Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Skriflesing Mat 6:25-34
Ek hoor partykeer mense sê dat as hulle in die natuur is, raak hulle so bewus van die Here. Mense sê hulle voel so naby aan die Here daar, daar langs die see, daar in die berge, daar tussen die blomme in Namakwaland, daar onder die sterrehemel van die Karoo. En dit is ook reg so. Deur die wonderbare skepping raak ‘n mens bewus van die Here wat agter dit alles sit. Wat dit alles so wonderlik gemaak het. Ons het ‘n pragtige lied in die liedboek daaroor, die bekende lied 464: o, Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou; die son en maan, die aarde sterre wolke, hoe u dit elke dag so onderhou . . . dan moet ek juig my Redder en my God, hoe groot is U. Want deur die hele skepping klink dit saam. Hoe heerlik Heer u grote Naam. Dit word vertel dat Karl Barth op ‘n uitsonderlike mooi Sondagoggend vir die kerkgangers gevra het wat hulle in die kerk soek; hulle moet eintlik daarbuite wees om ook bewus te wees van die wonderlike Here.
Eintlik kan ‘n mens nie genoeg in die natuur te nie. Die Here gebruik dit om ons steeds verwonderd te laat oor Hom, oor die grootheid van God. En veral ook sodat ons soos die gelowiges deur die eeue bewus kan wees, telkens herinner kan word dat die Here wat alles so wonderlik gemaak het deur Christus my Vader is wat vir my sorg. Die Here gebruik die natuur om ons ook te bemoedig.
Die natuur, die bewus wees van die skepping en die Here agter dit is vir gelowiges eintlik gerustellend . Hierdie Here, die Almagtige God wat hemel en aarde gemaak het, hou ook hulle in Sy hand. Dit is juis hieroor wat in Mat 6 geskrywe staan. Jesus praat destyds met die skare in die bergrede en praat met hulle oor die feit dat hulle hul nie moet bekommer nie. Hy gebruik as een van Sy argumente juis die kyk na die wilde voëls en die veldblomme en dat dit hulle sal herinner aan die sorg van die Here vir hulle. Dit is darem pragtige tekste, v 26: Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Let op hoe groei die veldlelies . Hulle swoeg nie en maak nie klere nie . Maar ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg ni, jullee kleingelowiges? Julle moet julle dus nie bekommer en vra: Wat moet ons eet en wat moet ons drink en wat moet ons aantrek nie?. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Jesus sê hulle moet kyk na die natuur en kyk na die voëls en die veldlelies en daaraan dink hoe die Here vir hulle sorg. Dan besef ons God sorg nog baie meer vir Sy kinders. Hulle is tog nog baie meer werd as hulle.
Daar is ook ander skrifgedeeltes wat hierby aansluit. Dit bly vir my altyd merkwaardig dat toe Petrus en Johannes destyds gedreig was om nie van Jesus te getuig nie, hulle hulle by die medegelowiges aangesluit het en hulle vertel het van wat alles die priesterhoofde en familiehoofde vir hulle gesê het. Dan staan daar in die Skrif dat toe die medegelowiges dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: Here dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is gemaak het . Hulle het tot die Here gebid, bewus van Hom wat alles gemaak het. Hulle het tot Hom genader as die Skepper en die Een wat hulle ook beskerm en lei. Dink aan Ps 121: Ek slaan my oë op na die berge , waar sal my hulp vandaan kom. My hulp is van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het.
In aansluiting hierby lees ook Mat 10 waar Jesus Sy dissipels uitstuur om te gaan getuig. Hy sê vir hulle dat hulle nie bang moet wees nie. En gaan dan voort om hulle te herinner aan hulle kosbaarheid aan die hand van die voorbeeld van mossies. Mat 10:29 Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies. Die punt is duidelik: deur die natuur, deur die skepping wil die Here ons herinner aan die feit dat Hy die Almagtige Skepper is van die hemel en die aarde, en ook ons Vader wat vir ons sorg. Geen wonder ons geloofsbelydenis begin met die woorde: Ek glo in God die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde nie. Ek glo dus nie net in God as Skepper nie, maar juis in Hom as die Een wat ook vir my sorg. Jesus het ons leer bid: Ons Vader wat in die hemel is . . . Ek lees in die verband die volgende gediggie: Overheard in an Orchard. Said the Robin to the Sparrow: I would really like to know why these anxious human beings rush about and worry so. Said the Sparrow to the Robin: Friend I think that it must be that they have no heavenly Father such as cares for you and me. . .
Daar is ook tekste wat nou nie noodwendig die natuur as voorbeeld neem in verband met die sorg van die Here as Vader nie, maar hierdie sorg eweens so merkwaardig verseker. Dink aan die volgende: Deut 1:31: Hy is ‘n Vader wat sy kinders dra soos ‘n man sy seun dra. Deut 32: 10: Hy is ‘n Vader wat sy kinders vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Die bekende Ps 103: 13: Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. So teer en eg, so omvattend is God se sorg vir ons dat die Bybel op ‘n paar plekke ook na God verwys as ‘n moeder: Jes 66:13: Soos ‘n moeder haar kind veilig laat voel, so laat Ek julle veilig voel. Hieraan kan ons veral dink as ons na die mooie skepping kyk. Die Here verseker ons van Sy sorg, van Sy nabyheid, veral ook as ons deur swaar tye gaan. Dan veral, ons weet mos dat dinge ook vir gelowiges sleg skeef kan loop, Ps 23: al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.
Dit is baie nodig dat ons wel in die natuur kom. Om stil te word, om net weer as ware siel skoon te maak. Ek lees Willem Nicol skryf jare terug in sy boek Rykdom in eenvoud die volgende: Moet ons nie meer moeite doen om nader aan die aarde te kom nie. Maak tuin. Gaan stap ‘n voetslaanroete. Loop in jou buurt rond en let op hoe die seisoenwisselinge daar lyk. Koop ‘n blomplant of sit ‘n blomplant op jou lessenaar . ‘n Mens kan daarby aansluit: gaan loop langs die see, kyk na die berge. Raak opnuut bewus van dit wat so aangrypend mooi is. Dit is mos die een ding waarteen ons hier moet waak . . . om nie gewoond te raak nie en die mooi dinge nie meer raak te sien nie. Ry net ‘n keer weer van Grootbos se kant op ‘n mooi dag en kyk regs, die baai en die berge. Daarom is retreats ook so belangrik vir besige mense om weg te breek en in stilte in die natuur bewus te raak van die Here wat ook vir ons so wonderlik sorg. Die Here wil dit gebruik om ons te bemoedig.
Ons moet sin kan hê vir dit wat mooi is, al is dit oënskynlik eenvoudig. Dink weer aan die woorde van Jesus in Mat 6, om so te kon praat soos wat Hy in Mat 6 praat, moes Hy oop oë gehad het vir dit wat mooi is. Hy het nie gepraat van eksotiese kweekhuisblomme nie, maar sommer net van veldblomme wat vandag nog daar is en môre verbrand word. Ook ons moet daarvoor sensitief wees.
Hier in die maand September, die laaste Sondag, wil die Here ons herinner aan Sy sorg vir ons!
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.