Dis terwyl ek vir iemand in die dorp wag en my oog val op die silwerhaar-vrou agter die klein venstertjie in ‘n donker huis, dat my gedagtes na ouma Sagrytjie draai.
Ant Sagrytjie het oorkant die straat gebly, in die Ouhuis. Volgens my ma was sy baie kwaai; nie iemand by wie enigeen sommer ingeloop het vir geselsmaak oor niks nie. Haar kleinkinders in die huis langs hare het saam met ons grootgeword aangesien ons ouers boesemvriende was.
Die Ouhuis het ‘n lang, sonnige stoep gehad; een waar klein fietsies en driewiele met gemak kon draai. Sonder konsensie en met die wêreldmoedigheid van kinders rondom vier en vyf jaar het ons ons rygoed tydig en ontydig die stoeptrappies opgesleep om daar te gaan jaag, met al die nodige byklanke. Meer as een keer het dit gebeur dat Ant Sagrytjie die deur of venster oopgepluk het, nie om hande te klap vir die een wat voor was nie, maar om ons te laat skarrel soos hoenders met ‘n slang in die hok. Dit was nooit in my gedagte dat ek regtig eendag oor die drumpel van haar huis sou hoef te tree nie. Toe dit wel op ‘n dag gebeur, het ek ligvoet, versigtig agter die kleinste van die viermanskap gesluip, reg om om te vlieg en te laat spaander as die blok benoud raak.
Die kombuis was donker, met Ouma Sagry se silwer hare die enigste ligkol wat die vierruitvenstertjie van die komyntjie, skuins agter haar, kon vind om sy lê op te kry. Die warmte van die koolstoof het kompeteer met die reuk van anys en gis terwyl sy ‘n massiewe bondel deeg staan en rolknie het op die witgeskropte kombuistafel. Eenkant het twee vetgesmeerde paraffienblik-halwes gestaan en wag om met die afgekniegde deeg gevul te word. Op die hoek van die groot tafel het ‘n fles met ‘n bietjie vuil water gestaan, met die deksel opgeskroef. Bang om te vra, het ek versigtig nader beweeg om te kyk – nie te vat nie - toe sy haar rug draai om die oond se deur oop te maak. Terwyl sy ‘n ander halwe paraffienpan vol bultende, donkerbruin mosbolletjies op die tafel sit, antwoord sy my ongevraagde vraag: aartappelsuurdeeg. Dis wat sy vir haar brood gebruik.
“Het julle lus vir suikerbrood of bolletjies?” vra Ouma. Ek sê niks, want ek is ‘n buitestaander. My suster-maat besluit anders terwyl my mond water vir ‘n warm mosbolletjie met ‘n bietjie plaasbotter wat daarop wegsmelt. Ek ken nie suikerbrood nie. Sy haal ‘n kwart boerbrood onder ‘n brooddoek uit, plaas dit in die mik van die Voss No 12 broodsnyer en staan op haar tone om genoeg krag te vind om die lem deur die broodkorsie te kry. Twee keer, vir ons elkeen ‘n sny. Dan skep sy ‘n bietjie water uit die blink wateremmer, gooi dit in ‘n emaljebord en doop die snye brood daarin sodat net die een kant nat is.
Wanneer sy die suikerpotjie nadersleep en die suiker oor die klamsel begin strooi, gluur ek angstiglik na die mosbolletjies wat nou onderstebo op die bakdoek lê. Ek proe in my verbeelding die anyssaadjie wat onder my tande oopspring. “Toe, gaan eet nou buite” por Ouma Sagrytjie ons aan.
Ek borrel soos ‘n rookwolk by die deur uit met die klam stuk oubrood, dankbaar om nie ten aanskoue van die goeie gewer ‘n blaps te maak nie. Ewe vinnig verskoon ek myself en glip by die agterhekkie uit huistoe. Eers op eie werf waag ek die eerste byt. Die suiker knars onder my tande, gemeng met die suur van vrot aartappels wat klou aan ‘n tandbreek-harde korsie. Ga! Ek werp die snysel weg in die blou hawerland neffens ons huis. Die muise sal dalk dink dit is partytjietyd, maar ‘n mens moet sekerlik sterwenshonger wees om enige lekkerte hierin te kan proe.
Die aand aan tafel proe my ma se oubrood wat in eier gedoop is voor dit pangebak is, soos ‘n koningsmaal onder die draaisel Lyle’s goue stroop uit die groen blik.
En haar donker huis. Waarom was die oumense bang vir die lig? Was dit ‘n voortvloeisel van die vensterlose tent van die ossewa, of was dit hul soort van diefwering?
Carine Badenhorst
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More