Die allemansvriend en mens, mens Boet Mouton (71) van Normandiestraat, De Kelders, is verlede Woensdagaand oorlede. Sy regterbeen is weens suikersiekte 40 dae vroeër, as gevolg van gangreen, geamputeer. Die wond het goed genees maar hy het steeds agteruit gegaan.
Boet het by Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en sy BA-graad in onder andere liggaamsopvoeding (LO) by US verwerf. Daarna het hy eers 'n onderwyspos by Hoërskool Voortrekker aanvaar maar later oorgeskuif na die Departement van Sport en Ontspanning. Hier het hy ook waardevolle werk gedoen totdat hy hom by die Nasionale Intelligensie Diens aangesluit het en in 1994 as Streeks Direkteur van Kaapland uitgetree het.
Hierdie werk het hom genoop om baie te reis en gereeld vir tye van die huis af weg te wees. Sy vrou, Roswitha, met wie hy vir 45 jaar getroud was, het dan die fort moes hou met hul twee kinders, Erna (Els) en Coenraad (Boetie). Erna het twee seuns, Jacques (17) en Werner (7), terwyl Coenraad se dogtertjie, Stella-Rose, 2 jaar oud is.
Erna woon in Hermanus en Coenraad werk by die Microsoft Hoofkantoor in Seattle (VSA). Boet was 'n gesinsman, 'n goeie pa, oupa en eggenoot. Hy het gehou van sport en het self gereeld fietsgery en oral langs die pad geselsies aangeknoop. Boet se roudiens is Vrydag om 15:00 by NG Kerk Gansbaai.
Francois de Jongh
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More