Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Teks: Kolossense 1:12
Ek was lanklaas so met weemoedigheid vervul oor ons land na aanleiding van die laaste tyd se gebeure. Soos nog nooit tevore vra ’n mens jouself die vraag af waarheen ons oppad is en onwillekeurig doem die prentjie van nog ‘n Zimbabwe voor jou op. Ek self was dadelik baie bekommerd oor bv wat van my pensioen gaan word. Ek is seker daarvan julle ook. Kan dit dan wees dat magsbeheptheid, korrupsie en oneerlikheid tog die finale sê het oor ons land en sy toekoms. Ek moet sê ek was regtig moedeloos en weemoedig oor alles. En het uitgelewer gevoel. En het dan ook soos meeste van ons glo ek gehoop op daar iets sal gebeur wat dinge in ‘n ander rigting sal stuur... bv dat mense na vore tree, uit regeringsgeledere mense met invloed, wat sal sê tot hiertoe en nie verder nie. Daar is stemme, maar helaas, het daar nog nie enigiets drasties plaasgevind nie. ‘n Mens is dankbaar vir al die stemme wat in hierdie dae van gewone mense uitgaan . . . dink aan Vrydag se protesoptrede, veral die vreedsame wyse waarop dit plaasgevind het. Dit het my regtig dankbaar gemaak. Mag die Here dit dan ook gebruik sodat geregtigheid sal geskied . . .
Maar toe lees ek weer hierdie gedeelte en besef net dat die beloftes van die Here kan nie deur mense verongeluk word nie. Die apostel Paulus skryf destyds aan die gemeente van Kolosse wat so bewus was van magte en kragte aan die werk in hierdie wêreld waarmee hulle ook rekening moet hou. Die gevaar het gedreig dat hierdie gemeente mislei sal word, dat hulle naas hulle geloof in Christus, ook hierdie magte van die heelal moet ken en daarvolgens moet kan leef. Die magte moet ook gedien word, want slegs langs hierdie weg sou daar kastig vir die Christene beskerming teen die magte wees. Wat hierdie magte presies was is nie seker nie, maar basies kom dit neer op iets soos geskape werklikhede wat te belangrik geword het. Hy herinner hulle aan die mag van Christus. Hy die Here is van die hele heelal nadat Hy die magte aan die kruis oorwin het.
Die kruisiging, wil Paulus sê, was soos ‘n magstryd en die Here het die oorwinning behaal. Dink maar aan die posisie van Christus: v15 - 18: Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur hom en vir Hom geskep. Voor alles was hy al daar en deur Hom bly alles in stand. Hy is die Hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, hy is die Eerste, die een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. En die gemeente deel in hierdie oorwinning. In verse 2:12-13 herinner hy hulle daaraan. Deur julle verbondenheid met Hom, is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van Sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes. Die apostel Paulus herinner hulle dat hulle daarom nie die magte langer hoef te vrees nie, nie langer hulle moet dien nie, want Christus het die oorwinning behaal oor hierdie magte. Hy is nou die Here ook van hulle lewens.
Ook ons wat aan Christus verbonde is, deel in hierdie oorwinning van Christus aan die kruis. Daarom hoef ons ook nie so beangs te wees wat van alles word nie. Want Christus is nou die Here oor die magte. Anders gestel, Hy is daarom in staat om ons hopelose situasies te verander in hoopvolle situasies. Hy kan nou lewe bring waar dit lyk die wanhoop en desperaatheid oënskynlik blyk te seëvier. Daarom kan Hy dan ook hierdie huidige krisis verander. Met die oorwinning van Christus aan die kruis kan ons bly hoop, ook vir ons land. Kan ons bly hoop dat die kwaad deur die goeie oorwin word. Ek besef toe hoe maklik ‘n mens kan toelaat, omdat jy dit nie altyd in gedagte hou nie, selfs partykeer sommer vergeet, dat die siniesheid en die moedeloosheid op die einde van die dag die oorhand kan kry. Nee, Christus is nou die Here. Die bekende Negro Spiritual lui: He’s got the whole world in His hand, He’s got you and me brother in His hand, He’s got the whole world in His hand . . .
Daarom is dit belangrik om weer stil sal word voor die Here. Natuurlik moet ons koerante lees, TV kyk, (koerant lees in die een hand, maar ook met die Bybel in die ander hand). Ons moet weet wat in die wêreld aangaan, sodat ons ook kan weet waarvoor om te bid, maar nooit so dat dit ons moedeloos sal maak nie. Ek moet sê ek het self dit toegelaat, dat ek so bewus geraak het van die situasie, en nie genoeg stil geraak voor die Here daaroor nie. Nou moet ons soos nog nooit tevore bid tot die Here. Daarom is al die aksies van gebed so belangrik; dit behoort ons eerste reaksie te wees om ons toevlug na die Here te neem. Ek dink aan die situasie destyds toe Petrus en Johannes gedreig was by die Joodse Raad om nie oor Jesus te getuig nie. Toe hulle vrygelaat was nadat hulle ernstig gedreig is, kom hulle terug na die gelowiges en vertel wat die priesterhoofde en die familie hoofde alles vir hulle gesê het. Dan staan daar so mooi in Handelinge 4:24: Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. Soos nog nooit tevore, neem ons ook nou ons toevlug na die Here, ook oor ons land. Maar ons doen dit met die verwagting dat die Here wat die Here is van die hele heelal, sal sorg en voorsien. Saam met duisende ander wil ons ook ons verootmoedig oor ons land. Ons is tog in Sy hand. Hy sorg vir ons.
Maar dan moet ons ook nie net bid nie, nee, as dit dan so is dat Jesus die Here is van die ganse heelal, dan beteken dit ook dat Christus God se kragtige aanspraak op ons hele lewe is en daarom ook op die openbare lewe. Daarom roep die Here die kerk om in hierdie dae ook profeties op te tree. Om teenoor die regering van die dag ook daarvan te getuig en die regering aan sy verantwoordelikheid te herinner dat hy geregtigheid sal bevorder. En dat die kerk ook die moed van sy oortuiging sal hê om te kritiseer as daar magsmisbruik, onreg en korrupsie is. Ek is baie dankbaar dat die NG Kerk dan ook ‘n verklaring uitgereik het oor die huidige situasie in die land. Daarin skryf die Algemene Moderatuur dat die kerk nie in party politiek betrokke wil raak nie, maar kon tog oor die afgelope jare nie swyg wanneer die president en regeringslui so optree dat dit vrede, versoening en geregtigheid van ons mense in gedrang bring nie. Die kerk het immers ‘n profetiese roeping om geregtigheid na te jaag en om veral ‘n stem te wees vir die magteloses en die wat deur beleid en sisteme buite rekening gelaat word of benadeel word. Die kerk as deel van die groter kerk in Suid Afrika teken dan ook weereens beswaar aan teen die optrede van die president en doen ‘n beroep op die parlement om sy leiers verantwoordelik te hou vir die ernorme skade wat die land aangedoen is. Die moderatuur wil ook graag die lidmate aanmoedig om alle moontlike demokratiese maatreëls saam met ander landsburgers in te span in verset teen die misbruik van mag deur die politieke leiers van ons land. Ons wil egter Christene ook oproep om hulle waardigheid te behou en so op te tree dat dit Christus se liefde en vrede waardig sal wees. Dit is nou die tyd vir gelowiges om met hulle optrede van die lewende hoop in Christus te getuig. Mag die Heilige Gees vir ons almal in hierdie tyd ‘n verbeelding gee vir ‘n land waarin ons versoend en menswaardig saamleef. Ons roep ook hiermee ons lidmate op om saam met ons dringend en toegewyd vir ons land en leiers te bid. Mag Hy ons land begenadig met leiers met ‘n visie wat tot almal se voordeel strek.
Laat ons tog in hierdie dae onthou dat Christus die Here is. Laat die wete ons bemoedig in hierdie dae. Laat ons ons Hom opnuut vertrou, dat Hy die verskil kan maak. Laat ons daarom ons toevlug na Hom neem en ook getuig dat Hy die Here is van hierdie land.
Gebed
Hannes Theron, Helderberg gemeente, Somerset-Wes
Here, ons huil oor ons land se uitvoerende beampte, ons president, die korrupsie, nepotisme en blante persoonlike bevoordeling. Ons huil oor ons rommelstatus in die ekonomiese wêreld. Ons huil oor ons eie onvermoë om ‘n verskil te maak aan armoede en ongelykheid. Ons huil oor die geweld in ons land waar mense vir R10, ‘n selfoon en skootrekenaar vermoor word. Ons huil oor elke vrou wat verkrag en kinders wat seksueel gemolesteer en misbruik word. Ons huil oor mense wat nie besef hoe nodig ons U het nie en nie die waarde van U kruisiging en opstanding besef nie. Ons huil oor ons onvermoë om as kerk waarlik sout en lig te wees. Ons huil oor mense wat hoop verloor het, bang, verward en onseker is. Here hoor ons huil . . .ons huil . . .ons huil . . .Amen
http://kerkbode.christians.co.za/2017/04/05/brief-van-moderator-oor-zuma-debakel/
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.