Vanuit My Stoel: Julie 2024

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Gansbaai Courant

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Dit het al in Genesis begin: die ding van verleiding, teenoor dit wat reg en eg is. So met die loop van jare, het ons ook geleer dat ‘n storie kante het - jou kant, my kant en die waarheid.

Daar word niks van papierwerk in die Bybelse paradys gepraat nie, maar later wel van kliptafels. Tot vandag toe blyk dit dat niks wettig is, tensy dit op klip uitgekap of later jare met ink en handtekeninge bekragtig is nie. Een se woord en bedoeling kan so rein en goed wees as wat rein en goed moontlik is, maar een ding is seker en dit is dat omstandighede verander. As jou papierwerk dus nie in orde is nie, het jy moeilikheid.

Dat omstandighede verander het, was sekerlik die geval met die gebeure by Paradise Park in Hermanus toe mense, wat jare op die stuk grond gewoon het, op straat uitgesit is. Ja, dié wat nie self wou gaan nie se totale aardse besittings is aan die straatkant teen die draadheiding gepak. Rye en rye. Armsalig het dit daar gestaan, net vir optel.

Dat daar stories is om te vertel, is wel so. Van hulle baie hartseer en ander met ‘n kinkel in die kabel wat jou laat wonder hoe ver ‘n persoon wil gaan om die storie tot sy voordeel te verdraai.

Paradise Park se mense is hul huise kwyt en die droom om in ‘n huisie by die die see oud te word, het vervaag tot ‘n pondokkie in ‘n buurt waar hulle nooit uit eie vrye wil sou wou woon nie. 

‘n Dak oor jou kop, skuiling teen die aanslae van die natuur, veilige rusplek. Die spreekwoord sê mos: my huis is waar my hart is.

Maar in menige gevalle is jou hart nie waar jou huis is nie. Maak maar seker van die swart op wit, voordat jy jou laaste pensioen- of spaargeld uitgee vir daardie droomhuisie op iemand anders se grond.

Van drome gepraat. Ek droom al van my vakansie in die bosveld. Ja, ek gaan mos elke jaar dié tyd ‘n bietjie noorde toe en vanjaar is geen uitsondering nie. ‘n Groot fees wag vir ons moeder se 97ste verjaarsdagviering op 12 Julie.

My ma het ‘n vriendin gehad wat op ‘n rype 103 jaar oorlede is. Wanneer my ma haar klokslag met haar verjaarsdag gebel het, het die tannie altyd gesê: dit lyk my die Here het van my vergeet. 

Ek kan met dankbaarheid sê dat my ou moeder nog vir ons gespaar is. Nou met haar verjaardagviering, is ek nie verbaas oor al die ‘jong’ mense wat die uitnodiging aanvaar het nie. Die meeste van hulle se ouers is reeds oorlede en my ma het vir hulle die ma op aarde geword om lief te hê en te respekteer. Ek is trots op hierdie vrou wat ‘n formidabele sakevrou, gemeenskapsleier en vrou was wat my pa tot met sy dood onderskraag het. Sy is voorwaar ‘n vrou ver bo korale. 

Gun my die familietyd. My dogters het my ook besig gehou met ‘n kuier uit die Kalahari, trourok soek, babatee (ja, ek gaan ouma word!) en ‘n trek na ‘n groter huis wat baba en pa se werksplek kan huisves.

Hierdie uitgawe van die Gansbaai Courant is nie in druk beskikbaar nie, maar word as e-Courant gratis en wyd aan ons lesers versprei. Die redakteur was net te besig met die lewe om die drukwerk te kan betaal, maar dalk bereik ons meer lesers op hierdie wyse. Laat weet wat jy dink.

Of jy ‘n ou of ‘n nuwe leser is, ek glo dat daar iets in hierdie uitgawe sal wees waarvan jy nog nie geweet het nie. Stuur dit gerus aan na jou vriende, vennote en vyande.

Lekker lees!

Marinda van der Walt

Vanuit My Stoel: Julie 2024

Marinda vd Walt

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed Verminder

R43 Padgebruikers Kla: Padmakers Moet Spoed V...

Gansbaai Courant het heelwat klagtes van padgebruikers ontvang dat die R43-pad tussen Stanford en Gansbaai onveilig is.

Gansbaai Courant
Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Vertonings

Sirkels: Anton Goosen se Nuwe Album en Verton...

Anton Goosen se nuwe album, Sirkels, maak draaie om die liefde en die lewe,maar handel ook oor sirkels van tyd, op die water, om paaldanse, arende, en die stryd tussen goed en kwaad, vrede en oorlog, sinvolheid en hoop.

Gansbaai Courant
Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Kaalvoetkinders

Kultuurghoeroe's Deurvleg Met Kroonstad Se Ka...

Alles het so gelyk gebeur - Media24 se aankondiging dat van hul koerante nie meer in druk beskikbaar gaan wees nie, Anton Goosen se nuutste musiekalbum wat vrygestel is en die afsterwe van baanbreker-redakteur, Schalk Pienaar se dogter, Annatjie Louw...

Gansbaai Courant
Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Amanda Skuiw Na 'n Nuwe Era

Sedert 1950 is Seaviewrylaan 177 deel van die De Vries-familie en hul geskiedenis, maar dis nou tyd vir Amanda om aan te skuif.

Gansbaai Courant
Dorp Raak Al Vroliker

Dorp Raak Al Vroliker

Muurskilderye en bewerkte tuine maak Gansbaai vroliker. Oorspronklike berig in Gansbaai Courant Julie 2024.

Gansbaai Courant
Skelm teer sy pad terug selle toe

Skelm teer sy pad terug selle toe

‘n Ou skelm het Maandag spreekwoordelik in die leeu se bek ingestap toe hy ‘n...

Gansbaai Courant