Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

NG Kerk Gansbaai

Skriflesing: Mat 19:30- 20:1-16 Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

Meeste van ons ken die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. Die storie van die boer  wat arbeiders gehuur het om in sy wingerd te gaan werk. Hy het vroeg die môre uitgegaan om arbeiders te huur. Toe  weer nege uur, ook twaalf uur en drie uur het hy  so gemaak, toe ook vyfuur. Toe dit aand word  het hy vir sy voorman gesê dat hy die arbeiders moet roep en  hulle loon vir hulle moet betaal.  Hy sê nogal dat hy by die laastes  moes begin en by die eerstes moet eindig .   Dan gebeur daar iets  vir ons doeleindes sekerlik baie eienaardig. Die wat teen vyfuur gehuur is  kom toe en kry elkeen die gewone dagloon.  Nou kan jy dink dat die wat eerste kom werk het sou gedink het dat hulle meer sou kry, maar hulle kry ook dieselfde, die gewone dagloon.  Hulle het by die eienaar gaan kla. Hy het eenvoudig net geantwoord  dat hy hulle geen onreg aandoen nie, want hy het met hulle ooreengekom vir die gewone dagloon.   Buitendien, hy kan met sy geld maak wat hy wil . . . en voeg nog by ook . . . of is jy afgunstig omdat ek goed is. Hoe moet ‘n mens dit verstaan?   Die een sleutel tot die verstaan is dat  Jesus die mense wou leer  hoe dit in die koninkryk van die hemel  werk. Daar staan immers in die eerste vers: met die koninkryk van die hemel gaan dit  soos. . .  Maar wat wou Jesus  hulle leer  van hoe dit in die koninkryk werk?  

Vir die verstaan daarvan is die verse wat as ‘n ware aan weerskante van die storie staan, as ‘n ware die hakies vorm om die storie, baie belangrik. Het julle opgelet  dat aan weerskante van die gelykenis daar geskrywe staan: Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is sal eerste wees en dan weer  so sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste.   Wat kan dit tog beteken?   Daar is ‘n Joodse spreekwoord wat soos volg lui: as mense in ‘n kring dans, dan is die laaste  een nie agter nie en die eerste een nie voor nie.  Elkeen is eerste en elkeen is laaste.  Kyk, as ons nou  hier in ‘n ry moes staan dan weet ons wie is eerste en wie is laaste.  Maar as ons hande sou vat en in ‘n kring staan, dan sou ons ons nie kan weet wie is eerste en wie is laaste nie.  Dus almal is gelyk.   So werk dit in die koninkryk.  In die koninkryk is almal gelyk.  Niemand is belangriker as die ander nie. 

En die rede daarvoor is omdat God almal ewe genadig is.  God handel nie met ons volgens ons verdienste nie, maar  net uit genade.  Dink aan die woorde in die gelykenis . . . toe die wat eerste begin werk het dieselfde gekry het as diegene wat eers laat ingeval het . . . of is jy afgunstig omdat ek goed is.  Die Here handel met almal uit genade. Dit is veral op hierdie Sondag dat hierdie boodskap verkondig word dat  ons almal uit genade gered word.  Vandag (30 Oktober) is Hervormingsondag.   Op hierdie dag  dink ons terug dat Luther deur die Here se genade op ‘n dag ontdek het dat  ‘n sondaar geregverdig word voor God nie oor wat hy alles gedoen het nie, maar dat dit slegs genade is.   En wou hy dat die kerk dit baie duidelik hoor.   Die gedeelte in Romeine 1 sou in die verband so deur die Here gebruik word om hom te oortuig.  Romeine 1:16 &17: ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding  van elkeen wat glo. In die evangelie kom dit juis tot openbaring  dat God mense alleen van hulle sonde vryspreek  enkel alleen omdat hulle glo.  Dit is soos daar geskrywe staan:  Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe.   Niemand van ons kan deur goeie werke op grond van eie verdienste geregverdig word nie.  Op grond van die genade van die Here skenk Hy  ons hierdie regverdiging  deurdat Hy van Sy kant af op grond van die soenverdienste van Jesus ons regverdig verklaar. Vir enigiemand  wat meen dat hy om die een of ander rede  ‘n aanspraak het op God, dat hy voorkeurbehandeling verdien, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie.  Die apostel Petrus  moes hierna luister, hy wat self  heimlik gedink het  dat hulle darem  heelwat by die Here verdien het met die opoffering at hulle gemaak het.  In v 27 van die vorige hoofstuk het hy dan ook gevra: Kyk ons het alles verlaat  en U gevolg.  Wat sal ons daarvoor kry?   En dan ontken Jesus nie dat daar vir sy volgelinge loon sal wees nie, maar dit sal nie verdiende loon wees nie, maar genadeloon.   Daarom is dit so dat ook iemand wat dalk eers aan die einde van sy lewe  die Here leer ken en Hom begin dien  ook  deel word van die koninkryk, juis omdat die Here goed is, omdat Hy genadig is. 

Op hierdie dag Hervormingsondag  beklemtoon ons weer hierdie boodskap, maar ook  in die lig van ons samekoms vandag.  Want as dit so is dat in die koninkryk  van die Here niemand  voorgetrek word nie, daar dus nie witbroodjies is nie, maar ook nie swartskape nie, dan  is die feit alles bepalend vir ons onderlinge verhoudinge in die kerk.   En die een ding wat ek weet dit dan bepaal is dat ons almal gelyk is. Kyk in die wêreld  . . .  staan ons in rye voor en agter mekaar . . . party is ryk en ander arm . . . party slim en ander nie so slim nie . . . party  wit en ander bruin en swart.  Maar in die kerk tel dit nie.  In die kerk staan ons nie in rye voor die kruis nie. Nee,  in die kerk vat ons almal hande  en maak ‘n kringetjie rondom die kruis.  Die apostel Paulus skryf in Gal  3:26: Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.  Dit maak nie saal of iemand Jood of Griek , slaaf of vry, man of vrou is nie; in Christus Jesus is julle almal een.  My gebed is dat ons almal so aanmekaar sal dink  en so sal optree ook. Ons is almal begenadigdes . . . ons is almal  gelyk.

Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

Ds. Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai