Hengelnuus

Hengelnuus

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Niks nuuts op die hengelfront nie en daarom die volgende storie wat ons noem:  Wat ’n keuse!

Clive en Wally  --  dis nou twee vriende van my en J.C., Clive se sesjarige seun, was saam op die rubberboot en hard besig om kreefnette te trek toe dit gebeur het.

Laat ek eers verduidelik  --  albei van hulle kom van Gauteng se wêreld, maar die feit dat hulle albei vakansiehuise besit in die Kelders het gemaak dat die soutwater hul are binnegedring het. Sodoende het hulle heelwat ondervinding opgedoen ten opsigte van kreef uithaal en hengel.

Die keer sou ietwat verskil van dié waaraan hulle gewoond geraak het.

Clive is die een wat steeds nie vriende gemaak het met seekatte en seeslange nie, terwyl Wally, sê maar, versigtig is. Ek moet meld dat terwyl die kreefnette gelig word hierdie dierasies gewoonlik reeds plek daarin bespreek het, dus is dit nie ongewoon om hulle redelik gereeld in die nette te vind nie.

Wally het geskipper en dit was Clive se werk om die nette op te trek.

Die gevolgtrekking waartoe die leser teen die tyd sal kom is dat Clive van die genoemde dierasies in die nette gevind het en groot sou skrik. Reg  --  maar lees verder!

Toe Clive die net oor die kant van die boot wou lig, het hy dadelik die seeslang daarin gewaar. Kyk, Clive mag ander goed wees, maar “stupid” is hy nie. Die net word buite die boot in die lug gehou sodat die slang self kan besluit dat die seewater ‘n beter opsie is as om met drie Gautengers in ‘n boot te beland!

Toe slang se kind die water tref, word die net ingelig en op die dek van die boot laat sak  --  en dis net hier waar slang nommer twee besluit om nader kennis te maak en sommer direk na Clive begin seil. Clive het soos ‘n seekat blitsig van kleur verander (net valer, en gouer natuurlik). Aangesien hy glad nie belang gestel het in nadere kennismaking met so ‘n slymerige gedoente nie, gryp hy die gaffel en begin wild en wakker haak na die slang.

Kyk, die man is ‘n hoogs opgeleide ingenieur, maar moes met al die opgewondenheid vergeet het dat wanneer jy iets naderhaak, die afstand kleiner word en nie groter nie. Eintlik het dit nie gebeur nie want soos die slang nader kom het Clive gerittereer. Wat hom seker meer verbouereerd gemaak het was Wally se onbeheerste gelag en J.C. se luide instruksies aan hom.

Nou ja, spasie in ‘n boot is beperk en mettertyd was daar geen verdere beweegruimte nie. Wally vertel wat hy toe gesien het was ‘n paar stokstywe bene, ‘n gaffel wat nog wild haak en ‘n lewensgordel wat almal saam in die see neerplons. J.C. skree vir sy pa om te swem en Wally (ook maar skrikkerig vir die slang) probeer deur sy gelag verhinder dat die gaffel die rubberboot sy lug ontneem. Clive is ‘n uitstekende swemmer, maar ‘n gaffel en ‘n reddingsgordel (wat hy gedink het deel van die boot was en aan wou vasklou) het die swemmery meer na ‘n gespartel laat lyk.

Die geskreeu om hulp het Wally, ‘n groot gentleman, altyd besorgd oor ander mense, vir Clive laat verstaan dat die slang nog steeds in die boot is, en wil hy nie maar veiligheidshalwe in die water bly nie? Wou seker nie die kans waag dat Clive van verdere skrik weer terugspring in die water nie.

In moeilike tye kan Clive met enige matroos meeding wat swets betref en hy het Wally gou laat verstaan dat ‘n haai by hom groter respek afdwing as ‘n slang en sal hy hom nou asseblief die boot inhelp?

Op die ou einde is die lastige seeslang wel verenig met sy ander seegediertes en het die drie Gautengers weer vrede met mekaar gemaak. Al probleem bly om die storie feitelik oor te dra  --  daarvoor lag Wally steeds te veel, en Clive? Het glo “geheueverlies”. J.C. vertel niemand swem so vinnig soos sy pa nie. 

Groete, Seemeeu

Hengelnuus

Seemeeu

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed Verminder

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...

Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Vertonings

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Verton...

Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Ka...

Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.

Dorp Raak Al Vroliker

Dorp Raak Al Vroliker

Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.