Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing : Mat 6:12, Ps 51, Mark 14:72
Ek wil graag vanoggend aansluit by dié bede as deel van die Ons Vader gebed: Mat 6:12 vergeef ons ons oortredinge soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree. Dit het my opnuut getref toe ek daaroor gelees het in ‘n boek met die naam van Soos Jesus ons leer bid wat dr Coenie Burger geskryf is. Ek deel met julle wat my getref het. . .
Die eerste ding wat by my vasgesteek het oor die bede is die feit dat om so te bid, ‘n sekere ingesteldheid vra. Hierdie ingesteldheid het te make met ‘n diep sondebesef. ’n Mens kan tog nie so bid in alle opregtheid as jy nie ‘n sondebesef het nie. Dit laat my dink aan die storie van die twee tannies wat uit die kerk uitgeloop het na die diens en vir mekaar probeer vertel het waaroor die ds gepreek het. Die een vra toe waaroor die ds gepreek het. Waarop die ander een antwoord dat die ds oor sonde gepreek het. Die ander een vra toe wat het die ds daaroor gesê? Toe antwoord die eerste een sy weet nie lekker nie, maar die een ding wat sy darem kan sê hy was daarteen. Hopelik sal ons darem oor meer as dit kan nadink - om ‘n sondebesef te hê. Die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus is mos: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe. Die antwoord : dat ek met my liggaam en siel nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus behoort. En dan vraag twee: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en te kan sterwe. En dan die antwoord: eerstens hoe groot my sonde en ellende is , hoe ek daarvan verlos kan word en hoe daaroor dankbaar kan wees
Maar veral die woorde: hoe groot my sonde en ellende is. Om so te kan bid vra hierdie ingesteldheid. . . ’n diep sondebesef. Dit vra ‘n gebrokenheid van gees daaroor. Nie net een keer nie, maar in werklikheid neem dit toe namate jy ‘n pad met die Here loop. Luther het in hierdie verband opgemerk dat hoe heilige hoe sondiger. As jy dit die eerste keer hoor, dan klink dit bietjie snaaks, want ‘n mens sou dink hoe heiliger hoe minder sondig. Hy het bedoel dat hoe nader ‘n mens aan die Here beweeg , hoe meer besef ‘n mens jou tekortkominge en jou sonde. Jesaja het toe hy iets van die Here op sy troon gesien het uitgeroep: dit is klaar met my, ek is verlore. Elke woord oor my lippe is onrein en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. Luther: Om iets van sonde te verstaan , moet ‘n mens eintlik iets van God verstaan. En moet ‘n mens eintlik ook verstaan dat ons in ons alledaagse doen en late nie maar net onderling met mekaar te make het nie, maar dat ons eintlik met God te make het. Dat ons in ons gesindhede, woorde, dade en versuim, met God te make het. Om so te kan bid, veronderstel hierdie ingesteldheid.
Daarom het ons ook Ps 51 gelees, veral die woorde in Ps 51:6: Teen u alleen het ek gesondig. Ons ken ons die storie van hoe Dawid toegegee het aan die versoeking met Batseba. Deur die profeet Natan sou die Here vir Dawid wys wat hy aangevang het, en sou hy ontdek wat hy gedoen het was eintlik ten diepste wat hy die Here aangedoen het. As die Here deur Natan met Dawid praat, hoor jy amper die hartseer in sy stem as hy sê: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. Ek het jou die koningskap van Israel gegee. Dit is asof die Here wou vra. Hoekom doen jy dit aan My. Hoekom minag jy My deur so iets aan My te doen. Na aanleiding van hierdie gebeure sou Dawid dan Ps 51 skrywe waar hy die onder die besef van wat hy aangevang het, sy sonde voor die Here bely. Die belydenis is aangrypend. In v 5 skrywe Dawid: ja my oortredinge ken ek, en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd was in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. En dan bid hy: Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Om so te kan bid veronderstel ‘n gesindheid van sonde besef. . . Vergeef my oortredinge. . .
Ek dink ook aan die optrede van Petrus soos beskryf in Markus 14 na aanleiding van die verloëning van Jesus deur Petrus. Toe die haan die tweede keer gekraai het het dit mos vir Petrus bygeval wat Jesus vir hom gesê het: voordat die haan ‘n tweede keer kraai , sal jy My drie keer verloën. Petrus het toe besef wat hy aangevang het, wat hy die Here aangedoen het en in trane uitgebars. Hy het letterlik gehuil so berou het hy gehad. Om so te kan bid veronderstel ‘n ingesteldheid van besef van sonde. Net oor om so te bid? Net dit besef. . . En hoe nodig is dit nie . . . vir onsself . . . vir geestelike groei...en ook vir die wêreld.
Ek lees iemand skrywe sonde is ‘n woord wat uit die mode graak het. Wat min mense nog gebruik. Of ooit gehoor het. Dit was nie altyd so nie. Onder die invloed van die Joods Christelike tradisie was daar tye toe mense maklik en dikwels oor sonde gepraat het. Toe mense nog sonde by die naam kon noem. Maar dit het vanweë baie redes verander. In baie mense se woordeskat bestaan sonde nie meer nie. Die sielkunde en die sosiologie het ons ‘n nuwe woordeskat gegee. En die openbare media leer ons die nuwe soort praat aan. Ons noem wat altyd sonde genoem is deesdae met ander name. Maar in die proses het ons dalk meer verloor as wat ons besef. Ons het dalk insig verloor in die diepte van ons eie lewe. Ons het dalk die woordeskat verloor om werklik die lewe mee te beskryf en te verstaan.
Bogenoemde persoon sê ook: Dis begryplik as die openbare lewe sukkel om die sondetaal te praat. Maar dit is tragies as dit in die kerk ook gebeur. Die kerk is die een plek waar sondetaal geoefen moet word, al praat mense deedae daarbuite nie meer so nie. Die kerk skuld dit aan die samlewing. Sodat die samelewing nie in algehele oppervlakkigheid verval nie. Die Nederlandse teoloog van Ruler sou sêdat dit een van die redes is om kerk toe te gaan : om oor sonde te praat. Nie dat dit al is waaroor dit in die kerk gaan nie. Inteendeel. Die sonde is nie naasteby so belangrik soos die meeste ander sake waaroor ons in die kerk praat nie, maar ons moet ook oor die sonde praat. Omdat ons slegs so, die bestaan, die lewe, tot op die bodem deurgrond.
Dit was nog altyd so van die vroegste tye dat gedurende die lydenstyd die kerk die geleentheid sou gebruik om na te dink oor ons sonde. Dit sou in aanvang neem met die sg Aswoensdag, die begin van die veertig dae voor Pase. In baie kerke is dit ‘n tyd van vas en boetedoen. Dit is die tyd van die jaar dat ons oor sonde praat en dink. Oor ons eie sonde. Oor ons eie aandadigheid aan die wêreld waarin ons woon. Die tyd dat ons in ootmoed en berou staan, voor God en ons naaste. Maar natuurlik is dit ook die sin daarvan, in die lig van al die kwaad in die wêreld, dat ons dit sommer ook elke Sondag doen. Om elke Sondag ons voor God te verootmoedig. Ons moet dit nooit verwaarloos nie. Ja broers en susters, hierdie gebed veronderstel hierdie ingesteldheid.
Die gebed se eintlike bede is: vegeef ons oortredinge. Daarom ook die veronderstelling van ‘n diepe oortuiging oor vergifnis, maar daaroor ander keer, ook die veronderstelling van om ander te vergewe. . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.