Die Here sien en die Here voorsien

Die Here sien en die Here voorsien

NG Kerk Gansbaai

TEKS : Ex.3:  “Ek het die ellende van my volk duidelik gesien en hulle noodkrete oor hulle slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry.” vers 9: “Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. . .”

 Op die vraag van Farao: “Wie is die Here nogal . . . ?” sou Moses kon antwoord:  Die Here is die Alsiende en die Here is die Redder wat in die nood van sy volk voorsien.         Hieroor wil ons vanoggend na 6 dinge kyk:

1. DIE HERE SIEN VER

In die pragtige gesang: “Genade onbeskryflik groot. . . ” sing ons: “Maar U sien ver oneindig ver.” Die woorde kom nie net in ’n gesang voor nie, dit  kom ook in die Bybel voor. Toe die verlore seun terug na sy vader gekom het, het sy vader hom gesien toe hy nog ver was en innig jammer vir hom gevoel. Sonde verdryf mense ver van God af, maar ek kan nooit so ver van God gedryf word of so ver van God af wegdwaal dat God my nie kan sien nie. Paulus sê vir die Efesiërs dat hulle vreemdelinge was wat ver van God was, maar dat hulle wat eens ver was naby gekom het deur die bloed van Christus. Of jy nou in die ver Egipte slawediens doen, of in die verre Babel as banneling woon, of in die ver land  van sonde en jou nie aan God steur nie of ondanks jou godsdiens beoefening voel of jy so oneindig ver van die Here af is, jy ontglip nooit die alsiende oë van die Here nie, Hy sien jou.

Daar is die legende van die kneg wat uitasem by sy eienaar kom . Hy het die dood op die markplein gesien en sy eienaar moet asseblief vir hom sy vinnigste perd gee sodat hy na Dubar die verste plek kan vlug. Later die dag stap die eienaar na die mark en jou werklik hier staan die dood. “Jy het darem vanoggend my kneg lelik laat skrik”,  sê hy aan die dood, waarop die dood antwoord: “Ek was verbaas om hom hier te sien, want ek het vanmiddag met hom ’n afspraak op Dubar”. Vir die dood kan ons nie vlug nie, vir God se oë hoef ek, sy kind, nie bang te wees dat Hy my nie meer sien nie. Hy sien ve,r oneindig ve,r en Hy kyk na my met deernis en liefde.

2. DIE HERE SIEN DIEP

In Psalm 139, wat handel oor God se alwetendheid, lees ons ook dat die Here vir ons sien. Die 1933 vertaling lui: “Here U deurgrond en ken my.” Die 1983 vertaling: “Here U sien dwarsdeur my, U ken my.” En dan in vers 16:   “U het my al gesien toe ek ongebore was.” Daar diep verborge in die moederskoot sien die Here my.

Die mediese wetenskap het vandag die vermoë  om dinge in jou liggaam te sien wat geslagte gelede onmoontlik was. Ek moes al ’n paar keer ’n angiogram ondergaan. Dan lê en kyk ek op ’n skerm hoe die vloeistof wat hulle in my lies inspuit tot in my hart beweeg. Daardeur sien die dokter of daar nie van die aartjies verstop is nie. Die Here sien diep tot in my hart, Hy sien my verborge gedagtes, my valse motiewe en my sondige begeertes. Hy kyk dwarsdeur die maskers wat ek so dikwels opsit en ander mense ’n rat voor die oë draai of bedrieg Dit waarvan die mense naaste aan myself nie weet nie en selfs ek nie bewus is nie dit sien Hy raak. Die diep verborge dinge van die hart.

3. DIE HERE SIEN ANDERS AS MENSE

U onthou die verhaal waar Samuel een van Isai se seuns as Koning moes salf. Toe die oudste, Eliab, wat mooi gebou was verskyn, wou Samuel hom sommer daar en dan as koning salf. Dan moet die Here hom vinnig reghelp : “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.”  Dan word al die sewe seuns wat na die maaltyd genooi is by Samuel verby laat gaan. Maar nie een van hulle is die Here se keuse nie. En toe word die een wat nie in die tel was nie, nie eens genooi is nie, wat volgens menslike standaarde geensins kwalifiseer nie, die skaapwagtertjie van die skape af geroep en hy word tot koning gesalf.  Paulus herinner die gelowiges in Korinte : “Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. . .” en tog het God julle uitgekies… om die geleerdes en sterkes te beskaam. (1Kor. 1 :26-27)

 Party keer voel  ons mense sien my nie meer raak nie. Ek wat eens ’n leier, ’n steunpilaar, ’n voorvatter in my gemeenskap en gemeente was, ek tel nie meer nie. Ek is soos Dawid nie een van die uitgenooide gaste nie, beslis nie van koning wees stoffasie nie. Hoe wonderlik is dit dan dat die Here met gans ander oë na my kyk. Luister wat sê die Here deur Jesaja : “Omdat jy kosbaar is in my oë, hooggeag is.” (Jes 43:4 ) Mense mag jou nie ag nie, selfs op jou neersien, maar die Here kyk met ander oë na jou en vir Hom is jy kosbaar. Ook vir u, daar by Herberg aan See, miskien oud, afgeleef, verswak, miskien wonder u oor die sin wat u lewe nog maak, maar weet dit vanoggend, die Here sien u raak en in sy oë is u kosbaar.

4. DIE HERE SIEN  MY GELOOF RAAK

In 2Kron.16:9 lees ons in die  1933 vertaling . . .“ want die Here, sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” Die 1983 vertaling lui: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

As ek hierdie teks lees sien ek ’n prentjie. Die prentjie van ’n delwer by sy sif vol gruis en klippe. Met sy troffel werk hy versigtig deur die gruis.  Sy oë vasgenael  om te sien of hy nie ’n diamant sien nie. Die Here soek in my lewe na hierdie diamant, en my geloof is hierdie ’n diamant in sy oë.

By geleentheid het baie mense uit verskillende dorpe na Jesus gekom. Vier manne het daar met ’n verlamde man wat hulle op ’n draagbaar gedra het opgedraag. Die skare het so saamgedrom sodat hulle nie met die man by Jesus kon uitkom nie. Hulle het toe op die dak van die huis geklim en van daar af die man  tot vlak voor Jesus laat afsak. Ek dink dat die omstanders op verskillende maniere na hierdie vier manne se optrede gekyk het. Sommige sou dit as hinderlik en vermetel beskou het, ander sou self hulle deursettingsvermoë om hulle doel te bereik, bewonder het. Maar dan lees ons van Jesus: “Toe Hy hulle geloof sien. . . “ Een van ons gesange lui: “Nie my ongeloof en waan, my geloof die sien Hy aan.” Soms brand die vlammetjie van ons geloof baie klein en dreig om deur die stormwinde wat teen my waai, uitgeblus te word. Soms is my geloof soos ’n skip in die stormsee wat dreig om skipbreuk te ly, soms is my geloof so klein soos ’n mosterdsaadjie, maar weet hoe klein of wankelend ook al, die Here sien my geloof. Daardie sprankie geloof, daardie vertroue soos ’n klein kindjie  wat op Hom vertrou, is in sy oë baie kosbaar. As die storms oor my breek en ek Hom kinderlik vertrou dan sien Hy my geloof.

5. DIE HERE SIEN MY  ELLENDE EN SWAARKRY 

In Gen. 16 kry ons die tragiese verhaal van Hagar, die swanger slavin, wat weggeloop het en haar nou in die woestyn bevind. Hier ontmoet die Engel van die Here haar en Hagar roep toe die Here aan met hierdie woorde: “U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het.” 

 En hier by die brandende doringbos sê die Here: “Ek het die ellende van my volk Egipte duidelik gesien.” Ja, elke geselhou op die rug van die Jode deur die slawedrywers, die juk wat hulle druk, hulle magteloosheid, die hartseer oor die seuntjies wat in die Nyl gegooi moes word.  Toe die dissipels een nag met hulle skuitjie ver weg die see in was en die wind teen hulle, het Jesus “gesien hulle roei swaar.”

Dis in ons swaarkry dat dit vir ons voel asof die Here ons nie raaksien nie, maar of dit die slawerny van Egipte is of die storm op die meer van Tiberias is, die Here sien my swaarkry.

Hoe die Here my in my ellende raaksien word so treffend in Eseg.16 beskrywe:  Israel as ’n babadogtertjie, wat verafsku en naak in die veld weggegooi is. Totaal verwerp, niemand was oor haar besorg nie en niemand het vir haar omgegee nie, en dan: “Ek het jou in jou bloed sien spartel . . . Ek het vir jou gesê, leef.”  Dan word vertel hoe die Here  vir hierdie dogtertjie aangeneem het. “Jy het myne geword.” Hy het haar gebad het vir haar mooi klere aangetrek het, getooi het met juwele, armbande, halssnoere, sy was geskik om koningin te wees. Alles het egter begin daar waar die Here haar in haar ellende gesien het. U sien my honger, dors, nog voordat ek kan skuld bely druk u my aan U bors. 

In my wanhoop, in my angs in my pyn en hartseer en eensaamheid en magteloosheid, Hy sien my. Hy sien elke angstige gemoed, elke blyk van twyfel, elke frons op my voorkop en elke traan.

6. DIE HERE VOORSIEN 

Van die priester en die Leviet lees ons dat toe hulle die beroofde, naak en magtelose slagoffer  langs die pad gesien het, het hulle anderkant verby gegaan.

6.1. Die Here voorsien deur Israel uit die slawerny van Egipte verlos

Die Here sien egter nie net die ellende nie, Hy daal neer om hulle in hulle diepste nood te voorsien en hulle uit die slawehuis te bevry. Dit is die belangrike en onvergeetlike redding deur die Here wat telkens in die Bybel vermeld word.

6. 2. Die Here voorsien deur my van sonde te bevry :

Dat die Here vir sy volk en sy kinders voorsien loop soos ’n goue draad deur die Bybel. As Isak vir sy Pa Abraham vra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer.” Dan woord Abraham: “ My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”

 Eeue later stap God se Seun ook met hout, die kruishout en daaraan sterf Hy onder die vuur van God se toorn oor sonde. En so voorsien Hy vir ons  vryheid van die sondelas, vergifnis van ons skuld en dat ek kind van die Here kan wees. En omdat ek sy Kind is voorsien Hy ook in al my behoeftes soos Paulus skrywe: “En My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”  Ja, “ Hy sien ver, oneindig ver, Hy sien my honge,r dors, nog voordat ek my skuld bely, druk Hy my aan die bors.”

Amen

Die Here sien en die Here voorsien

Ds. Dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai