Eve Marthinus, Salie Cyster, Min Tina Joemat-Pettersson, Sammy Brett en Henry Dickson in 2011 tydens die oorhandiging van die nou gewraakte spooktjek van R15 miljoen in die Pretoriussaal.
Die staatsperlemoenplaas, wat op Dinsdag 11 Mei 2011 met groot vertoon deur Minister Tina Joemat-Pettersson in Gansbaai aangekondig is, is na Waenhuiskrans gekaap. Volgens die notule van verlede Donderdag se raadsvergadering van die ANC beheerde Agulhas Munisipaliteit gaan die Arniston Abalone Sea Cage and Hatchery projek teen R25 miljoen daar gevestig word. Die Departement van Landou, Bosbou en Visserye (DAFF) het hierdie ooreenkoms met die Agulhas Munisipaliteit bereik. Dit ten spyte van die feit dat Pettersson by die Pretoriussaalvergadering in Gansbaai aan ‘n volgepakte gehoor aangekon-dig het dat ‘n perlemoen broeifasiliteit met ‘n kapasiteit om 6 miljoen larwes (“spat”) te produseer in die hawegebied gevestig gaan word. Dit sal in staatbesit wees en ‘n departementele tjek van R15 miljoen is vir dié doel vertoon. “Dit gaan minstens 20 regstreekse werksgeleenthede skep met nog 300 werksgeleenthede wat indirek geskep sal word.
Ons het Gansbaai saam geïdentifiseer as een van die plekke waar ons oor 2 jaar altesame R25 miljoen gaan bestee aan hierdie perlemoen broeifasiliteit, asook wat ons noem ‘n “abalone sea cage operation.”
Dit word wel deur die staat besit maar as dit slaag sal dit jul eie besit word,” het Pettersson gesê. Sy het daardie Donderdag ook ‘n besoek by Struisbaai afgelê en die orige R10 miljoen daar oorhandig vir ‘n soortgelyke broeifasiliteit soos in Gansbaai.
Van haar beloftes wat in Gansbaai gemaak is het nou dadels gekom. Gemeenskapleiers is geskok oor wat hulle glo blatante leuens was wat daardie dag, saam met verniet kospakkies, opgedis is.
Die Courant het reeds in Maart vanjaar lont geruik en 'n epos in dié verband aan mnr Desmond Stevens, tans Adjunk Direkteur Generaal by DAFF, gerig. Hy het egter nie gereageer nie en na vele navrae gesê dat dit verwys is na hul media-afdeling. Daar was egter geen terugvoering nie.
Tydens die vergadering wat enkele dae voor die 18 Mei 2011 Algemene Verkiesing in Gansbaai gehou is, het Pettersson pertinent gesê dat dit nie 'n politieke vergadering in aanloop tot die verkiesing was nie. "Dit gaan oor die ekonomiese bemagtiging van die gemeenskap deur die beoogde perlemoenplaasprojek. Moenie sê die ANC kan nie 'deliver' nie," het sy toe gesê. Hierdie stelling word nou bevraagteken.
Die Overstrand se DA Uitvoerende Burgemeester, Nicolette Botha-Guthrie, is dié dag ook nie betrek nie en slegs die burgemeester van die Overberg Distriks Munisipaliteit, me Eve Marthinus, is genooi. Sy is tans die Speaker van die Agulhas Munisipaliteit. Daar is wel na die aankondiging met Overstrand Munisipaliteit in gesprek getree oor die beskikbaarstelling van grond en infrastruktuur vir die vestiging van die plaas. Twee stroke meentgrond van 3 hektaar elk is vir dié doel bokant die hawe geïdentifiseer en op tender geplaas. Tenders is reeds ontvang en word tans deur die munisipaliteit oorweeg.
Intussen gaan onderhandelings oor verskeie bepalings in die ooreenkoms tussen Agulhas as implementeerder van die projek en DAFF voort. Die hersiene Memorandum van Ooreenkoms sal na verwagting tydens 'n Spesiale Raadsvergadering op Dinsdag, 9 Julie voorgelê word vir finale goedkeuring. R2 miljoen sal beskikbaar gestel word vir die beplanningsfase en R23 miljoen vir die implementering. Die munisipaliteit sal grootliks in beheer wees van die projek en moet as fasiliteerder optree tussen die grondeienaar, die departement en die gemeenskap wat die meerderheid aandele moet hê. Volgens die notule sal 'n munisipale amptenaar die projek bestuur en sy salaris sal gesubsideer word uit gelde wat deur die departement vir die projek toegestaan is.
Die geskiktheid van die Waenhuiskrans kusgebied vir perlemoen, word deur plaaslike perlemoenduikers bevraagteken. "Die water is te warm en daar kom geen perlemoen natuurlik voor nie. Daarvoor moet jy wes van Aghulhas na Quin Point se kant toe gaan. Vra maar die "poachers" – ook dié van Waenhuiskrans. Die projek is daar gedoem nog voordat dit begin het," het Sammy Brett, Maandag gesê.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More