Tannie, wanneer kry ons tee?

Tannie, wanneer kry ons tee?

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Teen wil en dank moet ek die grys perd in die bek kyk, en aanvaar dat ons eerste kleinkind groot genoeg is vir ‘n teepartytjie op haar verjaardag. 

Dit terwyl ek nog self – al is dit net by uitsonderlik geseënde geleentheid –steeds voel asof ek in my ma se te groot polvyskoene slof, met haar wyerandhoed op die kop; die een met die stywe organza flertse reg rondom, wat sy vir troues gereserveer het. Nie dat ons ooit die voorreg gehad het om kinderpartytjies te hou nie; daar was net een van ant Cato Barend se laagkoeke met botterversiersel, met ‘n paar kersies in hulle blomblakertjies bo-op. Daarvan het ons een stuk gekry en verder gesit en kyk hoe die grootmense die res opeet saam met hulle tee. Want grootmense het tee gedrink, nie kinders nie.

Vir ons was daar rooi koeldrank wat ons self van Exa konsentraat en suiker moes aanmaak. Ek en Sus het beurte gemaak om die vrag suiker in ‘n enamelskottel vol water te staan en roer totdat al die suiker opgelos was. Die houtlepel wat ons daarvoor gebruik het, was naderhand so swaar soos ‘n voorhamer en jou voorarmspiere was lam. Dan in die een hand, dan in die ander hand, maar al wat wou oplos was die suiker.  Om alles te vererger, moes ons op ons knieë op Pappa se houtbankie staan om binne roer-bereik te wees van die skottel wat bo-op die wasbak gestaan het.

Daar was nie afklimkans om bene te rek nie, want jou beurt was jou beurt en die werk moes klaarkom. Tot vandag toe sal geen mens my sommer ‘n rooi koeldrank sien drink nie. Die naaste wat ons as kinders aan teedrink gekom het, was die porselein speelgoedstelletjie. Met kamma-tee en kamma-koek. Die lekkerste was egter om die tafeltjie te dek en blommetjies op te sit. Alhoewel dit teen die huiswet was, het ons stilletjies in die linkerkantste laai van die buffet in die eetkamer ‘n mooi lappie gaan gaps. Die lappies was  oorheersend wit, maar in verskillende kleure geborduur. Ander was gehekel. Daar was skinkbordlappies, spieëltafel stelletjies en sommer-net-lappies wat onder ‘n lamp of potplant op ‘n kassie of tafeltjie gebruik was. Die geborduurde lappies het voorkeur geniet, want daarvolgens kon ons gaan blommetjies pluk in die tuin of op die werf, of dalk nog skelmpies anderkant die draad as ons weet dit is die oumense se slaaptyd. Die draadheining tussen ons en ant Sarie was dig gerank met kanferfoelie en blousysel, maar snaaks genoeg, was die blomme altyd mooier aan ant Sarie se kant. Oorkant die pad het ant Dina ‘n digte, pienk-rosie-heining gehad. Dit was altyd ‘n groter trekpleister as die groot verskeidenheid van blomme wat heeljaar rondom ons huis kleur gemaak het.

Om dus te maak asof ons tee skink en drink, was sekonder tot die keurige voorbereiding van ons teetafel. Eers heelwat later, toe ons  self kon bak en brou, het ons vergunning gekry om een van die teestelle onder uit die buffet te haal om op ‘n Saterdag agtermiddag die koshuismeisies mee te onthaal. Maar, o droewe dae, deesdae gebeur alles in bekers. Selfs die teekoppies in restaurante is niks meer as verkorte bekers nie. Dikrandig, met die trotse logo van die plek teen die kant ingebak, so banaal dat mens na ‘n tweede koevertjie suiker móét gryp. Wat ‘n wonderlike, nostalgiese oomblik was dit dan tog vandag om Kleinkind se gedekte teetafel te kon aanskou.

Staander met onversierde kolwyntjies, wat hulle  self moes versier. Bordjies vol van verskillende vingerhappies. En teekoppies met dun randjies, driekwartvol gevul met vrugtesap. Dit het nie lank geduur nie, of enetjie roep: “Tannie, wanneer kry ons tee?”  En sy vra ‘n tweede keer en ‘n derde en ‘n vierde keer en toe hou ek op met tel. Wat is ‘n teepartytjie tog sonder tee? 

Hulle skink self uit ‘n glasbeker met getuite deksel en hulle pinkies staan in die lug soos hulle drink. Hulle het die X-faktor van teedrink. Net daar besef ek: hierdie sesjarige spannetjie is op die regte pad. Ek kan dus maar rustig oudword, die volgende generasie se dametjies gaan fyn afgerond wees. Maar...toe gaan klim hulle in die bome!

 Carine Badenhorst

Tannie, wanneer kry ons tee?

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed Verminder

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...

Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Gansbaai Courant redakteur - Marinda van der Walt se Julie 2024 komentaar oor stories en hul kante - jou kant, my kant en die waarheid.

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Vertonings

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Verton...

Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Ka...

Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.

Dorp Raak Al Vroliker

Dorp Raak Al Vroliker

Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.