiële jaar ‘n bedrag van R7m te begroot vir die uitbreiding van die Gansbaai Stortingsterrein. Tenders is onlangs toegeken en die konstruk-siewerk het gedurende Maart 2013 in aanvang geneem.
Die rekords toon dat ongeveer 30 160 ton vullis wat vanaf Hangklip, Bettysbaai, Kleinmond, Hermanus, Stanford areas afkomstig is en ongeveer 14 040 ton vullis wat vanaf Gansbaai/Stanford afkomstig is gedurende die tydperk 1 Januarie 2012 - 28 Februarie 2013 by die Gansbaai stortingsterrein gedeponeer is.
Die dekkingsmateriaal wat tans gebruik word, is hoofsaaklik sand wat nie ten volle geskik is vir dié doel nie.  Die sand word egter gemeng met gesnipperde bome-/plantmateriaal om meer effektief te wees.  Alhoewel hierdie metode koste-implikasies het, verleng dit ook die lewensverwagting van die stortingsterrein, aangesien plantmateriaal wat baie spasie opneem, nou opgekerf en herbenut word.
Daar is as gevolg van die skielike sluiting van Karwyderskraal,  nie ’n studie gedoen om die impak op die R43 roete te bepaal nie.  Hierdie teerpad is die verantwoordelikheid van die Provinsiale Administrasie (Wes-Kaap).  Laasgenoemde doen gereeld verkeersmetings en die beplanning en begroting vir die opgradering van die pad tussen Hermanus en Gansbaai, is reeds etlike jare in die pyplyn.  Na verneem word, word dit tans as een van die hoogste prioriteite in die provinsie beskou en konsultante is reeds aangestel om die nodige impakstudies, ontwerpe en tendervoorbereiding te doen.
Die Gansbaai vullis stortingsterrein word nougeset volgens die permit voorwaardes wat deur die Departement van Waterwese en Bosbou uitgereik is, bedryf die prestasie van die kontrakteur (Enviroserv), wat tans verantwoordelik is vir die bestuur en bedryf van die Gansbaai stortingsterrein, word ook op ‘n gereelde basis gemeet.
Die tussentydse maatreëls soos hierbo verduidelik hou bepaalde negatiewe finansiële implikasies vir verbruikers van die Overstrand in.  Die omvang daarvan is uiteengesit in ’n voorlegging wat aan die raad gemaak is.
Die Munisipaliteit Overstrand het daarop gewys dat dit nooit die bedoeling was om plaaslike inwoners in verband met die omstandighede rondom Karwyderskraal te mislei nie – tewens herhaaldelike pogings is aangewend om inwoners op hoogte te hou van verwikkelinge.  Overstrand bepaal egter ongelukkig nie die vermoëns van die Overberg Distriksmunisipaliteit nie en kan ook nie aanspreeklik gehou word vir die ongemaklike posisie waarin Overstrand gedompel is nie.
Munisipaliteit Overstrand is steeds begerig om die tussentydse reëling  so gou doenlik te beëindig.  Ongelukkig word die munisipaliteit in die omstandighede gevange gehou in ‘n werklikheid uitgelewer aan die Overberg Distriksmunisipaliteit.  Die versekering kan egter gegee word dat Overstrand pro-aktief optree om te verhoed dat hy homself in die posisie van die Overberg Distriksmunisipaliteit bevind.  Dienslewering aan individuele huishoudings en besighede sal nie negatief beïnvloed word nie.
Die Overberg Distriks Munisipaliteit se onvermoë om die Karwyderskraal stortingsterrein te finansier en te bedryf maar steeds daaraan vasklou is onverstaanbaar.  Daar kan nou slegs gehoop word dat die Minister van Plaaslike Bestuur sal ingryp om hierdie sinnelose oefening te stop. Die Overstrand Munisipaliteit het homself al oor en oor bewys vir die standaard van infra-struktuur wat hier geskep word. Laat hom die bedryf van Karwyderskraal oorneem.                     
Francois de Jongh

Vullisstorting kwel

Hardus Botha

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Otto Bylmoord hervat

Otto Bylmoord hervat

Die staat se laaste twee getuies in die bylmoordsaak van Jan (Nugget) Otto het verlede week in die Strand se Streekshof getuig. Spr A/O Hayes en die hoofondersoekbeampte, Spr Kapt Danie Rautenbach, is na hul getuienis onder kruisverhoor geneem waa...

Gansbaai Courant
Fraternal ontbyt

Fraternal ontbyt

Gansbaai Ministers Fraternal het onlangs, onder leiding van die voorsitter, ds Dennis Naidoo, ‘n gesellige ontbytoggend geniet. Die geselligheid is goed bygewoon en die onderlinge samesyn het spontaan verloop.

Gansbaai Courant
VLV Nuus

VLV Nuus

Vertrou dat almal  'n baie geseënde Paasfees gehad het en dat almal uitsien na die laaste langnaweek.

Gansbaai Courant
DA Shows Its Multi Coloured Coat

DA Shows Its Multi Coloured Coat

The misconception that the Democratic Alliance is a political party for whites was blasted away at the DA Rally for the Eastern Region of the Western Cape in Hartenbos on Saturday (12 April 2014).

Gansbaai Courant
Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Ernst Toerien, ‘n NG Sending-predikant in Rusland het onlangs in Gansbaai saam met sy eggenote, Betsie en hul dogtertjie, Nadja (3) bietjie van Gansbaai se sonskynweer kom geniet.

Gansbaai Courant
Academia skitter op die Sportveld

Academia skitter op die Sportveld

Die afgelope naweek het Academia teen Swartberg Sekondêr rugby, netbal en sokker gespeel.

Gansbaai Courant