Blog

Liefdesverhaal Van 50 Jaar - Martin en Eileen du Plessis

Liefdesverhaal Van 50 Jaar - Martin en Eileen du Plessis

Gans-Berg Nuus / News

Liefdesverhaal Van 50 Jaar - Martin en Eileen du Plessis

‘n Liefdesverhaal soos min - verloof op 27 Oktober 1967 en presies op dié dag en maand, getroud op 27 Oktober 2017 - ‘n ronde 50 jaar later. Dit klink na ‘n liefdesroman, maar vir Martin en Eileen du Plessis van Franskraal was dit ‘n sprokies-werklikheid.

Martin (75) en Eileen (75) het mekaar as studente aan die Onderwyskollege Welington ontmoet - Martin was ‘n eerstejaar-student en Eileen ‘n tweedejaar-student. Op 27 Oktober 1967 het dié twee studente verloof geraak, maar daar was twee kinkels in die kabel. Eerstens het Eileen met die hoofstudent uitgegaan en hom toe vir Martin gelos. “Eintlik het ek haar van hom afgevry,” vertel Martin. Hy het sleg onder die seniors deurgeloop, want waar het jy gesien ‘n eerstejaartjie vry die hoofstudent se meisie af. Die groter kinkel in die kabel was egter Eileen se pa wat ‘n moeilike man was. Martin en haar pa het koppe gestamp en Eileen moes later swig onder sy druk - die verlowing moes verbreek word.

Na kollege is Martin na Kimberley waar hy vir 13 jaar onderwys aan verstandelik-gestremde leerders gegee het. Hy is daarvoor bekend dat hy diep spore op die gebied van gestremde onderwys getrap het. In Kimberley is hy later getroud en twee seuns en ‘n dogter is uit die huwelik gebore. Ongelukkig is Martin en sy vrou destyds weens persoonlike redes uitmekaar.

Eileen het in Somerset-Wes aangebly en ‘n onderwyspos aan die Laerskool Somerset-Wes aanvaar. Daar het sy haar volle onderwysberoep vir sowat 50 jaar ononderbroke beoefen. Sy is ook getroud, maar haar eggenoot het haar in 2014 ontval. Die egpaar was kinderloos. In 2017 het sy as Departementshoof afgetree.

Martin en Eileen het mekaar slegs op hulle verjaarsdae gekontak. Martin is in 2012 en 2013 na Saoedi-Arabië, waar hy Engels doseer het. Daarna het hy in Hartenbos gaan aftree. Op ‘n keer was hy van Hartenbos af op pad na ‘n vriendin in die Kaap. Hy het ‘n ou vriend van hom geskakel, wat hom gevra het waarheen is hy op pad. Martin se vriend het hom daaraan herinner dat hy nog altyd gedink het om Eileen te gaan groet. “Waarom dan nou nie?” het Martin gedink. Martin het Eileen gekontak en hulle het ‘n middagete saam geniet. Daarna was dit ‘n naweek in mekaar se geselskap en die koeël was deur die kerk. Presies op hulle verlowingsdatum van 27 Oktober 1967 is hulle op 27 Oktober 2017 in die huwelik bevestig - ‘n ronde 50 jaar later. Het iemand nie op ‘n keer gesê: “Ou liefde roes nooit”?

“Ons is in Eileen se Tudor-huis getroud,” vertel Martin. “Ek onthou nog duidelik hoe sy met die trappe in haar huis in ‘n pragtige rooi rok afgestap het. Ek en my twee seuns en my dogter, asook my ses kleinkinders, het onder vir haar gewag.” Daar is die egpaar toe in die huwelik bevestig - 50 jaar later.

Nadat hulle getroud is, het die egpaar nog vir ‘n wyle in Somerset-Wes aangebly, maar later na Mosselbaai verhuis. “Daar het ek vir Martin gesê dat dit darem ‘n baie bedrywige plek is en dat ek baie graag in ‘n rustiger omgewing sou wou woon,” vertel Eileen. Martin het haar van Franskraal vertel waar hy voorheen sowat 20 jaar gewoon het. Sommer met hulle eerste besoek aan Franskraal was Eileen baie beïndruk en op 1 September 2021 het hulle na Franskraal verhuis.

Eileen is steeds baie lief vir die onderwys. Sy ondersteun tans ‘n dogtertjie met remediërende Wiskunde-onderrig. Martin sê nee-wat, hy is te lief vir visvang en hou homself daarmee besig, asook met sy bergfiets. Hy is ook by Gansbaai Posduifklub betrokke waar hy vir Norman Stevens (Jnr) ondersteun. Duiwe-wedvlugte vloei ook in sy bloed. “Ek was sedert my skooldae by duiwe-wedvlugte betrokke,” vertel Martin. In Kimberley was hy ‘n groot duiwe-wedvlugboer met heelparty kampioenskapstoekennings agter sy naam.

Nou-ja, ‘n liefdesverhaal soos min! Verloof op 27 Oktober 1967 en 50 jaar later getroud op 27 Oktober 2017 - dít wil gedoen wees!

 
Hardus Botha
Liefdesverhaal Van 50 Jaar - Martin en Eileen du Plessis

Gans-Berg Nuus / News

Gans-Berg Nuus is a weekly bilingual community newspaper serving Gansbaai and the surrounding Overstrand areas. With a front page that alternates between Afrikaans and English each week, Gans-Berg Nuus / News is proud to be a platform that stays up to date with local news stories, important municipa...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

‘Wit Kersfees’ in Uilenkraalsmond

Lesers wat nie die voorreg het om ‘n ‘Wit Kersfees’ (White Christmas) oorsee te kan ervaar nie, gaan loer gerus in by Plot 1...

Igniting the Spirit of Endurance

Igniting the Spirit of Endurance

The Trans Enduro is a remarkable event with a longstanding tradition in the South African Military, dating back to the early 1980s...

Die ‘Boet van Visnette’

Die ‘Boet van Visnette’

Besoekers en vakansiegangers sal in die loop van die volgende paar dae ‘n hele bedrywighede met ons Pelagiesie Vissersbote...

Filler: Mole Snake

Filler: Mole Snake

A punchy picture of an impressive mole snake being expertly handled by one of the Grootbos Field Rangers, Yolanda. 

Overstrand Medical Centre

Overstrand Medical Centre

Die bouwerk aan Overstrand Medical Centre, skuins oorkant Gansbaai SAPD se geboue, is steeds doelgerig aan die gang.

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Tuinkompetisie Dien As Voorbeeld

Die deelnemers aan die jaarlikse Gansbaai Tuinkompetisie deur Gansbaai Toerisme is onlangs met pryse vir hulle harde werk beloon.