Verskeie inwoners van Franskraal was onlangs opnuut ontstoke oor die gevolge van honde wat nie deur hul eienaars agter ‘n omheining gehou word nie en dan in die strate rondhardloop. Inwoners in die omgewing van Dumasstraat en die eindpunt van Meyerstraat was geskok en woedend oor twee katte wat deur sodanige honde doodgebyt is.
“En dit is nie sommer rondloperhonde nie - ons weet wie die eienaar boontoe op in Maraisstraat is,” is onder andere gesê. Die katte behoort aan Cobie Stander en haar een kat is verlede week en Woensdag doodgebyt en die ander een hierdie week Maandag. “Sponsie is ‘n gemmerkat en was al 16 jaar oud, terwyl Fancy Face ‘n 6-jarige persiese kat is,” het ‘n hartseer Cobie gesê. Te oordeel aan die katte se ouderdomme, bestaan daar geen twyfel dat hulle soos kinders vir haar was nie. “Dit is nie asof die katte ver rondgeloop het nie, hulle is reg voor Cobie se woning doodgebyt,” het ‘n ontstoke Franskraler gesê. Nog ‘n ontstoke inwoner het gesê etlike van daardie omgewing se inwoners gaan stap soggens vroeg. “Ons ken die rustigheid van die katte en hulle is altyd in die onmiddelike omgewing van Cobie se woning en is nooit lastig nie,” het een van die gereelde stappers gesê. “Ons sien die twee honde gereeld wanneer ons gaan stap, ver van hul eie woning af, en dit gebeur gereeld dat hulle vir ons in die strate grom.” Gansbaai Courant het met sommige van die inwoners gepraat en almal gee dieselfde beskrywing van die honde: ‘n tipe boerboel/pitboel en ‘n hond wat soos ‘n husky/alsation lyk. Dit is ook bevestig dat die honde nie net soggens of saans daar rondloop nie, maar enige tyd. Gansbaai SAPD is ontbied en Cobie is vasbeslote om ‘n klag te lê, met die inwoners wat haar gaan ondersteun. “In die een geval het een van die honde se kettingtjie met ‘n naamplaatjie afgeval, wat aan die polisie vir verdere ondersoek oorhandig is,’ het Cobie gesê. ‘n Wetstoepasser van Gansbaai Munisipaliteit, het die aangeleentheid ondersoek en hy het die eienaar besoek. Die relevante verordeninge en wetgewing is aan hom oorhandig. Die honde is nou agter in die erf toegemaak en die eienaar het onderneem om Corrie om verskoning te vra en die saak te probeer skik.” Met die ter perse gaan van hierdie berig het Cobie egter gesê dat so ‘n besoek nog nie afgelê is nie.
Vele is al geskryf oor die probleem van loslopende honde, asook oor die moontlikheid van tragiese gevolge wat dit vir volwassenes en veral kinders kan inhou. Inwoners wat onseker is oor die moets en moenies met hul honde en katte, kan gerus die “By-law”, “Keeping of dogs and cats, P.N.6540/2008” by Gansbaai Munisipaliteit kry, asook die lang lys waarvoor eienaars beboet kan word.
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More