Gans-Berg Nuus / News - 28 November 2025 Edit...
Catch up on the latest community stories from Gansbaai and surrounds!
Danie Maree (65), afgetrede Hoof van Elektriese Dienste vir Gansbaai-, Stanford- en later Overstrand Munisipaliteit, se afsterwe op 26 Julie 2025 het 'n groot leemte onder sy gesin, familie, vriende, die gemeenskap en sy voormalige kollegas gelaat. “Hy was 'n man van integriteit en deernis - sy omgee-hart en leierskapsvermoëns het menige mense se lewens verander en verbeter,” skryf Danie se kollegas in 'n huldeblyk namens Overstrand Munisipaliteit.
Danie is verlede jaar met longfibrose, onder die versamelnaam pulmonale siektes, gediagnoseer. Sy longe het, sonder dat hy ooit gerook het, sodanig agteruitgegaan dat hy op 30 Junie 2024 medies moes aftree. Sowat 'n jaar later het die siekte die oorhand gekry.
Danie is op 22 Maart 1960 gebore en was vir meer as 30 jaar 'n Gansbaaier. Hy het aanvanklik vir die Overberg Distriksmunisipaliteit gewerk, waarna hy op 1 April 1993 na Gansbaai Munisipaliteit se Elektriese Dienste oorgeplaas is. Daar het hy homself oor 'n tydperk van 31 jaar tot Hoof van Elektriese Dienste opgewerk. “Ek het vir 15 jaar direk aan Danie in Ondersteuningsdienste gerapporteer en hom deurgaans as 'n leiersfiguur met integriteit en 'n omgee-hart ervaar,” vertel Marissa Radyn van GIS Ondersteuningsdienste. “Hy het opleidingsgeleenthede vir ons geskep en wat ons vandag is, is aan hom te danke - meeste van ons elektrisiëns het onder hom as handlangers begin werk.”
Om na al Danie se suksesvolle projekte te verwys, is 'n onbegonne taak. Hier is net enkele hoogtepunte: Gansbaai se Kersliggies, wat hy van die begin af oor dekades heen gedryf en uitgebou het; elektrisiteitsnetwerk-opgraderings vanaf bogronds na ondergronds; die nuwe Birkenhead 66kV-substasie wat op 26 Junie 2025 geopen is, met Danie wat reeds te swak was om dit by te woon. Hy was ook baie betrokke by SARPA (South African Revenue Protection Association) en AMEU (Association of Municipal Electricity Utilities).
Gansbaai/Stanford se voormalige Areabestuurder, Kat Myburgh, het hom in sy huldeblyk by bogenoemde projekte aangesluit. “Danie was 'n man wat vir meer as 30 jaar 'n passie gehad het vir die voorsiening van elektrisiteit aan die inwoners van Gansbaai,” het Kat gesê. “Hy was altyd besig met langtermynbeplanning en sy proaktiewe ingesteldheid het gesorg dat daar altyd betyds in die begroting voorsiening vir projekte gemaak is.” Kat sê met Danie se koms vanaf Caledon in die vroeë negentigerjare was daar geweldige agterstande. “Die verouderde elektriese netwerk tussen Gansbaai en Pearly Beach is maar een voorbeeld - ons erken sy nalatenskap en die verskil wat hy in Gansbaai en Stanford gemaak het - ons gaan jou mis, Danie!”
Danie was 'n merkwaardige mens met 'n groot omgee-hart vir sy gesin, vriende, die gemeenskap en sy kollegas - hy het diep spore in die lewens van almal oor jare heen getrap. Dit het ook geblyk uit verskeie huldeblyke wat deur gesinslede tydens sy gedenkdiens voorgelees is. Danie se getroue vriend en woonstelbewoner by hom vir 18 jaar, Derick Jerrard (86), sê hy het Danie nog altyd as sy “pa” en “mentor” beskou.
'n Gedenkdiens is op Vrydag, 8 Augustus 2025 in die NG Kerk deur ds. Willie Kotze aangebied. Danie laat sy dogter, Marilise, sy seun, Rudi, en 'n kleinseun, Matio (3), agter, asook sy getroue lewensmaat vir die afgelope vyf jaar, Marietjie du Toit.
Hardus Botha
Gans-Berg Nuus / News is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. Alternating between Afrikaans and English on the front page, it provides current local news, municipal updates, business advertising, and general items of interest. Businesses and p...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreCatch up on the latest community stories from Gansbaai and surrounds!
This edition is packed with local achievements, community celebrations, heartwarming stories, and important updates.
This week’s Gans-Berg Nuus is filled with community pride and inspiring local stories.
From festive season preparations and heroic fire-fighting efforts to local school triumphs...
Die tema, “Boererate en resepte van toeka tot nou”, het baie interessante resepte...
Colleen Knox was a lovely lady who I met at Lighthouse Tavern restaurant which I had purchased in 2008.