R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Iewers net anderkant haar doekjare het my man aan ons dogtertjie die romantiek van ‘n wensbeentjie geleer. Vir maande daarna het ons, ter wille van hulle gerem aan die tafel, net heel hoender geëet. Daarna, wanneer ‘n hoender uitmekaar gesny is, het sy bygestaan om toe te sien dat die wensbeentjie tog net heel bly. Met haar mondigwordingspartytjie het sy vlugtig gehoop op wensbeentjies op die tafels. Gelukkig het dit nie ingepas by die Egiptiese tema nie. Voor haar huwelik het die ou beentjies weer ter sprake gekom, maar ek het dit nie op die spyskaart gehad nie. Die afgelope Sondag sit sy weer – of nog steeds – langs haar pa met die wensbeentjie-storie. “Pa, hoe werk dit nou weer?”
Soos wat ek dit verstaan is hoenders lank voor die geboorte van Christus deur die Romeine vereer as waarsêers. Omdat die hen haar eier met ‘n kekkel kon aankondig en haan die opkoms van die son kon voorspel met sy kraai. Voortvloeiend uit hierdie status, is hulle vermoëns aangewend om die toekoms te voorspel.
As ek nie my hande op promosieblaaie kan lê nie, kan ek hoenders inspan om my te sê waar ek die beste kopies gaan kry. Dis net ‘n kwessie van ‘n sirkel op die grond teken, dit opdeel in die letters van die alfabet en ‘n mieliepit by elke letter gooi. Die hoendertjie wat ek in die middel van die sirkel neersit, sal dan vir my die winkel uitpik.
As hy die eerste pit uit die “O” area oppik, weet ek ek moet OK toe gaan. Pik hy eerste die “S” se pit, moet ek Spar toe gaan. En dan neem ek aan dat as sy krop vol is en hy vlieg uit die sirkel sonder ‘n pik, is daar geen specials wat my beursie pas nie. Of so iets.
Die Romeine het hulle waarsêer-hoendertjies aan die gode geoffer en die wensbeentjies drooggemaak vir die verdere verwesenliking van drome.
‘n Ander bygeloof is die waarde wat aan ‘n hoefyster geheg word vir die magiese krag as gelukbringer. Uiteraard moet dit met die oop kant boontoe gehang word om die geluk te kan opvang en hou.
Al wat ek van ‘n hoefyster onthou, is dat ek as kind een opgetel het op my oom se plaas in Suidwes. Die volgende dag was Dingaansdag en ons sou as ‘n familie op ‘n naburige dorp of plaas ‘n FAK-liedjie gaan sing. Met die oudste nefie agter die stuur van ‘n ou Mercedes, is al nege van die niggies en nefies vort terwyl die grootmense in die nuwe Mercedes gevolg het.
Tydens die terugrit in die donker, het my oog iets aan die bestuurder se kant van die motor sien beweeg. Ek kon nie uitmaak wat dit was nie, net dat dit saam met ons beweeg het. Skielik het ‘n deursigtige, wit, gemantelde ruiter, kompleet met ‘n hoed op, voor ons oor die pad gejaag en aan die ander kant in die veld verdwyn.
Almal was yskoud van skok; ‘n paar omdat hulle beweer het hulle dit ook gesien het, die ander van die skielike aanslaan van die motor se remme. Ek kan nie onthou dat ek ooit gehoor het of dit ‘n koedoe was, of ‘n hersenskim van my songesteekte brein nie. Dalk was dit die spook van die perd waarvan ek die hoefyster opgetel het. Met my geluk het ek dit onderstebo neergesit. By die huis het ek heel eerste die hoefyster gaan haal en dit die nag in weggegooi voordat ek die glas suikerwater gaan drink het wat my ma reggehou het.
My geloof is dieper gesetel as in ‘n hoender se bors of onder ‘n perd se poot. Tog is die roep van die Digteby ‘n onaanvegbare bewys dat kuiergaste op pad is. Dit werk net so. Elke keer. Daardie voëltjie sien ver. Hy weet dat ‘n spesifieke voertuig wat verby Klipfontein of om Boetiesbaai se draai aankom, hier voor die wit huis gaan kom stilhou. Dit bly vir my ‘n enigma. Ek het hom al telkemale gekonfronteer en sy vergesigte besweer, maar hy bewys my elke telkens verkeerd.
Nou wonder ek: is die Digteby versiende, of is ek bygelowig – wat ek nie wil wees nie?
Carine Badenhorst
Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.