Paul Steyn, van wie se regterbeen geamputeer is, is hier op die punt om vanaf Gansbaai verder na Kleinmond te stap vir fondsinsameling vir mense wat nie kunsledemates kan bekostig nie
Paul Steyn het op 17 Maart 2014 met ‘n staptog vanaf Agulhas na Kleinmond begin en op Vrydag, 21 Maart in Gansbaai aangekom - met ‘n kunsbeen, nadat sy regterbeen in 2000 as ‘n 13-jarige skoolseun direk onder die knie geamputeer is.
Hy en sy oom, Fritz Harmse wat hom op die staptog per motor vergesel, het vir die naweek in Gansbaai oorgebly. Op Maandag, 24 Maart het Paul weer in die pad geval - op pad na Kleinmond. “Ek beoog om op 27 Maart in Kleinmond aan te kom, waar ‘n spesiale gholfdag vir fondsinsameling vir my gereël is,” het Paul gesê. “Ek het al sowat 4,000km gedurende die afgelope twee jaar te voet afgelê en hierdie staptog is bedoel as ‘n oefensessie vir my om teen Augustusmaand vanaf Durban na Kaapstad te stap.”
Nadat hy die amputasie ondergaan het, is Paul terug skool toe, maar is later as gevolg van familie-probleme na die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom oorgeplaas. Ná skool het hy verskeie pogings tot verdere studies aangewend, maar is telkens weggewys omdat hy as dislekties gediagnoseer is. Later is hy deur Boland Kollege toegelaat om te studeer en het hy ook op die Studenteraad gedien, waar hy vir gemeenskapsprojekte en fondsinsamelingsfunksies verantwoordelik was. “Dit is daar waar my passie vir gemeenskapsbetrokkenheid ontstaan het en het ek later die Paul Steyn Foundation gestig,” vertel Paul.
“My hoofdoel daarvoor was om ‘n bewusmaking vir geamputeerdes onder mense te kweek en om, met my staptogte, fondse vir die maak van kunsbene vir geamputeerdes wat dit nie self kan bekostig nie, in te samel.” ‘n Moedige jongman, wat nie gaan lê het nie, maar homself tot voordeel van andere aanwend.
Belangstellende ondersteuners vir hierdie saak kan na Paul se webtuiste, paulsteynfondation.org.za gaan kyk, of stuur vir hom ‘n e-pos by info@paulsteynfoundation.org.za.
Hardus Botha
Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.
View Profile
What is Xplorio?
Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read More