Wyle Koos de Kock van Franskraal wat onlangs oorlede is nadat hy behandeling ontvang het vir rookinaseming in sy huis
Die tragiese afsterwe van Koos de Kock (80) van Du Plessisstraat, Franskraal was ‘n hartseer skok vir familie en vriende. Wyle Koos het alleen gewoon en ‘n verwarmer in sy huis het aan die brand geslaan met verreikende gevolge vir hom.
Die voorval het op Woensdag, 4 September, vermoedelik tussen 15:30 en 19:30, plaasgevind. “n Gesinsvriendin, wat gereeld na my pa omgesien het, het vroeër die middag oudergewoonte by hom ingeloer en hulle het gesit en gesels,” vertel sy dogter, Chrissie (Christine) van Dyk van Great White Shark Tours. Chrissie het die volgende dag omstreeks 14:30 na haar pa gegaan, maar met die oopsluit van die voordeur met skok die pikswart vertrekke gade geslaan. Sy het die traliehek ook oopgesluit en na haar pa geroep, wat vanuit die boonste badkamer, waar hy in die bad gelê het, geantwoord het. Chrissie het die buurman, Thys Fourie gaan roep om te kom help. “Ek het besef daar is groot fout toe ek sien dat alles pikswart is en het hom uit die bad getel en probeer regop hou, terwyl hy baie gehoes het en swart vloeistof opgebring het,” vertel Thys. “Hy kon nog praat, maar was baie deurmekaar.” Overstrand Medical Response is ontbied en met sy aankoms het Cassie Carstens besef daar moet dringend opgetree word. Sy vennoot, Riaan Buys, het agtergebly en alles moontlik gedoen om die pasiënt te stabiliseer. “Ek was tevrede met sy toestand en hy het nog met my gekommunikeer terwyl ek by hom gewaak het totdat die ambulans opgedaag het,” het Riaan gesê. Koos is dringend na Hermanus Provinsiale Hospitaal geneem waar hy teen ongeveer 18:00 opgeneem is. “Hy het verskeie kere opgebring en sy toestand het versleg, maar my pa het steeds met my gekommunikeer,” het Chrissie gesê. Die volgende dag het sy toestand sodanig versleg dat hy per helikopter na Eben Dönges Hospitaal in Worcester gevlieg is. “Met sy aankoms in Worcester was hy reeds in ‘n koma en die volgende dag is hy oorlede,” het Chrissie gesê.
Die dokters het gemeld dat die gifstowwe nie uitgewerk het nie en dat hy aan nierversaking dood is, terwyl hy ook ‘n ligte hartaanval gehad het, vermoedelik as gevolg van sy hart wat oorwerk geraak het as gevolg van ‘n tekort aan suurstof. Thys sê hy vermoed Koos het opgestaan om toilet toe te gaan en per abuis die verlengkoord van die verwarmer raakgeskop, wat die verwarmer met sy vuurwarm spiraaldrade omgetrek het. “Toe hy terugkom van die badkamer af, het hy waarskynlik die vlamme gesien en teruggekeer badkamer toe en vir beskerming in die bad geklim.” Hy sê dit was ‘n seën dat die huis dig toegemaak was, wat suurstof buite gehou het, anders het die huis afgebrand.
Geen begrafnisreëlings kon met die ter perse gaan van hierdie berig gefinaliseer word nie. “Ek is deur die spesialiste in Worcester meegedeel dat die doodsertifikaat nie nou uitgereik kan word nie, aangesien hulle besig is met ‘n interne ondersoek, waarvan ek later in kennis gestel sal word,” het Chrissie gesê. Wyle Koos laat sy seun, Gerhard de Kock van Ashton, sy dogter, Chrissie van Dyk en 4 kleinkinders agter.
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More