Madelize Lourens
"Dit klink seker vreemd, maar ons is baie dankbaar oor die hofuitspraak in Maleisië. Madelize kon die doodstraf óf lewenslange tronkstraf opgelê gewees het, maar ons gebede is verhoor," het Madelize (29) se pa, Carel Lourens, gesê.
Carel en sy vrou, Susan, is op 9 Augustus 2011 verpletter toe hulle 'n oproep van 'n prokureur in Maleisië ontvang het, nadat hul dogter reeds 3 maande vermis was. "Jou dogter is op Kuala Lumpur se lughawe met baie gevaarlike dwelms gevang. Madelize is die afgelope 2 jaar en 1 maand in die Penjara Wanita Kajang gevangenis, wat sowat 21 kilometer vanaf die hoofstad, Kuala Lumpur, geleë is, aangehou. Sy het in daardie tyd verskeie kere in die hof verskyn. Vertoë is ook vroeër deur Madelize se prokureur tot die regbank gerig om die aanklag van handel in dwelms om te keer na die van besit. Dit het egter nie geslaag nie en die regter het gesê dat sy self die hof moet oortuig dat sy nie handel gedryf het nie. Madelize het toe verlede Donderdag haar hele weergawe in die hof getuig, waarna die regter die aanklaer en prokureur na hom toe geroep het en die aanklag van handel na besit omgekeer het. Sy is daarna gevonnis.
Gevangenisstraf van 15 jaar is opgelê waarvan 5 jaar asook die 2 jaar en 1 maand, wat reeds uitgedien is, afgetrek is. 'n Oorblywende tydperk van 7 jaar en 11 maande gevangenisstraf bly dus oor. Madelize sal egter na 2 jaar vir vroeë ontslag in aanmerking kan kom. As alles goed verloop kan sy dus oor 2 jaar óf selfs vroeër vrygelaat word en terugkeer huis toe.
Madelize se ouers het haar op Sondag, 6 Julie 2011 om 06:00 laas gesien toe sy by hul huis in Kerkstraat met 'n geleentheid weg is. Sy is oorhaastig en teen haar ouers se sin daar weg en 'n vriend wat haar kom oplaai het, het haar tot by Grootbos se afdraai geneem.
Daar het sy in 'n Bantambakkie met 'n Kaapse registrasie-nommer geklim en weggery. "Sy het aan ons gesê sy gaan na vriende in Johannesburg en ek het elke dag gebel. Sy het later gesê haar selfoon is stukkend en een van haar vriende se selfoonnommer aan my gegee. Dit is toe dat ek besef sy is landuit want my oproepe het sowat R80 vir 2 minute gekos," het haar pa gesê.
Buitelandse Sake se hulp is ingeroep wat vasgestel het dat Madelize die land verlaat het. Volgens hulle het sy met 'n kaartjie, wat deur iemand in Lagos, Nigerië, vir haar gekoop is, op 2 Augustus 2011 vanaf Johannesburg na Akkra in Ghana gevlieg.
Sy is op 9 Augustus in Kuala Lumpur gearresteer en 'n Nigeriër wat saam met haar was, is nie aangekeer nie en het teruggekeer na Suid-Afrika. Volgens Carel was Madelize 2 dae voor haar vertrek baie angstig. "Ek het vermoed dat sy geld aan dwelmhandelaars geskuld het en dat sy afgedreig is dat hulle haar familie iets sou aandoen as sy nie saamwerk nie," het hy gesê. Madelize se prokureur het gesê dat sy met 'n koffer met vals sypanele betrap is waarin 'n groot hoeveelheid dwelms versteek was. Dit is sonder haar wete deur kundiges daar geplaas en aan haar gegee om haar klere daarin te verpak. "Hulle het gesê dat my ou koffer te klein was," het Madelize wat werk in Maleisië beloof is, gesê.
Gelukkig is sy nie aangekla vir handel in dwelms nie, maar slegs vir die besit daarvan. Indien sy vir dwelmhandel aangekla was sou sy baie swaarder gestraf gewees het. Die doodstraf is al verskeie kere in die Ooste vir dwelmhandel opgelê, ook op Suid-Afrikaners.
Madelize, wat reeds goed in hul taal kan kommunikeer, word steeds in dieselfde gevangenis aangehou en word volgens haar goed behandel.
"Ek en Susan wil graag al die gemeentes van Gansbaai, asook landwyd, bedank vir gebede en ondersteuning. Ons glo dit het Donderdag tot die ommekeer in die hof gelei. Dit gaan nou beter met ons, daar is darem gelukkig nou lig in die tonnel," het haar pa gesê.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More