‘n Deel van Uilenkraalsmond Vakansie-oord wat soos ‘n dam lyk wat met 12 wooneenhede omring is ná die onlangse stormwaterprobleme.
Die geweldige reën van die afgelope tyd het groot chaos en skade in die hele omgewing tot gevolg gehad. Veral plekke soos Franskraal, Uilenkraalsmond en Pearly Beach het behoorlik deurgeloop, terwyl skade ook in Gansbaai, Blompark, Masakhane en Baardskeerdersbos voorgekom het. Overstrand Brandweer se brandweermanne van Gansbaai Brandweerstasie het sover moontlik bystand verleen, water uitgepomp en sandsakke gepak waar voorkoming noodsaaklik was.
Gansbaai brandweerpersoneel besig met ondersteuning en hulpverlening.
Gansbaai Munisipaliteit se Afdeling: Operasionele Dienste, het alles in hul vermoë gedoen om behulpsaam te wees en om groter skade te verhoed. Tussen 28 Augustus en 3 September is 50+ vragte stormwater om wonings en uit dreine gepomp en in sommige gevalle moes selfs 2 trokke per woning gebruik word. Voorts is ernstige stormwaterklagtes deur eienaars van sowat 15 wonings in Gansbaai, Franskraal, Uilenkraalsmond, Blompark, Masakhane, Pearly Beach en Eluxolweni ondersoek waar die nodige bystand verleen is.
Van Uilenkraalsmond se strate is oorspoel.
In Uilenkraalsmond Vakansie-oord, wat nie Gansbaai Munisipaliteit se verantwoordelikheid is nie, het hulle daadwerklik ingeklim met die trek van stormwater tussen die wonings. Die westelike deel (regs vanaf Kraalkafee) het die ergste onder stormwater deurgeloop, met 12 wooneenhede wat erg beskadig is. “Ek is nie oor Uilenkraalsmond se reënwater bekommerd nie, maar wel oor stormwater vanuit Franskraal,” het Paul Venter, voorsitter van Uilenkraalsmond Buurtwag gesê.
Skade by Johnny Rockets oorkant Uilenkraalsmond
Paul het sy dank en waardering teenoor almal wat met die grawe van slote gehelp het, asook die munisipale amptenare wat alles in hul vermoë gedoen het om te help, uitgespreek. Paul se eggenote het interessante vergelykende reënvalstatistieke in Uilenkraalsmond vir Augustusmaand beskikbaar gestel: 2011 - 54mm, 2012 - 149mm en 2013 - 302mm. Jaargewys lyk dit so: 2010 - 518mm, 2011 - 694 - 2012 - 781 en 2013 (net Januarie - Augustus) - 811mm. Nog ‘n Gansbaaier wat sedert 1996 getrou na reënvalstatistiek kyk, is Jerry Oosthuizen. Hy sê in 2006 het hy gedink 154mm is ‘n rekord, maar Augustus 2013 het hy 192mm in Gansbaai gemeet. ‘n Inwoner van Baardskeerdersbos, Snoekies Groenewald (74), se huis het ook ernstig onder die water deurgeloop. Reënwater het in strome vanaf die berg gekom, verby die begraafplaas en deur sy woning gestroom.
Hardus Botha
Van Pearly Beach Kampterrein se strate het oorspoel.
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More