Blog

Gansbaai Academia kry ‘ou hand’ as Skoolhoof: Carien Fortuin

Gansbaai Academia kry ‘ou hand’ as Skoolhoof: Carien Fortuin

Gans-Berg Nuus / News

Gansbaai Academia kry ‘ou hand’ as Skoolhoof: Catharina (Carien) Fortuin

Gansbaai Academia se ‘nuwe’ skoolhoof met ingang van 1 Mei 2022 is Catharina Fortuin, beter bekend as Carien. Dit is nie net ‘n welkome aanstelling vir die personeel en leerders nie, maar ook vir die gemeenskap. Carien is sedert die opening van die skool in 2010 betrokke en is dus ‘n ‘ou hand’, sonder enige aanpassings met haar as skoolhoof vir die onderwysers en leerders. 

“Ek sal graag wil voortbou op die goeie tradisies en groei van Gansbaai Academia oor die afgelope 12 jaar,” het Carien tydens ‘n onderhoud met Gans-Berg Nuus gesê. “As deel van my toekomsvisie vir die skool, wil ek voluit fokus op meer beroepsgerigte vakke vir die leerders.” Haar droom is dat Gr 12’s, ná die voltooiing van hul skoolloopbaan, nie probleme sal ondervind om in volwaardige beroepe in die samelewing aangestel te word nie.

Carien verwerf die volgende kwalifikasies aan die Universiteit van Wes-Kaapland: BA (1992); HOD (1993); B.Ed (1997); M.Ed (2001). Dan verwerf sy ook ‘n sertifikaat vir ACE Leadership in 2015 aan die Universiteit van Stellenbosch. Oorkoepelend beskou, is hierdie kwalifikasies voorwaar ‘n mondvol!

In 1993 begin Carien haar onderwysloopbaan in haar tuisdorp, Steinkopf naby Springbok in die Noord-Kaap by die Steinkopf Sekondêre Skool. Daarna volg enkele skole totdat sy in 2010 as onderwyser by Gansbaai Academia aangestel word.

Dit was ‘n groot besluit vir haar met baie verantwoordelikhede en onsekerhede. Gansbaai Academia is ‘n veeltalige hoërskool wat uit alle gemeenskappe in die omgewing saamgestel is. Hierdie uitdagings het sy ‘vrou-moedig’ aanvaar en sedert die eerste dag saam met Tommy Wilson, wat die eerste skoolhoof was, gewerk.

‘n Jaar later word sy in 2011 as Departementshoof (Afrikaans en Toerisme) aangestel. Slegs 3 jaar later word Carien in Julie 2014 as Adjunkhoof aangestel, waar sy vir die afgelope 8 jaar deeglike ervaring in die bestuurs-eskader van die skool opgedoen het. “Dit was ‘n lang pad met harde werk en baie inisiatiewe wat aan die dag gelê moes word, onder leiding van Tommy,” vertel Carien. Die welverdiende vrugte wat sy vandag pluk, is haar aanstelling as Skoolhoof.

Carien is ‘n weduwee, nadat haar eggenoot, Michael Fortuin, haar in 2017 ontval het. Hy was ook in die onderwys en het onder andere as ‘n Vakadviseur in die Departement van Onderwys gewerk. ‘n Dogter, Carmen (17), is uit die huwelik gebore en is vanjaar ‘n Gr 12 leerder aan Hermanus Hoërskool.

Met Carien se siening om beroepsgerigte vakke te laat aanbied, het sy onder andere in 2021 met Gasvryheidstudies as ‘n loodsprojek begin - wat lankal reeds as ‘n baie groot sukses uittroon. Onder die vaandel van Three Streams / Vacation vir die Gr 8’s, sorteer baie interessanthede.

So is daar die skool se restaurant, met Carien se droom om dit in ‘n volwaardige restaurant te omskep. Onder dieselfde vaandel gaan sy ook aansoek gedoen om Digitale Tegnologie as ‘n volwaardige vak te laat aanbied. Coding & Robotics word tans gedeeltelik aangebied, maar sy wil dit ook graag as ‘n volwaardige skoolvak laat registreer. Marine Sciences as vak is ook in haar visier om dit, met die ondersteuning van bepaalde vennote, tot ‘n hoër vlak uit te brei.

Carien was destyds betrokke by die aansoek vir die skool se eerste 5 nuwe bykomende klaskamers. “Ek het reeds goedkeuring ontvang vir nog 5 klaskamers wat goedgekeur is, met die bouwerk wat in 2023 sal begin”.

Kyk mens na Gansbaai Academia se groei sedert 2010, het die skool met omtrent 300 leerders en 11 onderwysers begin. Vanjaar is daar 1 259 leerders, 41 onderwysers en 159 Gr 12’s.

“Ek sal graag die gemeenskap in geheel, alle groeperinge, aktief by die skool betrokke wil kry,” het sy gesê. “Ons droom was nog altyd om ‘n ‘Baken van Hoop’ vir die Groter Gansbaai te wees.” Sy skroom ook nie om te sê dat sy graag op haar voorganger, Tommy Wilson, se deeglike werksaamhede sedert die opening van die skool sal wil voortbou.

Gans-Berg Nuus, asook die gemeenskap, wens Carien alle voorspoed en sterkte toe vir die toekoms met haar nuwe en groter verantwoordelikhede. Die vertroue word uitgespreek dat sy die skool steeds van krag tot krag sal laat groei. Sterkte aan Gansbaai Academia se nuwe leier, Carien Fortuin, asook aan die personeel en leerders.

Image

Gansbaai Academia se leuse:
Extendere Alas Vestri - Sprei jou vlerke.
Die skool se hoofdoel: 
Enter to Learn, Leave to Serve; Kom in om te Leer, Gaan uit om te Dien; Ngena uFunde, Phama uyo kuKhonza.”

 
Hardus Botha
Gansbaai Academia kry ‘ou hand’ as Skoolhoof: Carien Fortuin

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 12)

In Deel 12 sluit ons af met die twee egpare, Fanie en Judy Bothma van Franskraal en Dolf en Elna Nel van Saldanha...

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Die boothengelkompetisie van 30 April 2024 wat deur die bestuur van die Birkenhead Boothengelklub gereël is, verskil so 'ietwat' van die klub se gewone maandelikse kompetisies.

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos - ‘First Thursday’

Afrikanos, die restaurant, bekend vir sy krokodille, op die dangerpoint-pad, het ‘n bedrywige en gesellige ‘First Thursday’ op Donderdagaand, 4 April 2024.

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 11)

Ontdek Zimbabwe en Botswana (Deel 11)

In Deel 11 gaan ons voort met die twee egpare, Fanie en Judy Bothma van Franskraal en Dolf en Elna Nel van Saldanha.

Luxe Travel Awards 2024

Luxe Travel Awards 2024

Over the past nine months, the Luxe Travel Award judges have traversed South Africa in pursuit of unparalleled hotel experiences.