Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing: Ps 111 asook 1 Kor 11:23
Ek wil julle aandag vra vir vers 4 van hierdie pragtige Psalm: Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. Oorspronklik staan daar: Hy het vir sy wonders ‘n gedagtenis opgerig. Geleerdes meen dat die woord gedagtenis verwys na die godsdiensbeoefening van die volk Israel. In hierdie godsdiensbeoefening moes die herinnering aan en die oordenking van die reddingsdade van die Here ‘n sentrale rol speel. Dit was die hart van Israel se belydenis en kategese. Dit was ook die hart van hulle dank en lofliedere. Deel van hierdie godsdiensbeoefing was die spesifieke feeste wat gekoppel was aan ‘n spesifieke reddingsdaad. So byvoorbeeld het die Paasfees ontstaan na aanleiding van die redding van die volk Israel uit Egipte. Ons ken die storie . . . van die bloed van die lam aan die deurkosyne en hoe die doodsengel dan die huise van diegene wat bloed aan die deurkosyne gehad het oorgeslaan het. Jaar in en jaar uit sou die volk dan ook hierdie gebeurtenis herdenk deur die sogenaamde paasfees as deel van die Here se pad met hierdie mense. In die Nuwe Testament sien ons dat hierdie gebruik voortgesit word.
Ook in die NT tyd wil die Here seker maak dat sy magtige dade steeds nie vergeet word nie. So byvoorbeeld vier ons die Sondag as ‘n herinnering aan Christus se opstanding. Elke Sondag is so ‘n herinnering. Elke Sondag maak die Here seker dat ons nie die wonderlike redding deur die opstanding sal vergeet nie. So sou die erediens deur die jare dan ook juis hierdie rol speel. Herinnering sou ‘n baie sentrale rol plek inneem. Daarom sou herhaling so belangrik wees. Om elke keer weer te hoor, elke keer weer herinner te word. Sodat die gelowiges hulle kan orienteer. Dit is die rede hoekom daar eredienste is. Om herinner te word. Dink aan die ou halluluja lied wat nou as vonklied in ons kerk gesing word wat so pragtig is: Bring my die ou ou tyding van God se Woord vir my . . .
Vir vandag se doeleindes wil die Here ook deur die Nagmaal seker maak dat ons nie die wonderlikste reddingsdaad van almal naamlik die kruisdood van Jesus sal vergeet nie. Die Nagmaal is by uitstek ‘n goeie voorbeeld van ‘n gedagtenis wat die Here gestig het. Van hoe die Here seker maak dat Sy magtige dade nie vergeet sal word nie. Laat ons let op die eerste betekenis van die Nagmaal: Die nagmaal is in die eerste plek ‘n gedagtenismaaltyd. Dit is natuurlik na aanleiding van die woorde van Jesus soos deur Lukas aangehaal volgens Lukas 22:19: Die Here het by die instelling van die Nagmaal gese: Gebruik dit tot My gedagtenis. En dan volg die woorde van die formulier: Met die nagmaal oordink en verkondig ons die dood van die Here. By die eet van brood en die drink van die wyn, roep die gemeente hom die hele lydensweg van Jesus Christus voor die gees: hoe Hy Sy lewe gegee het; hoe Hy soos ‘n koringkorrel in die grond geval het en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het, hoe Hy van God verlaat was en uitgeroep het: my God, my God, waarom het U my verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat word nie. Die apostel Paulus sou ook hierdie woorde gebruik as hy aan die Korintiers skrywe om nie deel te he aan afgodery nie. Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin hy oorgelewer is, brood geneem en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gese: Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis. Net so het Hy na die maaltyd die beker geneem en gese: Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur My bloed beseel is, gebruik dit elke keer as julle daaruit drink tot My gedagtenis. Dit is werklik soos die vers in Ps 111:4 se: Die Here sorg inderdaad dat sy magtige dade nie vergeet word nie.
In hierdie verband wil ek twee opmerkings maak: Die eerste is dat dit net ‘n genade is dat die Here so seker wil maak, en inderdaad seker maak dat ons nie sal vergeet nie, want dit is nou eenmaal ons lot dat ons so maklik vergeet. Ons het nie lang geheues nie en dit het nie net met die ouderdom te make nie, maar dit is omdat ons so maklik so gewoond raak aan dinge. Dit is in ons godsdiens ook so. Ek lees iemand skryf: Dit is met ons godsdiens nie baie anders as met ‘n kind se nuwe speelding nie. Die eerste dag kan hy of sy nie ophou speel nie, die aand slaap die speelding in die bed saam met hom. Maar sommer gou is die blink oe en die liefde weg en is dit net maar nog ‘n speelding. So gaan dit maar met die Here ook. Solank sy genade en hulp nog vars in ons geheue is, is dit maklik om Hom met gloed en entoesiasme te dien, maar mettertyd begin ons vergeet. En dan raak ons harteloos en koud en tree die vreeslikste van vreeslikste dinge in die godsdiens in en dit is wat bekend sou word as formalisme. Dit het alles te make daarmee dat ‘n mens uiterlik nog jou geloof as ‘n ware aan die gang hou, maar innerlik die lus en vreugde daarvoor verloor het. Dit is wanneer ‘n mens die Here nie meer met jou hele hart kan loof nie, wanneeer jy meedoen, maar nie meer dink oor wat jy doen nie en ook nie juis bekommerd is dat jy alles verstaan nie. Dit is blinde godsdiens, godsdiens sonder ervaring, sonder siel. Jy weet nog van die Here se dade, maar ervaar lank nie meer die krag daarvan nie. Hierdie Psalm is eintlik ‘n mooi voorbeeld hoe ‘n mens veg teen formalisme. Die Here sorg inderdaad dat sy magtige dade nie vergeet word nie sodat ons altyd weer ‘n hart sal he vir die evangelie, dat dit ons opnuut sal tref, dat dit ons diep sal raak en dat ons daarom met entoesiasme die Here sal dien.
Die tweede opmerking het te make dat ons sal onthou dat die Here hierdie gedagtenis oprig en self wil seker maak dat ons nie sal vergeet nie. Anders as die tekens wat ons oprig soos monumente is die tekens wat die Here oprig, soos ook die Nagmaal, lewende tekens waardeur die Here self deur Sy Gees ons wil bemoedig. Dit is Hy self wat sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. Die Nagmaal is eintlik meer as net herinnering. ‘n Mens kan dit so verstaan dat die herinnering eintlik ‘n menslike poging is waardeur die gelowige eintlik homself as ‘n ware probeer opwek. Nee, die lewende Here staan self agter die tekens wat hy opgerig het. Die Here deur Sy Gees verbind Hom aan hierdie tekens en op ‘n misterieuse wyse is Hy self in die brood en die wyn teenwordig. Vir die hervormer Calvyn was dit dan ook wat ‘n nagmaal ‘n nagmaal besonders maak, die Here wat deur Sy Gees deur die tekens tot die gelowiges spreek. Dit is eintlik waaroor dit in Ps 111 gaan. Dit is opmerklik hoeveel keer die woord Hy voorkom. Dit is die Here self wat voed, dit is Hyself wat vryheid bewerk, dit is Hyself wat ons die krag van sy dade laat ervaar. Baie kan juis daarvan getuig, hoe die Here telkens deur die Nagmaal ons al versterk het, hoe die Here ons deur die Nagmaal aangeraak het. Iemand wat met die verwagting na die nagmaal gaan om juis bemoedig en versterk te word in sy of haar geloof, sal nie tevergeefs gaan nie. Deur Sy Gees bemoedig die Here ons inderdaad. Dit kan nooit net ‘n selfherinnering wees nie.
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.