Blog

Oud-Pearly Beacher maak geskiedenis in Maldives

Oud-Pearly Beacher maak geskiedenis in Maldives

Gans-Berg Nuus / News

Image

Oud-Pearly Beacher maak geskiedenis in Maldives...

met ‘n “all female” vlug

Tanya Kleynhans, ‘n oud-Pearly Beacher, het haarself deur en deur ‘in die lug’ bewys en ook vanjaar geskiedenis in Maldives gemaak. Sy en twee vroue-kollegas het alleen een van die maatskappy se ‘Twin Otters’ (seevliegtuie) tydens ‘n vlug beman.

Lesers sal nog onthou van die tragiese vliegongeluk waarin Tanya se pa, Theo Kleynhans van Pearly Beach, op 15 Mei 2010 met sy 2-sitplek mikroligte vliegtuig neergestort en sy lewe verloor het. Tanya was toe in matriek, maar die tragiese gebeure het nie die moedige en vasbeslote Tanya ondergekry nie en sy het volwaardig in haar pa se voetspore gevolg. “Ek het reeds sedert 7-jarige ouderdom saam met my pa gevlieg en dit was nog altyd my droom om ‘n gekwalifiseerde vlieënier te word,” het Tanya destyds gesê.

Intussen het ons Pearly Beacher groot hoogtes bereik waarop haar ma, Julanda Kleynhans, steeds van Pearly Beach, sommer baie trots is. Tanya vertel dat sy gelukkig genoeg was om op 7 Januarie vanjaar deel te kon word van Maldives se geskiedenis. Sy en haar twee vroue-kollegas het die eerste ‘all female’ vlug in Maldives alleen in ‘n ‘Twin Otter’ (seevliegtuig) van Manta Air beman. Die drie vroue-bemanningslede op die vlug was: Larissa Offeney (Kaptein), Tanya Kleynhans (1ste Offisier) en Aishath Muzna (Kajuitpersoneellid).

“Dit was ‘n kosbare ervaring en ons was oral in die nuus. Dit was ‘n groot mylpaal vir die maatskappy, asook vir die seevliegtuig-industrie en vrouens in die algemeen,” vertel Tanya. “Baie mense weet dit nie, maar Maldives is ‘n 100% Moslemland, wat beteken dat almal onder hulle reëls val en juis daarom was hierdie vlug van drie vroue absoluut uitsonderlik, wat opslae in die media gemaak het.” Sy vertel ook dat hulle drie in Maldives as die ‘Barefoot pilots’ bekendstaan omdat hulle kaalvoet vlieg!

 
Tanya se pad na sukses

Kort ná haar matriekjaar (2010) het Tanya daadwerklik aan haar droom begin werk. In 2011 begin sy met vliegopleiding by Aerosport in Durbanville. Sy verwerf haar eerste vlieglisensie, Private Pilot Licence (PPL) in April 2012 en in 2015 haar Commercial Licence (CPL), sowat 5 jaar ná haar pa se vliegongeluk.

Tanya se eerste werk as gekwalifiseerde vlieënier was in September 2015 in Namibië as ‘n ‘bush pilot’. Sy beskryf dit as ‘n wonderlike ervaring wat ‘n groot voorreg was, aangesien sy baie plekke gesien het wat nooit andersins die geval sou gewees het nie.

Tanya en haar lewensmaat, Martin Muller van Stellenbosch, ook ‘n gekwalifiseerde vlieënier, het mekaar in Namibië ontmoet, waar hy vir ‘n ander maatskappy gevlieg het. Daarna is hulle vir ‘n kort rukkie terug na Suid-Afrika om tyd met familie en vriende te spandeer. Tydens hierdie besoek het ‘n vriend ‘n advertensie van ‘n maatskappy in Maldives, wat vlieëniers vir hulle seevliegtuie soek, vir hom gegee. Lang storie kort, hulle het altwee aansoek gedoen en was suksesvol - in Augustus 2019 was altwee van hulle op pad om seevliegtuie in Maldives te gaan vlieg. “Ongeag van wat ons van vliegtuie wat op water land teenoor Namibië se woestyn-wêreld geweet het, was dit ‘n groot avontuur,” vertel sy. 

Slegs 10 maande later is hulle saam met ander Suid-Afrikaners as gevolg van Covid uit Maldives gerepatrieër. “Ons tyd by Trans Maldivian Airways in Maldives was toe vir eers verby.” Hulle was ‘n paar maande in Suid-Afrika waar sy en Marting haar ma by dié se restaurant in Pearly Beach uitgehelp het. In Desember 2020 ontvang hulle toe weer ‘n aanbod vanuit Maldives - die keer deur ‘n ander maatskappy. “Ons het al ons vlieglisensies hernu, dokumente op datum gekry en werk sedert April 2021 by Manta Air, weer in Maldives,” vertel sy. 

Tanya verduidelik dat die ‘Twin Otter’ ‘n vliegtuig is wat op land, water en sneeu kan land, afhangende van die onderstel wat hy op het. Dit kan tot 20 passasiers vervoer. In Maldives vlieg hulle met ‘n stel van 3 bemanningslede per vliegtuig - ‘n Kaptein, 'n Eerste Offisier en ‘n "cabin crew". Tanya sê dit behels baie fisiese werk omdat hulle letterlik alles self moet doen. 

Tanya en Martin het Pearly Beach onlangs besoek vir ‘n vakansie en ook om Martin se 30ste verjaarsdag hier te vier. Hulle weer terug, waar hulle met ‘n opgraderingsproses gaan begin na die rang van Kaptein. Sy sê dit is ‘n baie streng proses, maar hulle is baie opgewonde en werk hard daaraan. “Altwee van ons behoort binne die volgende maand of twee as ‘kaptein’ van ons vliegtuie te vlieg,” vertel sy dankbaar en trots. “Sodra dit gefinaliseer is, sal ek foto’s aan jou by Gans-Berg Nuus stuur,” het Tanya belowe.

“Ek is só trots op daardie twee jongmense,” vertel Julanda. “Nou wag ek net dat hulle as die twee ‘kapteins’ sal bekendstaan!”

 
Hardus Botha
Image 1
Tanya Kleynhans as matriekmeisie met haar pa, Theo Kleynhans op die inlasfoto.
Image 2
Tanya Kleynhans as vlieënier nadat haar droom verwesentlik is.
Image 3
Tanya Kleynhans en haar lewensmaat, Martin Muller.
Image 1
Die ‘Twin Otter’ waarmee Tanya Kleynhans en Martin Muller in Maldives vlieg.
Image 2
Tanya Kleynhans ontspan heerlik in Maldives.
Oud-Pearly Beacher maak geskiedenis in Maldives

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

Lesers wat nie die voorreg het om ‘n ‘Wit Kersfees’ (White Christmas) oorsee te kan ervaar nie, gaan loer gerus in by Plot 1...

Igniting the Spirit of Endurance

Igniting the Spirit of Endurance

The Trans Enduro is a remarkable event with a longstanding tradition in the South African Military, dating back to the early 1980s...

Die ‘Boet van Visnette’

Die ‘Boet van Visnette’

Besoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote...

Filler: Mole Snake

Filler: Mole Snake

A punchy picture of an impressive mole snake being expertly handled by one of the Grootbos Field Rangers, Yolanda. 

Overstrand Medical Centre

Overstrand Medical Centre

Die bouwerk aan Overstrand Medical Centre, skuins oorkant Gansbaai SAPD se geboue, is steeds doelgerig aan die gang.

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Die deelnemers aan die jaarlikse Gansbaai Tuinkompetisie deur Gansbaai Toerisme is onlangs met pryse vir hulle harde werk beloon.