Die ‘Boet van Visnette’
Besoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote...
‘Boer soek ‘n vrou’ se Marciel Hopkins ontspan weer by haar ‘hart se punt’ - Franskraal
Om na die Huisgenoot-voorblad (30 November 2023) se professionele foto’s en onderhoud met Marciel Hopkins te kyk en dit te lees, is om kennis te neem van ‘n fenominale skoonheid, model, aktrise, TV-aanbieder en motiveringspreker - om egter ontspanne saam met Marciel Hopkins-Lourens in die Great White House in Kleinbaai oor ‘n koppie koffie gesellig te kuier, is om die mense-mens in haar in die ware sin van die woord te leer ken. Pragtig geklee in sportdrag, keppie op die kop, weg uit die kollig, nog net so sag-vriendelik met ‘n breë glimlag en ‘n aansteeklike laggie oor al die gebeure sedert 2015.
Kort voor haar vakansie in 2015 te Uilenkraalsmond, is Marciel as een van die 12 Finaliste vir Mej Suid-Afrika aangewys. Skrywer hiervan het haar destyds omgepraat om met ‘n paar spesiale geleenthede in Gansbaai saam met hom enkele besoeke af te lê, onder andere die Kersmark, Herberg aan See Tehuis vir Bejaardes, Mnr en Mej Uilkraal en enkele ander plaaslike gebeure. Hy het ook, met Wilfred Chivell se vriendelike instemming, gereël vir ‘n walvisbesigtigings-bootrit, wat sy terdeë geniet het.
Ook gedurende daardie tyd, 8 jaar gelede, het Marciel haar droomman, Handré Lourens, ontmoet. Handré was deur vriende vir ‘n kuier genooi, waar Marciel ook sou wees. Aanvanklik wou hy niks van die kuier weet nie, maar hulle het hom wel omgepraat om te gaan - ‘n foto en berig deur skrywer hiervan van Marciel op die voorblad van die destydse plaaslike koerant, is aan Handré gewys, en dié jongman het besluit om saam te gaan. Op 9 Desember 2015 het dié twee mekaar tydens die kuier ontmoet. “Jou berig en my foto op die voorblad was dus deel van die aspekte wat ‘n rol vir ons eerste ontmoeting gespeel het,” het Marciel met ‘n spontane laggie gesê. Op 22 Desember 2015 het hulle koffie saamgedrink en die volgende dag, 23 Desember 2015, kan mens maar sê was die spreekwoordelike ‘koeël deur die kerk’! “Ons vier daardie ontmoeting nog elke jaar op 23 Desember, die een jaar reël ek ‘n spesiale verrassingsherdenking en die volgende jaar Handré.” Sy sê hulle ontmoetingsdatum is vir hulle net so belangrik soos hulle huweliksdatum - dus twee herdenkingsdatums! “Dit is juis more Handré se beurt om ‘n verrassingsgeleentheid vir ons te reël,” het Marciel met ‘n vonkel in haar oë gesê!” (Die onderhoud het op die dag voor die ontmoetingsdatum plaasgevind)
Die egpaar is op 9 April 2022 te Franschoek in die huwelik bevestig. Vir haar professie het sy haar van, Hopkins, behou, maar in haar persoonlike lewe staan sy bekend as Marciel Hopkins-Lourens. “Sedert ons ontmoeting in 2015, het ek nog nooit weer teruggekyk nie,” het Marciel gesê. Sy het in die Paarl grootgeword en Handré in Worcester - maar altwee hou al hulle hele lewe lank onderskeidelik in Franskraal en Kleinbaai vakansie, waar altwee se ouers vakansiehuise besit. “Verbeel jou, ons het vir jare 2.4km van mekaar af vakansie gehou en nooit besef ons gaan mekaar in 2015 hier ontmoet en later in die huwelik tree nie,” - en weer is daar die spontane laggie! Handré se ouers is Kobus en Rita Lourens en Marciel se ouers is Charles en Annaline Hopkins van De Grendel Wynkelder.
Op die vraag wat het die titel: Mej Suid-Afrika Finalis, 8 jaar gelede vir haar beteken, het Marciel soos volg geantwoord: “Dit het my eerstens selfvertroue gegee, waaroor ek baie dankbaar is en dit het my by my persoonlike beginsel van ‘I love myself’, uitgebring. Tweedens het dit my sonder twyfel ‘n ‘voet in die deur’ vir die pad vorentoe gegee.” Ná daardie eervolle prestasie, het ‘n baie bedrywige 8 jaar, met harde werk, op haar gewag.
“Met my ervaring oor al die jare heen, probeer ek om met my gereelde motiveringspraatjies in die vroue-gemeenskap terug te ploeg, met baie vrouens wat bemoediging en motivering broodnodig het.” het Marciel gesê. Op professionele-vlak is die TV-program, Boer soek ‘n Vrou op DStv Kyknet sekerlik ‘n hoogtepunt vir Marciel. Sy is tans besig met die skiet van haar vierde seisoen van Boer soek ‘n Vrou, wat van haar die aanbieder maak wat die program tot hiertoe die langste aangebied het - dus ‘n rekord! “Dit het my na die mees afgeleë plekke in ons land geneem en ek het kennis gemaak met ‘n groot verskeidenheid van boerderye,” vertel sy. “Dit is harde werk, met baie dae uitstedig, maar gelukkig kom kuier Handré gereeld oor naweke vir my waar ek besig is,” sê sy.
In 2023 het Marciel onverwags die geleentheid gekry waar sy gevra is om die nuwe Bravo!-aanbieder te word. “Dit is vir my ‘n ander wêreld met ‘n groot verskeidenheid van aspekte.” Haar lys van aktiwiteite strek nog verder - modelwerk, aktrise, voormalige modelwerke in onder andere New York, Los Angeles, Londen, Rome en Duitsland, asook haar motiveringspraatjies en nou dink sy daaraan om advertensiewerk ook te aanvaar - bedrywig soos min!
Alles in aggenome, is dit wat Marciel doen harde werk, daarom het sy en Handré die reëling om byvoorbeeld ‘n dag Pearly Beach toe te gaan en hulle selfone af te skakel. “Dan vang hy vis en ek lê in die son of drink ‘n ginnetjie!” Die egpaar dink daaraan om hopelik in 2025 met ‘n gesin te begin. “Ons wil graag kinders hê as dit vir ons bestem is,” sê sy. Gans-Berg Nuus se redaksiespan wens Handré en Marciel ‘n suksesvolle, gesonde en voorspoedige 2024 toe.
(Vakansiefoto’s verskaf)
Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreBesoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote...
A punchy picture of an impressive mole snake being expertly handled by one of the Grootbos Field Rangers, Yolanda.
Die bouwerk aan Overstrand Medical Centre, skuins oorkant Gansbaai SAPD se geboue, is steeds doelgerig aan die gang.
Die deelnemers aan die jaarlikse Gansbaai Tuinkompetisie deur Gansbaai Toerisme is onlangs met pryse vir hulle harde werk beloon.
Lesers wat nie die voorreg het om ‘n ‘Wit Kersfees’ (White Christmas) oorsee te kan ervaar nie, gaan loer gerus in by Plot 1.