Dis nou Saterdagoggend en ek het so pas oor die radio verneem van die rooigety in Port Elizabeth. Daar is die waterremperatuur ‘n verstommende 28 grade en die gevolg van die rooigety is die uitspoel van dooie seediere soos vis, ens.
Hier by ons is ook ‘n soortgelyke gety waargeneem maar sover bekend is daar nog nie enige verliese nie en ook is die gety tot nou toe nie skadelik verklaar deur enige verantwoordelike persoon nie. Die temperatuur is onlangs by ons as 22 grade aangegee, ook nie juis gerusstellend nie!
Meeste mense is sekerlik bewus wat hierdie rooigety behels en ek gaan op ‘n baie eenvoudige manier probeer verduidelik hoe die ding inmekaarsteek. Alle skulpvis en mossels moet, indien die giftige variasie van rooigety voorkom, vermy word.
Sommige organismes lê gewoonlik dormant op die seebodem totdat hulle met ‘n opwaartse stroom na die oppervlakte gebring word. Die ideale omstandighede hiervoor is die regte temperatuur en hoeveelheid lig. Dit veroorsaak hul ontkieming. Die opbloeing van plantaardige plankton (fitoplankton) veroorsaak dan rooigety. Dit gebeur gewoonlik in kusgebiede. Die giftige variasie kan die dood veroorsaak van skulpvis, perlemoen, wit- en swartmossels en oesters. Die vinnige vermeerdering en afsterwe van die alge kan ‘n geweldige tekort aan suurstof in die water veroorsaak wat weer visvrektes tot gevolg kan hê. Aan die weskus gebeur dit gereeld dat krewe op die strand uitstap op soek na suurstof.
Indien vergiftigde skulpvis geëet word, kan simptome tussen een en vyf uur voorkom na voedselinname. Dit kan selfs die dood veroorsaak.
Sekere soorte plankton maak nie skulpdiere dood nie maar word in die mossel geberg en maak dit giftig vir menslike gebruik.
Ek wil herhaal dat met die verskyning van die Courant daar geen waarskuwing was wat die rooigety hier by ons as gevaarlik verklaar het nie en hierdie skrywe net gedoen is om te verduidelik hoe dit ontstaan. Hopelik is daar nie rede tot kommer nie.
Op ‘n baie ligter noot:
Dit het gebeur toe Piet van Zyl besluit het om by Haaiklip te gaan hengel met sy amperbootjie.
Dit was al laterig en agter in die boot lê drie mooierige kabeljoue wat so pas gevang is. Meteens verskyn hierdie mensvreterhaai, hy’s agressief en dis net plons en duik en die water om die bootjie kook en raas soos die haai tekere gaan. Piet besluit om te vries en sien of die haai hom nie maar wil uitlos nie. Net so skielik is daar ‘n doodse stilte, maar vir hom klink dit bra onheilspellend -- hierdie onnatuurlike doodsheid. Dís toe dit gebeur -- ‘n harde slag weerklink die donkerte in, en Piet se hart gaan staan amper.
Dis egter een van die lewende kabeljoue wat so skop agter in die boot. Die haai het toe seker al die aftog geblaas. Piet sê dit het baie lank gevat om die boot behoorlik skoon te kry, en sê hy, hy’s klaar met die nagvangery!
Seemeeu
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More