NG Kerk Gansbaai
  • (20)

Die NG Gemeente bedien 'n gebied wat strek van De Kelders tot Pearly Beach en ook die plaasgebied Baardskeerdersbos. Die VG kerk word ook bedien.

More Info
  • (20)
More Info

Eredienste

Gansbaai Kerk 09:00 elke sondag

Gesinsdiens 09:00 sondae gedurende skoolkwartale in Pretoriussaal

Pearly Beach 09:30 elke 2de en 4de sondag van die maand

Baardskeerdersbos 09:30 elke 1ste en 3de sondag van die maand 

Gansbaai - Hawe van God se Genade

Gansbaai is ‘n vissers- en vakansiedorp, geleë aan die suidwestelike punt van Suid-Afrika. Dit staan bekend as die “Groot Twee Dorp” agv die grootwithaaie en die walvis-toeriste-attraksies. Gansbaai is ongeveer 40 km van Hermanus en vorm deel van die Overberg. Die natuurskoon  is asemrowend: die kuslyn, die berge, die groot verskeidenheid fynbos, en soveel meer!

Die NG gemeente bedien verskeie woongebiede. Daar is in sewe streke (met wyke en blokke), nl De Kelders, Gansbaai-dorp en Perlemoenbaai, Kleinbaai en Klipfonteyn, Franskraal en Uilenkraalmond, Pearly Beach en die plaasgemeenskap van Baardskeerdersbos. Die VGK gemeente Blompark vorm ‘n 7de streek binne die bedieningsgebied van ons NG gemeente.

Volgens statistiek  bestaan die NG gemeente uit 2559 belydende lidmate en 324 dooplidmate. Dis ‘n Makro/Korporatiewe gemeente. Die gemeente word bedien deur drie leraars.

Tema vir 2017

Ons tema vir 2017 is: " Proe en sien dat ie Here goed is"

Elke maand behandel ons 'n tema wat aansluit by bogenoemde:

Januarie 2017: "Wysheid"

Missie en Strategiese Doelwitte:

Ons wil deur God se genade en in afhanklikheid van Hom ‘n gemeente wees wat ‘n verskil sal maak in die samelewing deur:       
                  
- te leef en te werk in die krag van die Heilige Gees.
Meer soos Christus; Groei; Toewyding; Gehoorsaamheid; Volharding; Gebed; Verheerliking; Dankbaarheid.
- omdat God vir ons omgee, met sorg om te gee vir mekaar, ons gemeenskap en die wêreld.
Liefde en respek; Opregtheid; Gesonde kommunikasie; Eensgesindheid; Goeie verhoudinge; Opheffing; Omgee.
- te leef en getuig dat God liefde is.
God is Liefde; Geloof; Getuienis;  Dissipelskap; Naasteliefde; Gehoorsaamheid; Woordverkondiging;  Afhanklikheid.                 
- met liefde diensbaar te wees deur nie net in die “Hawe” te bly nie, maar uit te vaar na “vreemde waters” en ook daar ons “nette” uit te gooi.
Evangelisasie;  Betrokkenheid; Voorbidding ; Versoening ; Noodverligting

Gemeentevisie
Gansbaai - Hawe van God se Genade (Droom: Om as gemeente 'n Hawe van God se Genade te wees.)


Die Kwilte en hul simboliek

Twee identiese kwilte(die een 'n spieëlbeeld van die ander) is die gemeente se trots en hamg in die kerkgebou

Simbole is draers van betekenis en die kerk het van die begin af simbole gebruik om hulle diepste oortuigings mee te verwoord. Simbole is van die vroegste kerk uit omringende kulture gehaal en met nuwe betekenis gevul.

Die motivering agter die kwilts was om die gemeente te herinner aan haar eie gemeentevisie, maar ook hierdie visie te plaas binne die groter storie van God se besigwees met die mens en skepping. Ons is ’n gemeente binne die “een, heilige, algemene, Christelike kerk” wat mense oor die wêreld saambind. Tog, binne die groot eenheid speel ons ‘n rol in ons eie gemeenskap en beskryf ons onsself as “ die hawe van God se genade”.

Die Dawidster in goud beslaan die hele oppervlakte van die kwilt. Aan die binnekant van die ster is ‘n verwerking van ons logo, wat ook ons ook vind op ons kalender en ander amptelike geskrifte. Die Dawidster of heksagram(sespuntige embleem) is volgens tradisie die simbool wat Dawid op sy skild gedra het. Dawid , die koning van Israel, is ook die voorvader van Jesus Christus. Ons as kerk mag nooit ons Ou Testamentiese wortels vergeet nie. Vroeë Christene het ook in die drie duidelike driehoeke van die ster die Drie-eenheid gesien in wie se Naam iemand gedoop word. Die getal ses is ook die simbool van die sesde dag waarop die mens geskep is.

Die sirkel binne die Dawidster herinner ons aan die aarde, God se skepping en ons woonplek. Dit is hier  waar Hy Hom aan ons openbaar. Die sirkel is ook die simbool van heelheid en volheid, die volkomenheid van God se openbaring.

In die logo vind ons ‘n vuurtoring. Antieke vuurtorings het uit drie of vier verdiepings bestaan en op die boonste verdieping was ‘n groot vuur om skepe te waarsku. Gewoonlik was ‘n veilige hawe nie ver van die vuurtoring af nie. Die vuurtoring word dus ook simbool van veiligheid en sekuriteit. Op ou Christen-grafstene is soms vuurtorings gevind en ‘n boot wat oppad is na die vuurtoring. Dit simboliseer die lewe van Christene wat op pad is na ‘nveilige, ewige hawe. Natuurlik word die vuurtoring ook met lig geassosieer. Sekere kerkvaders het die vuurtoring dan ook geassosieer met die Skrif as die lig op ons pad. Jesus nooi ook sy volgelinge uit om “ die lig van die wêreld te wees”, wat ons glo ons gemeente ook in ons gemeenskap kan wees. Die vuurtoring staan op ‘n rots. In die Bybel is die klip of rots ‘n simbool van krag, vastigheid en stewigheid. Daarom ook simbool van God self.

Die boot is ook ‘n Christelike simbool wat oorgeneem is uit ander kulture. Ons het klaar gemeld dat dit dui op die reis na die ewigheid, maar dit is ook ‘n bekende simbool vir die kerk. Die kerk is dan soos ‘n groot boot of skip wat mense deur storms dra. Die simbool is ook deur vroeë Christene verder uitgebrei. Dan word God die eienaar en Christus die ervare stuurman van hierdie skip en die Heilige Gees die goeie wind wat die boot laat seil. Die boot is ook ‘n simbool van redding in Christus en die mas is ook deur die eeue baie keer uitgebeeld in die vorm van ‘n kruis. Omdat die boot van hout  gemaak is, herinner dit ook aan die kruis. Die boot herinner ons ook aan Jesus se opdrag dat       “ ons vissers van mense” moet wees.


Van die boonste linkerkanste hoek vind ons kloksgewys die volgende simbole:
Lam met banier: Ons word herinner aan Johannes se woorde “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh 1:29), Jesus Christus as die Lam is ‘n baie bekende Bybelse beeld (agnus Dei = Lam van God). Die Lam dra ‘n banier van oorwinning wat dui op die opstanding, waarin die dood, bose en sonde oorwin is. Die staf met banier is driepuntig bo, wat ons herinner aan die Drie-eenheid en die kruis.

Duif met olyftakkie: In die antieke wêreld was die duif ‘n simbool van eenvoud, liefde, sagmoedigheid en vrede. In die kerk word die duif geassosieer met die Heilige Gees, na aanleiding van die gebeure by Jesus se doop waar die Gees in die vorm van ‘n duif op Jesus neergedaal het. Die duif kan  herinner aan die uitstorting van die Heilige Gees, maar is ook ‘n oproep tot ‘n lewe van vrede. Jesus het in Mat 10:16 vir sy dissipels opdrag gegee om “ opreg soos duiwe “ te wees. In die Ou Testament het Noag ‘n duif uit die ark gestuur wat met ‘n olyftakkie teruggekom het. Die  verwysing na Noag se duif simboliseer die verlossing van die swaarkry van die wêreld en herinner ons ook aan ‘n vreedsame lewe saam met God in die toekomstige wêreld. Die duif is dus ook ‘n simbool van herstel tot voorspeod en vrede.

Pou: Die pou is ‘n klassieke simbool van onsterflikheid, wat deur die kerk oorgeneem is. Die pou se vleis is so hard dat dit nie verrot as die pou sterf nie en daarom is dit gekoppel  aan onsterflikheid. In dié sin word dit ‘n simbool van die opstanding uit die dood. Die feit dat die pou elke jaar verveer onderstreep hierdie assosiasie met onsterflikheid. Omdat die pou mooi is, kry ons ook uitbeeldings van die hemelse paradys. Die kerkvader Gregorius Nyssenus het glo gesê dat as mens na die onderkant van die pou se vlerk kyk, dit maar lelik is. Eers as jy dit omdraai, sien jy prag; so moet ons ook die Woord van God in ons gedagtes omdraai en bedink om waarlik die skoonheid raak te sien.
Walvis/vis: Die vis het in die vroegste kerk simbolies deel van die geloofsbelydenis gevorm. IXTHUS wat vis beteken in Grieks is ‘n afkorting van Iesous Theou Uios Soter, wat vertaal met ”Jesus Christus is die Seun van God en Hy is Redder”  . Die vis is ook ‘n simbool van die gedoopte Christen, want soos die vis in die water lewe die Christen uit die betekenis van die doop. Die walvis herinner aan die storie van Jona. Jona se verhaal kan gesien word as ‘n simbool van God se genade wat ook na ander, in daardie tyd die Nineviete, uitgereik het.

Anker: Die vis word ook baie saam met die anker uitgebeeld. Die anker is die simbool van hoop. Christus(vis) is ons enigste hoop en sekuriteit(anker). Die Hebreërbrief beskryf hoop as ons anker. Ons anker is veilig en onbeweeglik in die hemel. Die woorde”vrede” of “hoop” is dikwels saam met die anker aangebring. Die anker is soms  op grafte aangebring om mekaar te herinner dat dié wat gesterf het, by hulle bestemming is, naamlik in die ewige en hemelse hawe van vrede. Die kruis was ook soms in die anker ingeteken.

Kinnie Schutte het onmeetlik ure ingesit in die maak van die pragkwilte, die een ‘n spieëlbeeld van die ander. Baie dankie aan haar en die Gansbaai-kwiltgroep vir hulle hulp. Vir haar is die honderde blokkies ook ‘n simbool van hierdie gemeente wat saamgevoeg is uit ‘n ryke verskeidenheid mense. Ons glo dat die twee kwilts in die jare wat kom, elke gemeentelid en besoeker net meer welkom en tuis sal laat voel in ons hawe van genade. En dat dit ons veral sal herinner, tewyl ons kom aanbid, aan die skoonheid van God se wese en skepping en sy genadige betrokkenheid by sy skepping.

-Lisel Joubert, Marian van Rhyn en Kinnie Schutte
Bronne: Bradner,J. 1979. Symbols of Church Seasons & Days. London SPCK.
Stander, H. 2000.Simbole, veilig of gevaarlik?. ‘n Gids tot Christelike simbole en tekens. Struik Christelike Boeke.

Gemeentelied

Hawe van God se genade

1. VERLORE
As sterkwater ‘n visser jaag  
en die land in mis verdwyn,  
die anker losruk en skaaf
en daar geen hoop meer skyn…
REFREIN
As vrese my laat bewe
bly Hy berg van my lewe
Geanker in God’s hawe
wag skuitevol genade.
2. TROOS
Kyk met geloof na die land.  
Sien die Stuurman van jou skuit.  
Gryp met dank sy reddingshand,  
Hý trek jou altyd uit.  
3. VOORSIENIGHEID
Gooi jou net oor die regte boord’,   
snoek en geelbek lê blinkpens.
2 visse en 5 brode
voed skares uit sy spens.  
4. BERUSTING
Geloof laat ons oor golwe loop.  
Wyd soos die oseaan,  
brander Hy liefde en hoop
en keer dat ons vergaan.
5. DANKOFFER
Ons bring met windflenter klere,
vanaf verre eilande  
net maar bokkems o Here
as offer vir gena’.

— Dries van Heerden  1/12/2003

Ons leraars

Die gemeente word tans bedien deur 3 leraars, naamlik  Ds. Dirk van Dyk en  Ds. Willie  Kotze en Dr. Lisel Joubert. Die leraars bedien op 'n rotasie basis elkeen 'n spesifieke gebied in die gemeente. Die voorsitterskap van die Kerkraad word ook op 'n rotasiebasis behartig. Die huidige voorsitter is Ds.Dirk van Dyk

Ds Dirk  van Dyk

Ds Dirk van Dyk is op 4 Augustus 2006 as 3de gemeenteleraar bevestig. 
Hy bedien Baardskeerdersbos, De Kelders en die VG Kerk.

Sel 084 600 6680, e-pos dirk@dirkvandyk.co.za

Ds Willie Kotze

Ds Willie Kotze is sedert 1996 in die gemeente. 
Hy bedien Gansbaai en Kleinbaai

Tel 028 384 0299, sel 079 522 7834, e-pos wkotze@telkomsa.net

Dr.Lisel Joubert 
Dr Joubert is op 10 April 2016 opnuut in die gemeente as leraar bevestig. Sy bedien Franskraal en Paerly Beach.

Tel 028 3840014, sel 0828504182, e-pos lisel@kingsley.co.za

NG Kerkkantoor
Straatadres:  Hoofstraat 20, Gansbaai
Posadres:  Posbus 1, Gansbaai, 7220
Telefoon/Faks  028 3840510
Kantoorure:  Maandag tot Vrydag 09:00 – 13:00
Eposadres:  ngkgansbaai@telkomsa.net

Personeel

Skriba: Mev Wilna Swanevelder Selfoon 079 523 9027

Rekenkundige beampte: Mev Eljoj Smit Sel 082 810 7687

Gansbaai  Koster:    Mnr Marius le Roux  Sel  082 7664581
Orrelis:    Pikkie Louw  Sel 082 566 5880

Baardskeerdersbos: Koster Mej Jolandi Fourie Sel 071 968 9234
Orrelis:     Mev Aletta Groenewald Sel 082 499 0230

Pearly Beach Koster:  Mev Heidi Jordaan  Sel 084 764 6661
Orrelis:  Mev Annaline Reinke  Sel 084 840 8065

Badisa/Maatskaplikedienste

Maatskaplike Werkster: Tel 028-3840151
Kantoorure:   Maandag tot Vrydag 08:00 – 13:00, 13:30 – 16:00
Kategeselokale NGK Gansbaai


Bankbesonderhede

Rekeningnaam : NG Gemeente Gansbaai
Tak: ABSA Hermanus  Takkode:  334-812
Rekeningnommer: 3220 150 983
Indien u ‘n deposito vir enige ander bediening maak, faks of stuur asb u strokie na:
NG Gemeente, Posbus 1, Gansbaai, 7220


Voornemende doopouers

Navrae:  Skriba gedurende kantoorure. 6 weke voor doop. Sien almanak vir doopgeleenthede

Nuwe intrekkers/lidmate

Nuwe lidmate & opdateer van lidmaatbesonderhede

Vorms vir lidmaatopdatering is beskikbaar by die kerkkantoor. Die vorm moet by die kerkkantoor ingehandig word of aan die ouderling/diaken/hulpwerker in u wyk oorhandig word.
     
KOMMISSIES EN BEDIENINGE

Die KOMMISSIES bestaan elkeen uit ‘n aantal  BEDIENINGE wat onderverdeel word in taakgerigte DIENSGROEPE.

 
   Kommissie: Gemeentebou
   Bedieninge:  Eredienste
                        Kommunikasie
                        Toerusting
                         Kleingroepe, Diakonie en Hulpwerkers
                         Ankergooi( vir nuwe intrekkers)
                         Visioenering

  Kommissie: Ondersteuning
  Bedieninge:  Finansies
                       Eiendomme
                       Diensverhoudinge
                       Administrasie(en kerkkantoor)
                       Gemeentefunksies (Basaars, Kersmark, ens)

  Kommissie: Getuienis en Uitreik
  Bediening:  Sending
                     Diens van Barmhartigheid
                     Interkerklike samewerking
                     Evangelisasie

Kommissie: Vrouediens
  Bedieninge: Bestuur: Skakeling, koördinering,admin
                      Vroue wat omgee: barmhartigheid
                      Gemeenskapuitreik en sending
                      Gesinne in aksie en Toerusting
                      
  Kommissie: Gesin-en Jeugbediening
  Bedieninge: Eredienste
                     Interaksie en skakeling
                      Kleuterkerk
                      Barmhartigheid en Diensbaarheid
                      Toerusting
                       Baarskeerdersbos
                       Ontspanning


Ons wyke en Kerkraadslede

Ons gemeente is opgedeel in wyke en/of blokke. In die meeste van die wyke is 'n ouderling en diaken werksaam wat bygestaan word deur verskeie diens en hulpwerkers.

Ons leier ouderling is Daan Victor, tel nr 028 388 0019 en sel nr 083 286 0432.

Ons leier diaken is Ilse Klopper, sel nr 082 7170848


 

SAMEWERKING TUSSEN NGK EN VGK GANSBAAI

Die NGK en VGK van Gansbaai was twee van die eerste gemeentes wat positief gereageer het op die onderskeie sinodebesluite tot kerkverbandvereniging van die familie van NG Kerke. Informele samesprekings oor moontlike vereniging aan die hand van dié besluite is deur leiers van die twee gemeentes gevoer onder leiding van ds Willie Kotze, wyle evangelis Jacobus Julies en broer Joe Mangiagalli. Aan die begin van 2003 het die gespreksgenote gevoel dat die tyd ryp geword het om “’n Verklaring van Voorneme tot Gemeentevereniging” op te stel. ‘n Konsep deur di David Botha en Willie Kotze is deur die gespreksgenote en predikante goedgekeur en aan die kerkrade voorgelê.

Die NG- en VG- kerkrade het dit in Mei 2003 aanvaar. In terme van dié verklaring is die Gespreks- en Aksie Kommissie  Kerkeenheid (GAKK) in die lewe geroep en elke kerkraad het sy verteenwoordigers daarop benoem. Die opdrag aan hierdie kommissie is om die proses van eenwording van die twee gemeentes te ontwerp, bestuur en gereeld aan kerkrade verslag te doen.

Die GAKK vergader gereeld. Buiten die hantering van die jaarlikse begroting vir gesamentlike werksaamhede het die GAKK twee belangrike voorwaartse stappe geïnisieer. Beide kerkrade het besluit dat die VG gemeente as sewende streek van die NG gemeente Gansbaai ingelyf en op die Sentrale kerkraad verteenwoordig word. Tweedens is die samewerkingsooreenkoms vir eenheidsfunksionering deur beide gemeentes onderteken
.
Kerkvereniging is ‘n proses wat met wysheid en afhanklikheid onder leiding van die Heilige Gees bestuur moet word. Die 3 terreine waarop eenheid bevorder moet word, is Woordverkondiging en Liturgie, Gemeentebediening en uitreikaksies na die gemeenskap. Gesamentlike eredienste, nagmaalviering sowel as kanselruiling het intussen al ‘n instelling geword.  Die GAKK is besig om sending- en barmhartigheidsdiensprojekte te identifiseer waarby beide gemeentes betrokke kan wees. Om bedieningstrukture, soos jeug- en vroue-aksies en pastorale werk te integreer, benodig oorleg want faktore soos tradisies en eie identiteitsgevoelens van beide gemeentes moet in ag geneem word.

God se verhaal met ons Gemeente

1. Die Beginjare vanaf 1909

Net soos baie ander dorpe in ons land, het ook Gansbaai tot stand gekom: in die eerste instansie, as ‘n setel van ‘n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Gansbaai se gemeente het van Stanford-gemeente afgestig. Stanford was vroeër ‘n buitewyk van Napier. Begin Mei 1909 het eerwaarde PJ vd Walt, ‘n hulp-prediker van die gemeente van Napier, met sy werk in hierdie gebied, wat ook as die Strandveld bekend staan, begin. Dit was gou duidelik dat die deel van die gemeente heel “begerig” was – soos geblyk het uit die opofferings wat gemaak is om dienste by te woon. Te Gansbaai, Uilenkraal en Baardskeerdersbos (B’Bos) is daar maandeliks op ‘n Woensdag eredienste gehou. Motors was toe nog onbekend. Vanaf Gansbaai en B’Bos het lidmate in daardie jare te voet, per ossewa of perdekar na dienste, en na die Nagmaal op Stanford, gegaan. Opkomste was altyd goed.  Dit het gebeur dat daar soms ‘n honderd of meer lidmate die diens op ‘n plaas bygewoon het.  Die gemeenskap se mense was destyds lief vir mekaar en vir hul godsdiens. ‘n Hulpleraar van Napier, proponent (ds) FJ van der Merwe, het hom in 1935 in Gansbaai gevestig, ‘n gebeurtenis waarby Gansbaai en B’Bos baie sou baat.  

2. Eerste Kerkgeboue by B'Bos (1921) en G'Baai (1922)

Ds  FJ Kock was die aanvoerder vir die opstel van planne vir die kerkie in Baardskeerdersbos (wat vandag nog in gebruik is) maar dit was ds MN van Rensburg, predikant op Stanford (1917 tot 1928) wat die een kerkgebou na die ander laat verrys, het. Na die groot griepepidemie van 1918, is die kerkie in Baardskeerdersbos ( in kort B’Bos) in 1921 voltooi en ‘n jaar later in Maart 1922 is die eerste kerkie in Gansbaai ingewy (saal by die Laerskool). Stanford se pragtige sandsteen klipkerk het ook in 1927 verrys. Die kerk en die skool het van die begin langsaan mekaar ontwikkel. Die eerste skool is tussen 1909 en 1910 gebou. Die mense van daardie jare, en na die Groot Griep van 1918, was arm vissers en plaasmense. Baie  was ongeletterd, maar ouers het hul kinders uit die enigste beskikbare Boek van daardie tyd, nl die Bybel, leer lees en waardes geleer. (Lees meer, hieronder, oor Meester JR Barnard, wat onlosmaaklik deel van Gansbaai van 1920 tot 1944 was).  

3. Meester 1920-1944 : Mnr JR Barnard

Die geskiedenis van Gansbaai en die NG Kerk is onlosmaaklik deel van dié man wat bekend staan as “Die man wat Gansbaai gemaak het.” Daar word vertel dat in 1919, sewe onderwysposte hom aangebied  is. ‘n Pos op Gansbaai was onder andere een van hulle. As Christengelowige het hy die name van die sewe skole op papiertjies geskryf en in ‘n hoed gegooi. Die volgende môre het hy na sy gebed een papiertjie uit die hoed getrek met Gansbaai se naam daarop. Die volgende twee aande het hy dieselfde gedoen en elke keer het hy Gansbaai se strokie uitgetrek. As diep gelowige het hy geweet  hy  moes na Gansbaai kom!  Hul Ford-motor moes die gesin in Stanford los en per perdekar verder ry,  want daar was geen pad na Gansbaai nie. Met hul aankoms op Gansbaai, was daar 38 blanke huisgesinne, ‘n paar ongetroude vissers en 3 bruin huisgesinne. Vir meer as 30 jaar het hy die belange van die vissersdorpie op sy hart gedra. Hy was hulle raadgewer, vriend, leidsman, prediker en sieketrooster. Die Gansbaai van daardie jare was ‘n wilde plek, maar mnr  Barnard het  die “beskawing” hierheen gebring; so verklaar die ou mense. Aangesien daar nie ‘n predikant op Gansbaai was nie, het mnr Barnard die dienste waargeneem. Hierdie byeenkomste is langs die see gehou. Die “preekstoel” was die wrak van ‘n uitgepoelde skuit.

4. Stigting van die NG Gemeente Gansbaai in 1944

Aanvanklik was die wyke Uilkraal, Gansbaai en Baardskeerdersbos deel van die Stanford NG gemeente. Op 23/11/1944 om 16:00 is die nuwe gemeente van Gansbaai deur die Ringskommissie van Caledon in die ou kerksaal (by die skool) gestig. Die gemeente het uit  690 lidmate bestaan en het toe reeds oor twee kerksale beskik waarin dienste gehou is: een op Baardskeerdersbos en een in Gansbaai. Die bruidskat van die moedergemeente was die twee kerksale met meubels en orrel en ‘n bedrag van £900. Die eerste Kerkraad is in 1944 bevestig. Na die stigting van die gemeente, het hulle die eerste predikant beroep, nl. ds  PAM Brink. ‘n Kerkboufonds vir ‘n nuwe kerkgebou in Gansbaai is in April 1945 begin.

5. Moeilike Jare, vol Genade

In die oorlogsjare van die 1940’s het 55 jongmanne en 5 jongmeisies aangesluit as soldate om in Noord-Afrika en Europa te gaan veg. Die lewe in die Gansbaai- en Baardskeerdersbos-omgewing was moeilik, maar die besonderse mense wat in dié pragtige deel van die Overberg gewoon het, was skatryk aan genade uit hul Heer se hand. ‘n Uittreksel uit ‘n artikel wat Tommie Carse oor oom Wessel en tannie Sefietjie van Dyk in 1973 in die Hermanus Times geskryf het, sê baie oor dié omgewing se mense en hul “geheim” van oorlewing, lewensgeluk en hoë ouderdom wat hulle kon smaak. Hy skryf:  “And then tant Sefietjie immediately addressed me as follows: ‘Lees jy die Bybel? Ken jy jou Bybel?’ I was astonished for what had the Bible to do with my question? I replied that I did read my Bible and understood it. Then she added: ‘Ken jy die 10 Gebooie?’  ‘Yes, Tante,’ I replied. ‘Ken jy die 5de Gebod? As jy nie weet nie, dit is: Eer jou vader en jou moeder sodat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gegee het!’” Vandag kan ons daarop “Amen” sê, want deur al die verhale soos hierdie een uit die outyd, lê die bewyse dat ons voorgeslagte reeds tóé in: “Gansbaai - ‘n Hawe van God se Genade”, volgens God se Gebooie en uit sy Genade geleef het!  

6. Die Vissersdorpie en Plaasgemeenskap groei

Omsteeks 1950 is begin met die Gansbaai Koöperatiewe Vissersvereniging danksy die destydse skoolhoof meneer PL Zietsman (‘n man wat ook diep spore in die gemeenskap getrap het). Groei en vooruitgang het momentum gekry.  

7. Inwyding van die NG Kerkgebou in Gansbaai in 1953

Die hoeksteen van die NG kerkgebou in Gansbaai is op 28/3/1953 deur ds JPL Zietsman, wat leraar van 1950 tot 1959 was, gelê. Op die steen staan geskryf: ”Die Here sal voorsien”. Ds Zietsman was die dryfdrag agter hierdie groot kerkbou-projek en het dit beskryf as: ‘n projek sonder geld wat ‘n geloofsuitdaging en ‘n geestelike ervaring was. Die bouwerk wat vir hom en die kerkraad na ‘n onoorkoomlike berg gelyk het, het volgens God se Woord soos was weggesmelt. Op 11/12/1953 berig die “Caledon Venster” onder die opskrif: Groot skare teenwoordig op Gansbaai: “Op Saterdag 5/12/1953 is die kerk te Gansbaai ingewy. Tereg is opgemerk dat hierdie kerk ‘n landmerk is, want dit kan van ver gesien word met sy hoë toring. Die inwyding het geskied in die teenwoordigheid van ‘n skare van oor die duisend mense. Dit is voorafgegaan deur ‘n feesbasaar ten behoewe van die boufonds”. Die kerk kan sowat 600 mense huisves. In die berig word ds Zietsman en sy kerkraad gelukgewens met die groot onderneming wat slegs 9 jaar na die stigting van die gemeente deur die betreklik klein Gansbaai gemeente deurgevoer is.    Die behoefte aan ‘n saal was ‘n groot leemte. Die gemeente, en veral die jeug (en ook die skool en gemeenskap), het ‘n al groter behoefte aan ‘n saal gehad. Ds DWA Pretorius wat van1960 tot 1965 gemeenteleraar was, het die reusetaak tov die bou van die Pretoriussaal self met gemeentelede aangepak. Die laagste kwotasie was R42,000, maar dominee Pretorius het met mnre Dirk Taljaard, Stoffel Fourie en Piet Vermeulen en die werkmense van Hendrik Groenewald die saal, wat in 1968 voltooi is, vir ongeveer R20,000 gebou. Hierdie fasiliteit word steeds deur die hele gemeenskap benut.

Oud-predikante

Deur die jare ( vanaf 1945) het die NG leraars ‘n groot rol gespeel in die opbou en geestelike versorging van die gemeente, én ook in die gemeenskap.

Baie van die ondergenoemde inligting, foto’s en aanhalings tov die oud-leraars, is uit die NG Gemeente Gansbaai se Gedenkblad (1944 -1994) aangehaal.

 Ds PAM en Maria Brink :1945 tot 1949

Ds Brink was die eerste leraar van die gemeente wat in 1944 gestig is. Hulle drie kinders is op Gansbaai gebore. Hy onthou die grondpad van Stanford en die gemeente se meelewing wat iets besonders was. Hy meld van net 4 persone wat nooit kerk toe gekom het nie. Al wat volgens hom gepla het, was te veel hotelle en te min polisie.

Ds JLP en Alta Zietsman : 1950 tot 1959

Ds Zietsman onthou die kerkbou-projek sonder geld. Dit het ‘n geloofsuitdaging en ‘n geestelike ervaring geword. Die bouwerk wat vir hom en die kerkraad na ‘n onoorkomelike berg gelyk het, het volgens God se Woord soos was weggesmelt. Die kerk wat ‘n bekende baken in Gansbaai is, is ‘n 1953 met trots ingewy. Hulle drie kinders is in Gansbaai gebore.
In 2003 was ds Zietsman (in ‘n rolstoel) deel van die kerk se 50-jarige verjaardagfees.
 
Ds DWA en Cora Pretorius : 1960 tot 1965

Mevrou Pretorius vertel dat die bou van die Pretoriussaal vir ds Pretorius ‘n besondere ervaring was. Die laagste kwotasie was R42,000, maar Dominee het met Dirk Taljaard, Stoffel (Vetties) Fourie en Piet Vermeulen en die werkmense van Hendrik Groenewald self die reuse-taak aangepak en voltooi. Die saal is in 1968 voltooi vir ongeveer R20,000! Mevrou Myna Fourie vertel ook van die besondere en spontane wyse waarop ds Preorius met die vissers omgegaan het en hulle by die kerk betrokke gekry het.

 Ds NE en Elma Louw : 1966 tot 1970

Ds Nico Louw onthou die entoesiasme en hartlikheid waarmee die gemeente basaar in Baardskeerdersbos en in Gansbaai gehou het. Die lekker vol kerkdienste met die vakansiegangers. Hy onthou verder die sterk kern van gelowige mense, maar dan ook die sterk konserwatisme by baie, wat soms moeilik was om te verstaan. Hulle drie oudste kinders is in Gansbaai gebore.

 Dr MC en Rachelle Kitshoff : 1971 tot 1975

Twee van hul kinders is in Gansbaai gebore. Ds Kitshoff onthou die volgepakte kerk met Kersfeesoggende, die Nuwejaar-sportdag by Uilenkraalsmond op die strand, (wat later jare ongelukkig afgestel is), die besondere gemeenskap van B’Bos en die oprigting van die Herberg-aan-See-tehuis vir Bejaardes. Ds Kitshoff was die dryfveer agter die oprigting van die tehuis en hy het die naam van die tehuis bedink).

 Ds J en Elmarie Bosman : 1976 tot 23/5/21989

Ds Bosman was 13 jaar leraar in Gansbaai en op 23/5/1989 was dit ‘n geweldige skok toe hy, op pad na ‘n Ringsvergadering in Caledon, in ‘n motorongeluk sterf. Hulle drie kinders is gebore op Gansbaai. Hy was bekend vir sy liefde en interaksie met die ou mense en vir die see en visvang, wat hom in noue kontak met die vissermanne gebring het. Die opregtheid van veral die ouer vissermanne was vir hom baie waardevol. Hy het hom beywer vir die bou van die kategese lokale, waar die kinders onderrig word.

 Ds NJ en Karen van As : 1989 tot 1997

As jong proponent  het ds NJ van As dominee Bosman in die gemeente bygestaan.  Na laasgenoemde se afsterwe is hy as leraar bevestig en het hy sy plek wel deeglik volgestaan. Vir hom het dit gevoel hy is deel van een groot gesin. Hy onthou die Kersoggend-dienste, die volgepakte Middernagdiens, die Vissermansdiens in die hawe en die kerkbasaars wat altyd ‘n belewenis was! Hy en Karen is in Gansbaai getroud en twee van hul kinders is hier gebore. In 1997 is ds van As na Wellington-Oos beroep.

Ds Christo en Beadri Vermeulen (Proponent en later leraar) 1997 tot 2004

Hul twee kinders is in Gansbaai gebore. Ds Vermeulen word onthou vir sy betrokkenheid by jeugbediening. Hy het in 2004 as leraar bedank.

Contact Details

  • Primary number: Click Here
  • Additional number: Click Here
  • Email: Click Here
 

Business Info

  • Address: Click Here

Map

Nearby Places

Blog Posts

Die Geringstes

Die Geringstes

Published: 08 Aug 2018
By: Ds. Dries Auret

Die Here  gebruik soms die geringes om iets groot te doen. 

Program Sondag 12 Augustus 2018

Program Sondag 12 Augustus 2018

Published: 07 Aug 2018
By: A Swart

Twee eredienste word gehou in die gemeente

Bulletin: 30 Julie tot 5 Augustus 2018

Bulletin: 30 Julie tot 5 Augustus 2018

Published: 31 Jul 2018
By: A Swart

Bybelleesprogram hervat op 13 Augustus.

Kerkdienste: Sondag 29 Julie 2018

Kerkdienste: Sondag 29 Julie 2018

Published: 25 Jul 2018
By: A Swart

Gesamentlike streekdiens in Gansbaai kerk.

See All Blog Posts