As die molle stoot

As die molle stoot

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Toe Florence Nightingale haar in Februarie 1837 onderwerp  het aan,  soos sy dit ervaar het, haar Godsbesluit om te verpleeg, was haar familie nie daarmee gediend nie. Sy moes trou en kinders kry; dis wat jong meisies doen. Om aan die hand van ‘n verpleegster-ma groot te word, was eweneens ook nie  grappies nie.

Oral waar ons in die openbaar verskyn het, het  mense vir Mamma toegetakel het met hul skete en kwale. In haar gestyfde wit uniform – die eerste van baie waarin ek haar oor amper dertig jaar gesien het - met die snaakse knopies, die hoekige, wit sluier en die donkerblou en rooi mantel wat met ‘n kruis voor oor die bors vasgemaak het, was sy Florence Nightingale. Die bietjie vrye tyd wat sy gehad het, het sy aan haar kinders en die kerk gewy.

 Mamma het self erken “’n verpleegster is nie altyd die beste ma nie.” Wanneer ander moeders lankal met ‘n koorsige kind by die spreekkamer sou inhardloop, het ons swetend  gebibber totdat die koorspen se kwik op  honderd en vier grade Fahrenheit gaan staan het. Eers dan was dit ernstig.

Die behandeling was meeste van die tyd eenvoudig: ‘n enema. ‘n Skoon kolon beteken ‘n gesonde liggaam. Geen koorsige kind het gehou van die wit emmertjie met louwarm seepwater en die gepunte rubberpypie met die ballonpompie nie. Daar was geen omdraaikans nie, maar omdraai moes jy wel, sodat jou grootderm volgepomp kon word. Die volheid het jou oorgeneem, tot barstens toe, sodat jy gewonder het of dit bo by jou keel gaan uitkom. Jou wange het sommer vanself al bol gemaak. Al wat jy wou hê was verlossing, maar ook dit het hulle jou gemaan om in te hou. Die beloning vir al die ongemak was ‘n verligting van al wat koorsige kiem was vanaf jou sinusse tot onder - of so het dit gevoel.

Die ander narigheid waarmee ons moes saamleef, was die koelbloedige detail van ongevalle, wat gewoonlik aan die etenstafel oorgedra is. Verbrande kinderliggaampies, gapende messteek-wonde, grys kadawers en bloederige ongeluk-slagoffers het ‘n paar dubbelslukke geverg om ‘n bord geurige kos in te kry. Wanneer ons protesteer het, het Mamma gesê: “Ag, dit is nie so erg nie, dis maar dinge wat gebeur.” Hiermee, glo ek tot vandag toe, het sy maar net, in haar alleenheid as enkel-ouer, gepoog om ons voor te berei en te waarsku teen die aweregse kant van die lewe.

Op die boekrak was ‘n stuk of ses mediese handleidings wat uiters leersaam was. Aan die hand hiervan kon ons as ontluikende tieners die vrae vra wat andersins sekerlik net vrae in ons koppe sou bly. Die leesstof wat my die meeste geboei het, was egter die MIMS medikasie handleiding. Ek kon ure tussen die blaaie deurbring. Destyds was dit deel van my grootword-milieu; vandag maak dit min sin, behalwe miskien die genetika wat daartoe aanleiding gegee het dat my kind ‘n aptekers-assistent van beroep is.

Darem nie al ons geselsies was ernstig van aard nie; daar het heerlike staaltjies ook uit die spreekkamer gekom. ‘n Man het pille gesoek omdat die tokkelossie hom snags aanval. Hy is huistoe met ‘n ronde, wit kartondosie met sewe onskadelike kalsium-pille. Na ‘n week was hy terug. Hy soek nou ‘n dubbele dosis, want die tokkelossie het hom darem gelos, maar pla nou snags sy vrou. ‘n Ander man moes vir die eerste keer in sy lewe ‘n inspuiting kry en is sommer teen die toonbank staangemaak met ‘n kaal boud. Die steek van die naald kon hy verduur, maar toe die branderigheid kom, glip hy al gillende onder die naald uit, straat-in, met sy broek op sy knieë en ‘n halwe dosis antibiotika in sy lyf.

Die beste onthou-storie kom egter uit ons eie geweste. Nadat ‘n oom van Boesmansrivier op hart-medikasie geplaas is, word hy huistoe gestuur met Dokter se uitdruklike bevel om meer aktief te wees. Tydens ‘n kliniekbesoek op Baardskeerdersbos, gaan doen Dokter huisbesoek by die oom en vind hom op die stoepbankie, skeef-leunend op sy kierie.

In antwoord op die vraag na sy oefenprogram, antwoord die oom: “Ja, Dokter, ek is bedrywig, ek sit elke dag hier en kyk hoe dit molle stoot.”  En sy hart hou dit!  

Carine Badenhorst

As die molle stoot

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed Verminder

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...

Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Vertonings

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Verton...

Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Ka...

Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.

Dorp Raak Al Vroliker

Dorp Raak Al Vroliker

Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.