Die bekende Varksnoet wat te sien is op die R43 tussen Hermanus en Stanford.
Die R43 provinsiale hoofpad tussen Hermanus en Stanford gaan oorgebou word tot die vereiste voorgeskrewe standaard.
Die pad is tans baie smal en die skouers smal en ongeteer. Die wydte van 6,4m gaan vergroot word tot 7,4m wat voorsiening maak vir twee bane van 3,7m elk.
Verder gaan daar aan beide kante van die pad geteerde skouers van 2m elk wees. Die vertikale en horisontale gradient van die pad sal so ontwerp word dat dit geskik sal wees vir sigafstand en gebruik teen 100 km per uur. Die stormwaterstrukture by Vogel-gat en die Kleinrivierbrug, asook ander laagliggende gebiede se dreinering sal ook verbeter word. Verder sal toegangsveiligheid tot die R43 verbeter word deur onveilige aansluitings te sluit en te konsolideer. Daar sal ook ‘n verkeersirkel by Stanford se ingangskruising gebou word. Die nuwe gedeelte sal vir eers vanaf Hermanus tot oorkant die sokkerveld voor die begin van die industriële gebied gebou word.
Hierdie opgradering van die R43 val onder die Weskaapse Departement van Vervoer en Publieke Werke en ‘n omgewingsimpakstudie sal gedoen word. Die opgradering van hierdie hoofpad sal voorsiening maak vir verbysteekgeleenthede wat die roete baie veiliger sal maak. Hopelik sal dié opgradering later tot by Gansbaai uitgebrei word. Dit sal, saam met die Gansbaai – Elim – Bredasdorp teerpad wat tans in sy laaste fase van konstruksie is, die gebied verder oopstel vir toerisme en ekonomiese groei.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More