Ons huisie was klein, dog heel gemiddeld vir ons sosiale stand en oor-groot genoeg om ons huisgesinnetjie te akkom-modeer. Net in een opsig het dit tekortgeskiet: dit was te klein vir al die liefde. Dié het soms by deure en vensters uitgeborrel. Ook ‘n goeie ding, want so het ‘n mens geleer om dit waarvan jy te veel het, uit te deel aan jou medemens.
Wintertyd was ons tyd vir gee. Wanneer die kole rooi gegloei het in die Dover stoof se pens en elke klein vertrekkie met warmte gevul was, het die gesprek male sonder tal in die rigting gelei van hulle wat iewers koud, nat en honger probeer om te oorleef. Mamma se werk as dorpsverpleegster het haar uiteraard in noue kontak gebring met diesulkes. Haar vertellinge van ‘n ou man wat bibber onder net twee laphemde en ‘n klein babatjie in ‘n enkele handdoek toegedraai, was genoeg om enige dogterhart wyd oop te maak vir die behoeftes van ander. Om te dink ons poppe het warmer geslaap as daardie babatjie.
Saans as ek in die bed gelê het, onder drie Waverley wolkomberse styf onder my ken opgetrek, het dit my geteister. Ek het geluister na die wind en die reën teen die vensterruite en gewonder hoe dit gesteld was met ander kinders van my ouderdom. As daar net ’n pluislose handdoek oor was vir die babatjie, wat sou daar dan vir die ander, groter kinders wees om hulle warm te hou? Dan het ek vir Liewe Jesus gevra om hulle warmte te gee. Vir almal wat koud kry. Hoe, het ek vir Hom gesê, weet ek nie, maar ek weet Hy sal ‘n plan kan maak. Net tot die volgende dag, want dan sal ek probeer hand bysit.
Daar was nooit ‘n gebrek aan gee-goed uit ons beskeie huishouding nie. Iewers in ‘n kis op die solder was altyd uitkoms. Oorle’ Oupas en Oumas se klere, komberse, lakens en gordyne, want gordyne maak enige vertrek warmer, het Mamma gesê. Selfs die opgevoude bondels matrastyk wat al roeskolletjies opgehad het, is uitgewas en omgesoom of gelap, waar dit nodig was. By gebrek aan lapgoed of ons eie ou klere, was daar groot kastrolle sop of bredies om te gee.
Vooruitgang het egter altyd ‘n voet wat sleep. Altyd. Toe die getroue ou houtstoof met sy onbaatsugtige warmte moes plek maak vir ‘n gasstoof was ek hartseer-kwaad. Mamma en Sus wou gerief hê nadat Pappa oorlede is; hy was immers die een wat die stoof geskud en gestook het. Ek het gepleit en belowe dat ek dit self sou doen, solank as wat hulle net die ou swarte laat behoue bly vir die winter. Ek het nie gewen nie. Hulle ook nie. Só het hulle die eerste winter agtergekom. Al die geselligheid en die knusheid was daarmee heen. Die wit emalje stoof had niks vriendeliks in hom nie. Dit was nie sy werk om ‘n paar gewaste skoolsokkies wat in die komyntjie gehang is, dra-droog te kry vir die volgende oggend nie. ‘n Gloeiwarm lyf waarmee mens saans tussen koue lakens kon inklim het hy nie geken nie. Ook nie ‘n groot kastrol weggee sop wat die hele nag met ‘n effense warmte onder hom staan en krag trek het uit die sopbene nie.
Met die koms van die vooruitgang-stoof was ons opeens aan die ontvangkant van koudkry. Die bibber het diep uit jou beendere gekom tydens hoogwinter. Die twee-stafie elektriese verwarmertjie het ver tekort geskiet. Die wind het steeds verwoed gewaai en die reën steeds teen die ruite geklater. Voor my jaloerse verbeeldingsoog het ek ‘n gesinnetjie in ‘n klein vertrekkie saamgebondel gesien waar vlamme deur die gate van ‘n selfgemaakte verwarmer patrone teen die mure gooi. En ek het summier dankie gesê dat hulle hierdie slag die bevoorregtes was.
Terwyl ek laasweek een nag lê en luister na die komposisie van die stormwind buite, tref die mineur-toon my weereens. Fluite, trompette, viole, dis alles daar. In ‘n aweregse mineur. Wat ‘n mens nodig het om die winter volmaak te maak is die majeur van ‘n Dover stoof se rooiwarm gloed in ‘n gesellige klein huisie. En liefde vir jou medemens.
Carine Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More