Munisipale amptenare het verlede Vrydag en oor die naweek hul hande vol gehad met opruimingswerk en bystandverlening na wydverspreide skade deur die stormsterk wind aangerig is.
Volgens berigte het die Noordwester by tye ‘n spoed van sowat 117km/h bereik. Op Gansbaai is die dak van ‘n huis in De Villiersstraat Vrydag afgewaai.
‘n Ontbinde walviskarkas het naby die getypoel in Gansbaai uitgespoel. Die karkas word tans met kalk behandel, maar planne word beraam om dit van die rotse te verwyder. ‘n Treiler het van sy aanmeerplek in die Gansbaai hawe losgekom en op die rotse gestrand. Op Saterdag 17 Augustus is die pad na Papiesvlei verspoel en is daar gehelp om dit tydelik weer gangbaar te maak. Geen stormskade is op Stanford aangemeld nie.
Op Kleinmond is die meeste voorvalle aangemeld:
• Op Vrydag 16 Augustus is daar groot skade by die Laerskool Kleinmond (Hoofweg) aangerig toe ‘n tydelike klaskamer totaal deur die stormsterk wind verwoes is - eers is die dak afgeruk en later is die mure platgewaai. Geen beserings het voorgekom nie.
• Op dieselfde dag is ‘n boom in Nemesialaan, Proteadorp, ontwortel en moes die brandweer dit uit die straat verwyder.
• ‘n Gedeelte van die betonmuur by die dorp se rugbyveld is ook omgewaai.
In die Hermanus-gebied moes lede van die Brand-weerdiens bystand verleen toe dakplate Vrydag by ‘n huis in Vierdestraat, Voëlklip afgewaai is. ‘n Substasie in Tebelestraat, Zwelihle, is deur die wind beskadig en die toneel moes beveilig word. Heelwat probleme het ook op dieselfde dag in die gebied tussen Hermanus en Stanford voorgekom. Onder meer is ESKOM-kraglyne beskadig en was Lagoon Rock sonder krag, Die R43 moes ook tydelik gesluit word sodat bome wat oor die pad geval het, verwyder kon word. Op Sondag 18 Augustus het ‘n boom in Hawston omgeval en ‘n pompstasie vir die toevoer van water na die gebied beskadig. ‘n Gedeelte van die woonbuurt was tydelik sonder water. Reënval van altesame 97,5 mm van 7 tot 19 Augustus by die munisipale kantore in Hermanus gemeet. Die De Bos-dam loop al van Donderdag 8 Augustus oor en het vandeesweek steeds op 100,2 persent gestaan.
Fanie Krige
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More