2012 Courant Terugblik

2012 Courant Terugblik

Gansbaai Courant

Januarie: Dit was ‘n geskiedkundige dag vir Gansbaai toe die eerste 55 matriekleerders van Gansbaai Academia in die dorp se bestaan van 100+ jare die akademiese jaar begin het. Daar is ook 200 graad 8 leerders ingeskryf wat dui op ‘n sterk groei in die skool se getalle. Sewe nuwe onderwysers is ook aangestel met Kobus Koekemoer as adjunkhoof. Die vermeende perlemoen-sindikaatleier, Frank Barends, wat op borgtog was, is weer gearresteer na ‘n reuse perlemoenvonds van sowat R2 miljoen naby Ventersburg. Barends se borgtog is ingetrek en hy is steeds in aanhouding. ‘n Rooikat het vroegoggend in Franskraal doodluiters in Dumasstraat rondbeweeg. Me Cobie Stander glo die rooikat was agter haar twee vet huiskatte aan. Die verdagte bylmoordenaar van skipper Jan (Nugget) Otto (45) is formeel vir die moord aangekla nadat sy alibi weerlê is.

Februarie: Gansbaai Marine het hul 50ste bestaansjaar gevier met die vlaghysing deur Tex Ritter, wat na 30 diensjare afgetree het. ‘n Verwoestende brand het in die Kleinrivier- en Akkedisberge naby Stanford gewoed. Die brand, wat by ‘n huis in Tesselaarsdal ontstaan het, het vir 4 dae gewoed. ‘n Brandweerwa het in die berg gerol en ‘n brandbestrydings-vliegtuig het naby die Pearly Beach vliegveld neergestort. ‘n Reeksinbreker, Sheldon Kleynhans (35) is 15 jaar tronkstraf opgelê vir inbrake by Danger Point, Kleinbaai en Franskraal. ‘n Inwoner van Pearly Beach het vier huisrowers, gewapen met 9mm pistole, ontglip deur deur sy sitkamerruit te duik. Anton Barnard (50) is lig beseer en het hulp by sy bure gekry. Arrestasies is kort daarna gemaak. Die stranding van die HMS Birkenhead 160 jaar gelede is by die Danger Point Vuurtoring herdenk. Die Valke het nog 5 vermeende lede van die Barends Sindikaat aangekeer. Christiaan Crous en Quinton Knoetze is gearresteer in verband met 10,198 perlemoen wat in September verlede jaar verlate op ‘n onbewoonde plaas, Modderrivier-Noord, op die R326 gevind is. Twee mans is dood en nog 16 ernstig beseer toe ‘n Nissan Sani-bakkie op die Gruispad naby Pearly Beach aan die brand geraak het. Die vermeende perlemoenstropers was met die bakkie en rubberboot onderweg en die beseerdes, baie met ernstige brandwonde, het oor 400 meter gestrooi in die pad gelê.

Maart: Ben Marais het die galjoenseisoen met ‘n knewel van 4,2 kg (59cm) geopen. De Kelders se fonteinwater word nou deur ‘n nuwe watersuiweringswerk ontkalk. Dit is goeie nuus aangesien warmwatersilinders en ketels nie meer so gereeld onklaar sal raak weens verkalking nie. Die wynproegilde het ‘n toer na Bonnievale onderneem en 3 wynkelders besoek. ‘n Vermeende tiksmous, Richwell Hart, is by sy skoonpa se huis deur ‘n man van Kaapstad, wat na bewering deur sy opposisie hierheen gebring is, in sy skouer geskiet. Die man het ontvlug en Hart wou die saak terugtrek. Die polisie het egter geweier en die saak gaan voort. Niveena Jantjies (gr 4) was die eerste leerder van Laerskool Gansbaai wat die afgelope 12 jaar in die Wes-Kaap Atletiekspan opgeneem is en die SA Skole Atletiekbyeenkoms bygewoon het. Sy is ‘n gewigstoter. ‘n Luukse passasiersboot, MS Clipper Odyssey, het die oë laat rek toe dit vir ‘n paar dae net buite Gansbaai Hawe voor anker gelê het. Haar 128 passasiers het die omgewing verken.

April: De Kelders se nuwe watersuiweringswerke is in gebruik gestel. Die werke ontkalk die natuurlike fonteinwater van De Kelders en Klipgat. Laerskool Gansbaai se Kreef Derby is in die wiele gery deur reën en wind en daar is nie wins gemaak nie. “Gelukkig kon al die krediteure darem betaal word,” het die organiseerder, Chrizülene van Niekerk, gesê. Nog 5 mense, waaronder die beweerde perlemoen-sindikaatleier, Frankie Barends se vrou, Josephine, is aangekla vir rampokkery. Hulle sal nou in Februarie 2013 saam met die ander 26 beweerde sindikaatlede in die Kaapse Hooggeregshof tereg staan. Tanja Botbyl het die gesogte Kanseliersmedalje as beste student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie ontvang.

Mei: Gemoedere in Masakhane het opgevlam toe die Spesiale Polisie Eenheid (TRT) van Operasie Seekat daar toegeslaan het. Dit het gelei tot massaprotes en klipgooiery in die omgewing van die polisiestasie. Die moordondersoek van skipper Jan (Nugget) Otto (45) het ‘n dramatiese wending geneem toe die moordverdagte, Johan Julies, se houvrou ook vir die moord aangekla is. ‘n Groot Withaai is in die Nuwe Hawe opgemerk. Gansbaai Marine het ‘n Opedag gehou na klagtes oor erge lugbesoedeling tot die Premier van die Wes-Kaap gerig is. Die inligtingsvergadering was goed bygewoon en die aanbieding daarvan is positief ontvang. Die situasie sal in die toekoms streng gemonitor word. Drie lede van die “Barends-sindikaat” is ná pleitooreenkomste met die staat gevonnis. Al drie is effektiewe tronkstraf van tussen 5 en 2½ jaar opgelê. ’n Volledige skelet van ‘n volwasse Suidelike Noorkapper walvis is aan die dakbalke van die Great White House Restaurant in Kleinbaai opgehang.

Junie: ‘n Groot Withaai het by Dyer Eiland uitgespoel. Die haai het geen tekens van beserings gehad nie en dit is uiters seldsaam dat hierdie tipe haaie uitspoel. Dyer Island Conservation Trust het die haai gaan haal en na Kleinbaai geneem vir ontleding. ‘n Voertuigskut is in Onrus geopen deur die Minister van Gemeenskapsveiligheid, mnr Dan Plato. Die doel daarvan is om padveiligheid te bevorder deur onpadwaardige voertuie te skut.

Julie: Die gemeenskapsfees, die Fees van die Ganse wat ten doel stel om Gansbaai en die Overstrand as ‘n winterbestemming te vestig was ‘n groot sukses. Die Fynbosskou was ook weer eens ‘n groot treffer. Die Otto-moordverhoor het in die Strand se Streekshof begin. Die twee verdagtes, Mariaan Nobles en Johan Julies, word daarvan aangekla dat hulle vir Jan (Nugget) Otto in sy bed met ‘n byl vermoor het. Skokkende onthullings was dat ‘n 8-jarige seuntjie die moord aanskou het. Hy het in-kamera in die saak getuig. Die gemeenskap is met afgryse vervul toe ‘n Bullmastiff waghond by die stortingsterrein gesteel is en sy oë uitgesteek is. Die hond moes uitgesit word.

Augustus: Die omgewingsimpakstudie van die beoogde nuwe residensiële ontwikkeling, Khoisan-baai is op provinsiale vlak goedgekeur. Die ontwikkeling is aangrensend aan De Kelders en Walkerbaai Natuurreservaat en sal bestaan uit 472 residensiële geleenthede wat groepbehuisings- en enkel residensiële erwe insluit. ‘n Fratsongeluk het die lewe van ‘n Gr 12-leerder, Wiaan Hamman van Gansbaai Academia geëis. Hy het by Hermanus se nuwe hawe tydens ‘n hengeluitstappie verdrink. Uilenkraalsmond het na maande oopgespoel. Stormsee het ‘n vissersboot wat in die Nuwe Hawe voor anker gelê het, losgeruk. Die Libra is teen die rotse te pletter geslaan. Wilfred Chivell het die Burgemeesters Wisseltrofee vir Omgewingsbewaring ontvang. Die burgemeester het gesê dat hy deur sy maatskappye, Marine Dynamics en die Dyer Island Conservation Trust daarin geslaag het om kommersiële toerisme-ondernemings na ‘n nuwe vlak van operasionele verantwoordelikheid te verhoog. Wayne Gabb van Lomond Wynlandgoed se Sauvignon Blanc en Shiraz is onderskeidelik met platinum en goud bekroon.

September: Drie dwelmsmouse en nog 12 mense is by ‘n padblokkade naby die plaas, Stanford Valley, kortby Stanford vir die besit van dwelmmiddels gearresteer. Die plaas het ‘n musiekfees aangebied. De Kelder se nuwe, unieke walvisuitkykpunt voor op die rotse by Cliffstraat is in gebruik geneem. Die waaksaamheid van Stanford se polisiebeamptes het gelei tot die konfiskering van twee voertuie en 8087 perlemoen op die Salmonsdampad. Gansbaai Academia se eerste Matriekafskeid was ‘n vonkel geleentheid wat terdeë deur die 53 matrieks geniet is.

Oktober: Zolani Menziwe (36) wat voorheen by Gansbaai se Sopkombuis gewerk het, is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Juliet Haw (43) in Voëlklip, Hermanus. Die vermeende perlemoensindikaatleier, Frankie Barends, se pogings om na ‘n jaar in aanhouding borgtog te kry, het finaal skipbreuk gelei toe dit deur die Hooggeregshof afgewys is. ‘n Bruiloffees in Pearly Beach het tragies geëindig toe die bruidegom se broer, Jakobus Müller in ‘n motorongeluk in die dorp gesterf het. Marine en Kusbestuurbeamptes en die Watervleuel (Operasie Seekat) het 18 duikers by Fynbos in Romansbaai aangekeer. Bykans 10,000 perlemoen is binne ‘n paar dae in verskeie operasies gekonfiskeer. Die bekende afgetrede wynmaker van Franskraal, Helmie de Vries, is deur Veritas as een van 2012 se Veritas Legendes vereer.

November: Die langverwagte en bekostigbare behuisings GAP projek aan die berg se kant van Buitekantstraat en langs die industriële gebied, gaan binnekort realiseer. Die projek maak voorsiening vir 155 GAP-eenhede terwyl BNG-eenhede (“hophuise”) uit die voorstel onttrek is. ‘n 25-Jarige vrou, Candyn Edwards is 05:00 die oggend deur ‘n inbreker in haar slaapkamer in De Kelders oorval. Sy is deur twee mans gedreig en vasgebind. Hulle het kontant, haar selfoon en bankkaarte gesteel. Werkers van Atlantic Abalone het deel geword van die stakingsgier in die Landbousektor en mynbedryf. ‘n Sterk polisieteenwoordigheid en streng optrede het verseker dat dit nie totaal handuitruk nie. Tonne plaaslik gedroogde gekonfiskeerde staatsperlemoen is by Overberg Commercial Abalone Divers Limited in Gansbaai se Ou Hawe gesteel. ‘n Groot hoeveelheid daarvan is egter teruggevind toe ‘n verdagte Quantam minibus by Voëlklip voorgelê is. 58 Handkratte wat 36,929 gedroogde perlemoen is in die voertuig gevind en 3 Kaapse mans is gearresteer. Die twee martelmoordenaars van Piet Huddlestone (65) wat in Julie 2007 in De Kelders wreed vermoor is, is lewenslange gevangenisstraf opgelê.

Desember:  ‘n Huisroof in De Kelders, waar Peet Neethling om 02:00 twee keer met ‘n skerp voorwerp oor die kop geslaan is, het tot ‘n mensejag en arrestasie gelei. Die verdagte het ‘n valsnaam gegee, maar sy werklike identiteit is later deur sy vingerafdrukke bepaal. Hy is ‘n veroordeelde moordenaar en word ook verbind met ‘n gewapende roof in Mitchells Plein. Morkel van Niekerk is aangewys as Mnr Spar Wes-Kaap.                                                 

Francois de Jongh

2012 Courant Terugblik

Francois de Jongh

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Otto Bylmoord hervat

Otto Bylmoord hervat

Die staat se laaste twee getuies in die bylmoordsaak van Jan (Nugget) Otto het verlede week in die Strand se Streekshof getuig. Spr A/O Hayes en die hoofondersoekbeampte, Spr Kapt Danie Rautenbach, is na hul getuienis onder kruisverhoor geneem waa...

Gansbaai Courant
Fraternal ontbyt

Fraternal ontbyt

Gansbaai Ministers Fraternal het onlangs, onder leiding van die voorsitter, ds Dennis Naidoo, ‘n gesellige ontbytoggend geniet. Die geselligheid is goed bygewoon en die onderlinge samesyn het spontaan verloop.

Gansbaai Courant
VLV Nuus

VLV Nuus

Vertrou dat almal  'n baie geseënde Paasfees gehad het en dat almal uitsien na die laaste langnaweek.

Gansbaai Courant
DA Shows Its Multi Coloured Coat

DA Shows Its Multi Coloured Coat

The misconception that the Democratic Alliance is a political party for whites was blasted away at the DA Rally for the Eastern Region of the Western Cape in Hartenbos on Saturday (12 April 2014).

Gansbaai Courant
Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Rusland se Sendingegpaar kuier hier

Ernst Toerien, ‘n NG Sending-predikant in Rusland het onlangs in Gansbaai saam met sy eggenote, Betsie en hul dogtertjie, Nadja (3) bietjie van Gansbaai se sonskynweer kom geniet.

Gansbaai Courant
Academia skitter op die Sportveld

Academia skitter op die Sportveld

Die afgelope naweek het Academia teen Swartberg Sekondêr rugby, netbal en sokker gespeel.

Gansbaai Courant