Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Ds. D.C. (Dirk) van Dyk se Gansbaai-wortels
Ds. D.C. (Dirk) en Marina van Dyk is op 4/8/2006 verwelkom en hy is in sy amp as derde gemeente-leraar van die NG-gemeente Gansbaai bevestig. Die gedig (onder) is spesiaal, n.a.v. sy intreepreek vir ds. Dirk deur Dries van Heerden geskryf.
Ds. Dirk se pa en voorgeslag was ook oud-Gansbaaiers. Sy pa, ds. Dirk van Dyk sr, is op 29/3/1910 in Gansbaai gebore en was een van 7 kinders van ‘n vissersmansgesin. Hulle huis was waar die karavaanpark vandag is. Ds. Dirk sr. is op 6 jaar na Gansbaai Laerskool, en was tot en met sy afsterwe die oudste oud-leerling van die skool wat in 2006 sy 100-jarige bestaan gevier het. Sy seun, ds. Dirk van Dyk, vertel dat ds. Dirk sr. op 13 jaar, die skool moes verlaat om, soos die meeste van sy tydgenote, te gaan visvang om te help met die versorging van die gesin, veral na sy pa se dood. Hy was 13 jaar lank‘n visserman. Toe hy 26 jaar was is hul vissersboot deur fratsgolwe omgekeer. Terwyl ds. Dirk vir oorlewing strand toe geswem, het, het hy ‘n belofte aan die Here gemaak dat, indien sy lewe gespaar word, hy voltyds vir Hom sal gaan werk. Al die bemanningslede het veilig op die strand aangekom en ds. Dirk het sy belofte gehou.
Vasberade is hy op 26 j. terug skool toe! Hy het hard gewerk en het st. 7 en 8 in een jaar verwerf, en st. 9 en 10 (grade 11 en 12) die volgende jaar in Bredasdorp, waar hy ook ‘n steunpilaar in die rugbyspan was. Daarna is hy na Stellenbosch, kweekskool, waar hy in 1946 op 36 jaar, as predikant afstudeer. Met CSV vakansiedienste in Hermanus het hy sy groot liefde, Hester, ontmoet. Hulle is in 1947 in die huwelik bevestig en het 3 seuns, Louis, Dion en Dirk, en ‘n dogter, Marietjie. In 1980 tree hy op die ouderdom van 70 jaar af en die egpaar woon in Franskraal, waar hulle vroeër gedurende die vyftigerjare ‘n vakansiehuis gekoop het. Hy is oorlede en sy begrafnisdiens is op 2/8/2006 deur dr. Van der Walt gelei. Daarna is die teraardebestelling in Gansbaai-begraafplaas deur sy seun, ds. Dirk van Dyk, waargeneem.
Dominee, waar’t jy van die see geleer?
Ken jy sy donker diepte, sy woeste wind?
Waar sal jy sy pêrels vind?
Weet jy van verdwaal in dik misweer?
Aan wie’s jy geanker, Meneer?
Welkom in die Gansbaai-skuit.
Ons weet jy ken jou werk en plek.
Roei gelyk, in gelid en trek, trek!
Laai jou hoek met Evangelie-bait
en wag op dit wat God ontsluit.
Bring jou bokkoms na die Here,
offer siele uit ‘n stormsee.
Hy skenk jou rus, en vree.
Seën mense met liefde en genade,
want hul’s die sout van die aarde.
As jy moeg en moedeloos is,
of kommerkanker jou kis,
weet dán, dat ons vír jou is.
Mag jy nie ophou kniel nie.
Sý goedheid sal nie opraak nie!
Om kerkraadslid te wees . . . Tannie Hermine Groenewald vertel :
"Jare gelede toe ek in mnr. Zietsman se kantoor gewerk het, waar ons onder andere die vissersbote en bemanning se boeke gedoen het, kom een boot-eienaar/skipper met die bynaam Johnny Predikant by my lessenaar sit en vra of ek hom kan raad gee. Hy en sy tweelingbroer, Louwie Lourens, is tydens die jongste kerkraadsvergadering tot die amp van diakens verkies. Hulle ma was ontsettend verheug; sy het altyd met Pinkster deur haar trane heen die kinders by die name genoem wanneer sy vir hulle gebid het. Ek wens Johnny geluk en vra wat sy probleem is. Plegtig vou hy sy hande, kyk my in die oë en sê: "Ek doen te veel sonde." Ek antwoord: "Noem wat is die grootste.” Sy antwoord: "Ek vloek te veel, veral snags op die skuit.” Toe dink ek diep en sê vir hom: "As dit al is wat jou pla, kan jy maar die amp met vreugde aanvaar, solank jy gaan probeer en aanhou bid vir die Here se hulp, want daar is nie een kerk-raadslid wat nie ook sondaar is nie.” Hulle bevestiging deur ds. Bosman was 'n heuglike gebeurtenis, getemper deur die trane oor hulle ma se afsterwe 'n paar weke voor die tyd.”
“Ek dink dit is wat kerkraadslid werklik beteken: Om te weet hoe groot my sonde en ellende is en dat ek in Christus 'n genadige God het. Dat ek ook 'n lewe lei van val en opstaan, opstaan en
weer val . . . Gelukkig in die hande van Hom wat my dra.
Dit is my voorreg om vir 24 jaar feitlik ononderbroke (net 'n drie maande onderbreking) op Gansbaai se kerkraad te kan dien, eers as diaken en daarna as ouderling. Ek onthou al die wonderlike predikante wat ons gelei het, die hoogs bekwame en gelowige leier- ouderlinge en diakens en ek het nooit 'n kerkraadslid geken wie nie as 'n mooi christen opgetree het nie. Ek onthou toe oom Jacob de Villiers leier-ouderling was en Johan Pieterse leier-dia-ken, dat daar op hul horlosies gekyk is hoe vinnig en effektief die nagmaal deur die diakens bedien kon word.”
“Ek was ook bevoorreg om 'n pad saam met my Blomparksusters en broers te kon loop, vandat ek vir 'n tydjie hulle kerkboeke gedoen het totdat ek kon beleef dat hulle ook saam met my in die kerkraad dien (vanaf mnr. Carolus tot oom Julies wat gedurende daardie tyd hul predikers was). Ek dien nog steeds in die Aksie Kommissie van die NG kerk en VG kerk.”
“'n Mens moet ook 'n sekere ingesteldheid hê om die taak te kan verrig - jy moet veral 'n passie hê vir die maatskaplike sy en die deernis om mense te kan bystaan in tye van nood, siekte en sterfte. En somtyds as ek nostalgies raak dink ek: . . . Hoeveel preke, hoeveel Pinksters, hoeveel boodskappe . . . Hoe bevoorreg was jy om dit alles te beleef en wat het jy daarmee gemaak . . .? God se genade is groot!"
Hierdie beskeie vrou word eersdaags (14 Desember) 80 jaar. Haar lewe is steeds vol van liefde en omgee. Sy is lid van die Beheerraad van Herberg-aan-See, en ook aktief betrokke by Badisa.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.