R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...
Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
‘n Post mortem is ‘n nare affêre om aan te dink. Dis nou as jy nie ‘n patoloog of ‘n dokter is nie, want vir hulle is dit soos skaapslag vir ‘n boer is, met die uitsondering dat die boer die skaapkop op sy eetbord gaan sien. Selfs my verpleegsuster-ma kon ‘n mondelige oorsig van ‘n outopsie langs die etenstafel lewer dat die fyngekookte ertjies in die ertjiesop begin rank maak in ‘n mens se keel. Vir haar was die grillerige hospitaal-ervaringe so alledaags dat sy eers met die aanblik van ons grys gesigte besef het sy het die skalpel laat glip. Destyds was post mortems nog nie so algemeen nie. As die dokter ‘n dood gesertifiseer het met rede as natuurlike oorsake was dit uit en gedaan. Vandag is geen dood meer natuurlik nie, so kom dit my voor, want al wat ‘n oorledene is, word blykbaar gedissekteer voor ter ruste legging. Organe word uit ‘n gapende liggaamsholte verwyder; een word diekant toe gegooi en die ander daai kant toe. Monsters word geneem en in skyfagtige houertjies verpak vir latere ontleding, of sommer net vir mediese navorsing. Met organe wat geskenk word om ander mense se lewens te red of te verbeter, word gelukkig ‘n bietjie meer respektabel gewerk. Die uiteinde van die proses is dat alles wat moontlik kan, teruggeprop word in die kadawer en al die gate toegemaak word, sodat die begrafnisondernemer die laaste kosmetiese proses kan afhandel. Nee, dit is glad nie ‘n ondervinding wat jy enigeen na aan jou toewens nie, selfs al weet jy dis die voortleef van die siel wat saakmaak en dat die liggaam maar net ‘n verganklike dop is. ‘n Mens het mos darem ‘n ordentlikheid ook in jou. Wat ek nog meer ontstellend vind, is dat ‘n mens hoor van ‘n outopsie wat nog nie afgehandel is nie, terwyl die begrafnisdiens maande vantevore reeds plaasgevnd het. Alhoewel ek verstaan dat dit dan die verdere ontleding van die laboratoriumskyfies met weefsel en vloeistowwe is wat gebruik word, is dit vir my asof ‘n mens daardie inligting maar liewer onder die kombers moet hou. Dit voel vir my so asof hulle tant Annie nakend, met haar geliefkoosde hoed, onder stof toegeooi het en haar doodsrok op ‘n stok aan die koppenent van die graf gehang het. Hoe ook al, is outopsies so algemeen dat ons dit vandag lewend uitvoer. En so kloof ek die vakansie se pens ook oop, want dit smaak my daar is ‘n paar organe wat deur ‘n patoloog of twee onder die mikroskoop geplaas moet word; organe met twyfelagtige gesondheid. Mense stap uit ‘n restaurant omdat hulle te lank wag om bedien te word. Dit kan ‘n aansteeklike siekte onder vakansiegangers veroorsaak en die afsterwe van die restaurant beteken. Daar is die septisisme van verhuringsbedrog wat minstens vyf gesinne met hulle Venterwaentjies gestrand laat. Hulle het lankal hulle depositos betaal, net om hier te arriveer en uit te vind daar is vir hulle geen verblyf by die spesifieke adres nie. So ‘n sweer gee ‘n vrot klankie af vir ons dorp, alhoewel ons geen aandeel daaraan gehad het nie. ‘n Diefstal-slagoffer speel speurder en gaan handig die gesteelde goedere tesame met ‘n afskrif van die identitietsdokument van die vermeende dief in, nadat hy afgeraai is om ‘n saak aanhangig te maak. Dis soos ‘n skelet sonder ‘n ribbekas; wat sal dan die organe beskerm? ‘n Pa laat sy eie kind toesluit omdat hy al die koperkrane en -pype rondom die huis in die nag afgesteel het.Loop die dwelms regtig so dik in die are van ons dorpie? ‘n Post mortem is ‘n lelike ding; dit kan dinge blootlê wat ‘n mens liewer maar verborge sou wou laat bly. ’n Chirurg kan genesing vir een orgaan bewerkstellig, want hy is net op daardie een ingestel. Met ‘n lewende outopsie kan jy in die liggaamsholte rondkrap en wyer kyk vir die swak plekke. En gelukkig dat daar geen mens by betrokke hoef te wees nie. Dis bedoel vir die samelewing waarin ons daagliks asemhaal. En as dit vol siektes en swere is, moet ons uitsny wat vrot is, steke insit waar dit stukkend is en dissipline in die drup spuit dat ons kan herstel.
Carine Badenhorst
Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreGansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.
Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.
Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.
Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...
Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.
Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.