Eldo Marais se boot, My China, is hier gedeeltelik onder die water. (Sien ook Hengelrubriek 23Jan2014).
Die skipper van die ski-boot, My China, Eldo Marais en sy bemanning, Albert Potgieter, Johan Botes en Lu-Jean van Dyk, wat almal ervare boothengelaars is, het op Saterdag, 18 Januarie 2014 benoude oomblikke met ‘n sinkende boot op see beleef. “Ons is almal ervare skippers en boothengelaars en tog het die bona fide insident byna tot tragiese gevolge gelei,” vertel Eldo. ‘n Bona fide insident was dit gewis en dit kan aan geen vorm van nalatigheid of onverskilligheid toegeskryf word nie.
By monde van die Gansbaai-bemanningslede het die volgende gebeur: ‘n Groterige rubberboot het teen ‘n hoë snelheid baie naby aan My China verbygeskiet waar hulle besig was om vis te vang en daarna voortgejaag. Die groot golf wat veroorsaak is, het die boot onverwags oorstroom en die agterkant het bykans onmiddelik in die water weggesak, terwyl die boot skuins gehang het, met die enjines wat nie aan die gang wou kom nie. Een van die ski-bote wat in die direkte omgewing vis gevang het, het nader beweeg en die manne gehelp om oor te klim. Daarna het ‘n Tjokka-boot, die Southern Star wat NSRI se noodoproepe ontvang het, opgedaag met die manne wat weer oorgeklim het. Daarna het NSRI se reddingsboot opgedaag en die reddingsaksie oorgeneem. Hierdie gebeure is deur Reinard Geldenhuys, NSRI Aghulhas se Stasiebevel-voerder, in ‘n mediaverklaring bevestig: “‘n Oproep (Mayday) om hulp is om 07:20 op dié betrokke dag ontvang, maar daar was onduidelikheid oor die presiese ligging van die boot wat in die moeilikheid beland het nie. Terwyl ons vir die reddingsaksie gereed gemaak het, is alle bote in die omgewing tussen Struisbaai en Aghulas van die oproep verwittig. Die Tjokka-boot, Southern Star, was die eerste om te rapporteer dat hy op My China op die 12 myl bank afgekom het, sowat 16 seemyl vanaf Struisbaai. Met NSRI se aankoms by My China, het die bemanning van NSRI se reddingsboot die reddingsaksie oorgeneem, asook die insleeptou, waarna My China na Struisbaai Hawe gesleep is.”
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More