Kepser en Kilkam

Kepser en Kilkam

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

My redakteur het by ‘n paar geleenthede sy wenkbroue gelig tydens die deurlees van my kopieë vir plasing. As litirêre digter was my woordgebruik sporadies vir hom ‘n sooibrand-oomblik. Dit het ek agtergekom sommer met die eerste keer toe hy  my oor die telefoon gevra het: “Watse woord is dit hierdie?” Aanvanklik het ek verduidelik en uiteindelik maar bes gegee met die twyfel wat maar nie uit sy stem wou verdwyn nie. “Verander dit maar na jou goeddunke.”

Elke keer wanneer ek dus ‘n my-woord gebruik het, het ek verwag dat die foon sou lui. Al het dit dan tog nie gebeur nie, het ek steeds geweet wat in sy kop aangegaan het. En dit was bevestig wanneer ek die plasing in die koerant gelees het en my woorde verander was. Ewe skielik was dit vir my ‘n vreemde geskrif; dit was nie wat ek geskryf het nie.

Die keerpunt het gekom by die woord “mooituin”  wat sonder my medewete verander was in “mooi tuin.” Daar bestaan nie so ‘n woord in die woordeboek nie, verduidelik hy. Dis twee verskillende begrippe, verduidelik ek; mooituin in hierdie konteks, is iets soos ‘n sielstuin – wat sekerlik ook nie ‘n woord was wat mens in ‘n Afrikaans woordeboek sou kry nie, maar ‘n begrip wat heel verstaanbaar  verduidelikend was. ”Mooituin” was genadiglik die wit vlag.

Die vorming van nuwe woorde is ‘n toelaatbare vryheid vir skrywers. Audrey Blignaut gebruik “ons laat ons bepommel,”  “dit druk my tot  dunpap” en “soos ‘n ander mens lekkergoed of biltong of ‘n smolletjie teen sononder soek” om maar net ‘n paar te noem uit haar bundel Die Plesierboom. Dit is dus maar ‘n geslaglyn-ding, hierdie nuwe woorde wat ons maak. Dit is deel van die Strandveldse woordkultuur wat in ons vassteek.

Ook Andre P. Brink maak hom in Anderkant die Stilte “skuldig” aan onnaspoorbare woorde. “...hare, onegalig met ‘n kombuismes afgeherm.” Eintlik is ek glad nie ‘n Brink-leser nie. Sy soms blatante kruheid vermeng met die litirêr-genialiteit van sy styl, verwar my. Wanneer ek dan regtig ‘n poging aanwend om my hogere Afrikaans op te knap en ek lees woorde soos afgeherm raak, kry ek so ‘n warmte van lekkerkry in my. Dit laat my sommer verbeel ek kan die hele boek deurwurg op soek na nog sulke vrye woorde. En hoe meer ek daarvan vind, hoe groter my respek.

Toe ek onlangs heel toevallig op die elektroniese weergawe van ‘n Graad tien tot Graad twaalf Afrikaans handboek afkom, het ek my verstom aan dit wat die leerders aangebied word. My eie Afrikaans handboek in Matriek het gelyk soos Afrikaanse Woordelys en Spelreëls en die enigste genres waarin ons skryfvernuf getoets was, was met opstelle en briewe. Vandag word kinders geleer en getoets in bykans elke skryf-genre waaraan ‘n mens kan dink. Dit vergoed vir die gebrek aan ellelange lyste van idiome, versamelings, sinsbou, spelling en korrekte gebruik van leestekens wat ons destyds ingedril is.

Kyk ek na die kriteria van Afrikaans Ekspo vir Leerders kom ek eers werklik tot die besef watter vaardighede deesdae in skole aangebied word.  Hoe absoluut wonderlik sou dit gewees het om hierdie kennis in my hoërskooldae te kon opdoen.  Indien ons destyds enigiets  meer met Afrikaans wou doen as om dit te kon praat, luister en in die algemene omgang te kon skryf, moes ons verder gaan leer. ‘n Klein persentasie van matrikulante is gelukkig genoeg om die formele werkarena te betree, maar vir die minder gelukkiges is daar soveel moontlikhede om tog nog ‘n eie inkomste te genereer.

Alhoewel leerders aangemoedig moet word om kreatief te skryf, met die oog op moontlike toekomstige selfversorgendheid, moet hulle egter ten sterkste vermaan word teen die gebruik van bargoens, koeterwaals en jargon. Verengelsing, bende- en groeptaal is nie verkoop-Afrikaans nie. Die gesonde gebruik van nuwe woorde is egter aanvaarbaar en verleen ‘n unieke element aan die skryfstyl van ‘n outeur. ‘n Mens kan net raai dat Audrey se pommel ‘n verbuiging is van “pommade” en Andre se afgeherm afgelei is van “hermiet” gedagtig aan die haarstyl van iemand wie se hare met ‘n kombuismes afgesny is. 

Nuwe woorde is ook nie omdraaiwoorde nie. Niemand gaan uitwerk dat kepser eintlik “respek” en kilkam eintlik “maklik” is nie.

 Carine Badenhorst

Kepser en Kilkam

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed Verminder

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...

Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Vertonings

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Verton...

Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Ka...

Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.

Dorp Raak Al Vroliker

Dorp Raak Al Vroliker

Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.