Blog

Hartseer verhaal van ‘ons’ eertydse Dorpskombuis

Hartseer verhaal van ‘ons’ eertydse Dorpskombuis

Gans-Berg Nuus / News

Hartseer verhaal van ‘ons’ eertydse Dorpskombuis

Gans-Berg Nuus se lesers is dit eens dat dit baie jammer was om die eens bekende en baie gewilde Dorpskombuis in Dirkie Uysstraat te sien verval. Die meerderheid van ons lesers verkies egter om verby dit alles te kyk en die mooi van die gebou, asook die bedryf van die besigheid deur die oorspronklike (en enigste) eienaars, wyle Deon (snr) en Joanie Visser (86), met behulp van hulle seun, Deon (jnr) te onthou - veral hulle pasteie en warm melkterte wat ‘n absolute wenner was! Die egpaar, hulle kinders, asook ander bekendes in die dorp, was gewild en bekend vir hulle gereelde musiek- en sangtoere, asook optredes by funksies.

Image 1
Deon (snr) en Joanie Visser

Nou is die koeël deur die kerk en net ‘n gelyk-gemaakte stuk oop aarde is nagelaat. Die gebou is deur Burmar, onder leiding van Steven Dumond, gesloop en alle bourommel is verwyder. Die Gans-Berg Nuus het reeds op 19 November 2021 berig dat die gebou finaal sy einde bereik het. Die mure aan die voorkant het op 14 November 2021 inmekaar getuimel en die gebou het ‘n risiko-geval geword, met onwettige nagslapers en kriminele wat dit snags beset het. Die einde was toe reeds in sig.

“Vir ons as familie was dit ‘n hartseer verloop van sake,” vertel die Visser-egpaar se dogter, Esté (Visser) Hayman van Perlemoenbaai. “Ek is nou sowat 6 jaar hier, maar het later opgehou om verby die gebou te ry, dit was vir my net een te veel.” Esté sê dat haar pa en broer, Deon, wat in Amerika woon, destyds grootskaalse ontwikkeling op die perseel wou aanpak. Daar was ook reeds ontwikkelaars wat belanggestel het. Die versoek is deur die Erfeniskomitee afgekeur, aangesien die huis op die hoek tot ‘n erfenisgebou verklaar is. “Die ironie van die saak is dat dit nou wel afgebreek en ons kan nie anders as om te glo die gebou is met opset so verwaarloos sodat daar nie meer sprake van ‘n ‘erfenis-gebou’ was nie,” het Esté gesê. “As ek dink aan my pa se planne daarmee, kon daar vandag ‘n sieraad vir die oog gestaan het.” Deon (snr) is in 2008 met beenmurgkanker gediagnoseer en hulle het die Dorpskombuis in 2012/13 verkoop. Hulle het na ‘n aftree-oord in Kleinmond verhuis, waar Deon (snr) op 4 Januarie 2011 oorlede is. Joanie, wat reeds sowat 14 jaar in Kleinmond is, woon tans by haar dogter. Sy was ook ‘n bekende lid van die NG-gemeente in Gansbaai se koor.

Anré de Bod van Gansbaai is ‘n voormalige werknemer (± 2006-2009) en het interessante staaltjies met die Gans-Berg Nuus gedeel. “Ons het sommige dae tot 2 500 pasteie oral afgelewer, maar op ander dae deurlopend 1 500 per dag, met gereelde vroeë oggendure wat ons om 03:00 al op pad was vir die aflewerings,” het Anré gesê. “Daar was gereeld ook groot koeke op bestelling wat by die aflewerings ingesluit is.” Die aflewerings het op onderskeie dae plaasgevind en die areas van aflewering was onder andere Weskus, Boland, Paarl, Wellington, Overbergdistrik, Theewaterskloofdistrik en op tot by Struisbaai - te veel en te wydverspreid om almal op te noem - en alles is in die Dorpskombuis gebak.

“Die Dorpskombuis se melkterte was natuurlik by uitstek baie gewild,” sê Anré. “Ons het baie gelag wanneer kliënte inkom en die stoom staan nog op die melkterte, dan koop hulle dit.” Hy sê daar is normaalweg sowat 100+ melkterte per dag verkoop, afgesien van al die ander gebak wat deurlopend baie gewild was. Nadat die Gans-Berg Nuus inligting en foto’s op Facebook geplaas het, is vele kommentare oor die ou Dorpskombuis, veral oor hulle melkterte, geplaas. Kan mens maar sê: “Lank lewe die Dorpskombuis se herinneringe en ons salueer wyle Deon en Joanie Visser vir hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap jare gelede!”

 
Hardus Botha
Image 1
Image 2
Image 3
Hartseer verhaal van ‘ons’ eertydse Dorpskombuis

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Die ‘Boet van Visnette’

Die ‘Boet van Visnette’

Besoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote...

Filler: Mole Snake

Filler: Mole Snake

A punchy picture of an impressive mole snake being expertly handled by one of the Grootbos Field Rangers, Yolanda. 

Overstrand Medical Centre

Overstrand Medical Centre

Die bouwerk aan Overstrand Medical Centre, skuins oorkant Gansbaai SAPD se geboue, is steeds doelgerig aan die gang.

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Die deelnemers aan die jaarlikse Gansbaai Tuinkompetisie deur Gansbaai Toerisme is onlangs met pryse vir hulle harde werk beloon.

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

Lesers wat nie die voorreg het om ‘n ‘Wit Kersfees’ (White Christmas) oorsee te kan ervaar nie, gaan loer gerus in by Plot 1.

Overberg Posduif Unie

Overberg Posduif Unie

Vanjaar was daar geen keer aan Louis Groenewald nie.