Blog

Gansbaai Apteker Klaar Two Oceans Marathon

Gansbaai Apteker Klaar Two Oceans Marathon

Gans-Berg Nuus / News

Gansbaai Apteker Klaar Two Oceans Marathon

Die pragtige Claudia Olivier (23), apteker in haar gemeenskapsjaar by Arrie Nel Apteekgroep, Gansbaai Apteek, mag dalk skraal en ‘fyntjies’ voorkom, maar sy moet nie onderskat word nie. Op 14 April 2024 het sy aan die Two Oceans Marathon in Newlands, Kaapstad in die 21.1km deelgeneem - vanaf Newlands na die Universiteit van Kaapstad. Onder die meer as 15,000 deelnemers het Claudia 3,380ste geëindig. Klink dit maar flouerig? - lees gerus verder!

Eerstens was Claudia op skool nooit sportief nie. “Ek kon nie eers behoorlik een keer om die baan hardloop nie,” vertel sy. “Ek het ook nog nooit voorheen aan enige marathon deelgeneem nie en vir hierdie marathon het ek eers in September verlede jaar begin oefen.” Wat haar prestasie des te meer verhoog, is dat sy sowat ‘n maand gelede ‘n klein besering, Myofacial-spasma, opgedoen het en dat sy steeds in ‘n herstelproses is. Gelukkig het sy reeds sodanig herstel, dat sy die dag van die onderhoud, 29 Mei 2024, weer begin oefen het. “Al was dit my eerste marathon, was dit vir my ‘n hoogtepunt en ek voel so goed oor my deelname en het dit só geniet, dat ek van plan is om voortaan gereeld aan marathons deel te neem, maar ek sal by die 21.1km afstand bly,” het Claudia aan Gans-Berg Nuus gesê. “Ek sien alreeds uit na die jaarlikse Danger Point Marathon in Gansbaai op Oujaarsdag waarvan ek gehoor het.”

Claudia is oorspronklik van Lydenburg, Mpumalanga, waar haar ouers, Johan en Graday Olivier steeds woon. Na matriek skryf sy in 2019 aan die Potchefstroomse Universiteit in vir haar B.Pharm-graad, wat sy binne die voorgeskrewe 4 jaar suksesvol verwerf. Daarna het die vereistes in die aptekerswese op haar gewag. (Om ‘n aptekersberoep aan te durf, is moeiliker as wat mens dink!) In 2023 het Claudia haar een jaar verpligte Internskap by die Rooikruis Kinderhospitaal in die Kaap deurloop. Op 15 Januarie 2024 het sy by Gansbaai Apteek met haar een jaar verpligte Gemeenskapsjaar begin, wat Januarie 2025 ten einde sal loop. Daarna kan sy begin om aansoek vir permanente Aptekersposte te doen. “Eintlik hou ek meer van ‘n hospitaal-omgewing, maar sal nog finaal oor my toekoms besluit wanneer hierdie jaar agter die rug is,” het Claudia gesê.

Intussen geniet sy haar werk as Apteker by Gansbaai Apteek terdeë en vertel dat sy baie gelukkig daar is. “Ek sien egter uit na die einde van my Gemeenskapsjaar sodat ek my iewers permanent kan vestig,” sê Claudia. “Ek is moeg rondgetrek en kan ook niks begin bymekaar maak voordat ek myself nie iewers permanent gevestig het nie.” Sy het bygevoeg dat sy haar Internskapsjaar en Gemeenskapsjaar as ‘n uitstekende leerskool ervaar. Die Gans-Berg Nuus wens ons ‘nuwe’ apteker sedert Januarie vanjaar ‘n aangename tydperk in Gansbaai toe vir die res van 2024, asook vir haar toekomsplanne.

Hardus Botha

Gansbaai Apteker Klaar Two Oceans Marathon

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Filler: Mole Snake

Filler: Mole Snake

A punchy picture of an impressive mole snake being expertly handled by one of the Grootbos Field Rangers, Yolanda. 

Overstrand Medical Centre

Overstrand Medical Centre

Die bouwerk aan Overstrand Medical Centre, skuins oorkant Gansbaai SAPD se geboue, is steeds doelgerig aan die gang.

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Die deelnemers aan die jaarlikse Gansbaai Tuinkompetisie deur Gansbaai Toerisme is onlangs met pryse vir hulle harde werk beloon.

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

Lesers wat nie die voorreg het om ‘n ‘Wit Kersfees’ (White Christmas) oorsee te kan ervaar nie, gaan loer gerus in by Plot 1.

Overberg Posduif Unie

Overberg Posduif Unie

Vanjaar was daar geen keer aan Louis Groenewald nie.

15 Desember 2024: Vissermansdankdiens

15 Desember 2024: Vissermansdankdiens

Die jaar is bykans agter die rug en dit is weer tyd vir ons jaarlikse Vissermansdankdiens.