Die omgedopte haaikykboot, Shark Team, kom in Gansbaai Hawe aan nadat drie toeriste op 13 April 2008 verdrink het. (Argieffoto: Gansbaai Herald, 16 April 2008)
Die reddingspoging tydens die 2008 Haaikykboot-tragedie.
Die hofsaak teen die haaikyk-onderneming, White Shark Projects, waar die weduwee van een van die oorledenes ‘n eis teen die onderneming ingestel het, duur steeds voort in die Wes-Kaapse hooggeregshof.
‘n Eis is deur Sarah Tallman van Amerika, weduwee van Chris Tallman, een van die oorledenes, teen die skipper, Grant Tuckett en White Shark Projects, wat die haaikyk-boot, Shark Team, bedryf het, ingestel.
Chris Tallman, wat op daardie stadium 34 jaar oud was, was een van drie toeriste wat tydens die haaiboot-tragedie naby Dyer Eiland op die boot, Shark Team was, wat op 13 April 2008 omgeslaan het en hulle verdrink het.
Sarah voer aan dat sy en haar man binne gemeenskap van goedere getroud is en dat sy geregtig is op 50% van sy boedel, wat by sy aftrede sowat R48m sou wees. Voorts voer sy ook aan dat daar nie genoeg gedoen is om die ongeluk te voorkom nie, en/of dat daar nie behoorlik seker gemaak is dat alle passasiers gered sou kon word nadat die boot omgeslaan het nie. Hierdie aantygings is deur Grant Tuckett en White Shark Projects ontken. Die hofsaak word ook beskou as ‘n saak wat onder andere die perke van vrywaringsvorms, wat vooraf onderteken word, gaan toets.
Wyle Chris Tallman en sy eggenote, Sarah, op hul troudag in 2007 in Mexiko.
(Foto: Die Burger, 14 Februarie 2014)
Daar was 19 mense aan boord toe die 11m boot onverwags deur ‘n reuse brander, wat skielik tussen die 2m hoë deinings opgedoen het, getref is. Chris Tallman (34) en sy beste vriend, Casey Scott Lajeunesse (35), asook ‘n Noorweër, Kenneth Roque (37) het tydens die tragedie verdrink. Destyds is berig dat nog haaibote naby die Shark Team op anker gelê het. Koos de Kock, Veiligheidsoffisier van Kleinbaai-hawe, het toe gesê dit is ‘n wonderwerk dat die ramp nie nog groter was nie. Die boot van White Shark Diving Company wat op die toneel was, se bemanning het summier opgetree en begin om van die mense uit die water te red. Twee toeriste wat ook op die boot was, het reeds in die hof getuig. Hulle is die Bloemfonteinse egpaar, Hendrik (‘n voormalige Cheetahs-rugbyspeler) en Marili Meyer. In haar getuienes het Marili gesê dat sy van die begin af op haar senuwees was omdat die weerstoestande nie vir haar goed gelyk het nie. “Toe ‘n groot brander tussen die hoë deinings op die boot breek en dit omslaan, was ek paniekbevange en bang ek sou verdrink,” het sy getuig. “Ek het my oë oopgemaak en alles was donker. Ek moes ‘n ent swem om by die oppervlakte uit te kom.” Sy het ook na haar eggenoot verwys wie se enkel erg gesny was en “vreeslik” gebloei het. Sy het getuig dat hulle eers later die aand oor die radio gehoor het dat drie persone vermis word. Die voormalige Gansbaai Herald se joernalis, Hannie Marais, het destyds berig dat die slotsom waartoe gekom is ná die haaiboottragedie wat Gansbaai op daardie noodlottige Sondag getref het, ‘n geval is van “Op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”
Hardus Botha
'n Reuse golf kom aangerol nét na die Shark Team getref is en omgeslaan het.
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More