Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Teks: 2 Kor 3:1-18, Esegiël 37
Op Pinkstersondag dink ons terug aan die uitstorting van die Heilige Gees. Hierdie gebeurtenis word vir ons beskrywe in Handelinge 2. Op hierdie dag word ons opnuut herinner aan die werk van die Heilige Gees. Dit wat die Here deur Sy Gees doen. Maar wat is dit eintlik? Kom ek verduidelik dit aan die hand van die Halluluja lied wat ons altyd met Pinkster gesing het: Strome van seëning van bowe, dit het die Liefde beloof, ‘n heerlike tyd van verkwikking vloei uit ons Heiland en Hoof. Strome van seën . . . maar dit is veral daardie woorde ‘n heerlike tyd van verkwikking. Dit is wat die Heilige Gees doen, Hy verkwik, Hy wek op, of in ons gewone taal, Hy gee nuwe lewe. As jy aan die Heilige Gees dink dan dink jy aan die gee van nuwe lewe. Want dit is wat die Here deur Sy Gees doen.
Daarom het ons 2 Kor 3 gelees. Paulus skrywe aan die Korintiërs oor sy werk as apostel. Sodoende wil hy ‘n moontlike misverstand uit die weg ruim. Wat hy in hfst 2:14-17 geskrywe het, kon dalk die indruk skep dat hy besig is om homself te prys. So ‘n beskuldiging is vroeër teen hom aangevoer. Hy wil dit voorkom, want hy weet watter skade dit die verkondiging van die evangelie kan berokken. Daarom begin hy deur te skrywe: Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien , soos party ander mense , aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? En dan sê : Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense. Almal kan sien dat daar ‘n gemeente is en dit het tot stand gekom deur die werk van die Gees van die lewende God. En hy wat Paulus is, was maar net ‘n instrument. Dan skrywe hy in v 5: Ons bekwaamheid kom van God wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend. Ja dit is deur Sy Gees wat God mense se lewens verander. Mense wat dood was vir God, wat Hy opwek tot nuwe lewe, tot geloof, tot hoop en liefde en tot diensbaarheid.
Nou is daar ook ander gedeeltes in die Skrif om dit te bevestig, maar dit is veral Esegiël 37 wat ‘n uitstaande voorbeeld is. Die profeet sien ‘n gesig van die volk in ballingskap. Die Here deur Sy Gees, sit hom neer in ‘n laagte vol dooie, verdroogde beendere. Esegiël stap dan om die bene. En hy sien hulle is baie droog. Dan vra die Here vir hom: Mens kan daar in hierdie bene weer lewe kom? En hy antwoord: nee dit weet net U, here my God. Die Here sê dan vir hom: Tree op as profeet vir hierdie droë bene en sê vir hulle: Die Here gaan gees in julle laat kom, sodat julle kan lewe. Julle gaan senings en vleis en vel kry en dan gaan ek gees in julle gee, sodat julle kan lewe. En dan sal julle besef dat Ek die Here is. Die profeet doen dit, en die bene kom bymekaar en die senings en vel kom by, maar nog geen gees nie. Toe sê die Here: Praat nou as profeet met die gees en sê: Die Here my God sê die gees moet in die dooies blaas sodat hulle kan lewe. En hy doen dit. En dit gebeur. Die gees kom in die dooie bene. Hulle lewe. En hulle staan regop, ‘n groot menigte. Dan sê die Here: Hierdie bene stel Israel voor, die Godsvolk, in die boosheid van hulle ballingskap. Hulle sê mos; Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons. Maar sê nou vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak, en julle laat uitkom, en julle terugbring na julle land toe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.
Daaraan word ons herinner op hierdie Pinkstersondag. Die Here deur Sy Gees kan nuwe lewe bewerk. En hoe nodig is dit nie dat ons dit sal hoor nie. In ‘n wêreld van moedeloosheid, magteloosheid en hopeloosheid. Iemand skrywe oor hierdie gees van moedeloosheid en hopeloosheid en magteloosheid: Hy verwys daarna dat ons nie sonder goeie rede in ons spreektaal bv die woord dood gebruik, dit druk juis hierdie gevoel uit, van vasgevange wees, vasgeloop, sonder uitsig of toekoms. Ons sê bv: ek voel daar is geen sin of vreugde in die lewe meer oor nie. Iets in my het doodgegaan. Ons sê ons huwelik, ons verhouding, ons vriendskap is op ‘n einde. Daar is niks meer aan te doen nie. Ons sê ons liefde vir mekaar is dood. Ons sê alles is net te veel vir my. Ek kan nie meer nie. Ek kan nie meer verder nie. Ek is tot die dood toe moeg. Ons sê die vrees vir môre pak my beet, ek kan dit nie afskud nie. Hierdie bekommernis, hierdie besorgdheid druk my keel toe. Ek is doodbang wat gaan gebeur. Bang vir die toekoms van ons land, vir die misdaad en geweld om ons. So kan voorbeelde opgenoem word wat hierdie hopelose, moedelose omstandighede uitdruk. Ook mense wat nie kan of wil verander nie, omstandighede wat nie wil verander nie. Watter troos is dit nie om vandag dan weer te kan hoor van die Heilige Gees. Te kan bely dat ons ook glo in die Heilige Gees en daarom ook te kan glo dat dinge en mense nog kan verander omdat die Here deur Sy Gees lewe kan bring. Die woorde in die Belydenis van Nicea is dan ook veelseggend. Nadat die belydenis gehandel het oor die Vader en die Seun, dan kom die belydenis by die Heilige Gees. En in die Heilige Gees wat Here is en lewend maak. Dit is die oeroue belydenis aangaande die Heilige Gees. God wil deur Sy Gees lewe gee.
Daarom is dit ook so toe die kerk deur die Heilige Gees se werking ontstaan het. Lees maar die boek Handelinge van die apostels hoe die Here deur Sy Gees die kerk begin het en hoe die kerk deur die Gees se werking gegroei het. Die Here die gelowiges geroep het om Sy werk in Sy Naam voort te sit. Die vernaamste taak sou wees om in die Here se Naam lewe te bring. Dit bly vir my altyd merkwaardig dat toe Jesus Sy dissipels na die opstanding ontmoet het, Hy by so ‘n geleentheid, so word dit vir ons beskrywe in Johannes 20, die Gees aan hulle gegee het deur oor hulle te blaas. En die kernaspek is om lewe in Sy Naam te gaan verkondig. Die gawe van die Gees het alles te doen met lewe. Dit wil in die eerste plek lewe bring vir die wat gestuur word, maar verder wil ook deur die gestuurdes lewe bring vir ander. So word die beloftes van Jesus op ‘n besondere manier vervul. Ons lees in Johannes 10:10 die volgende: Ek het gekom sodat julle lewe kan hê en dit in oorvloed. So ook Joh 7:38 en 39: Met die een wat in My glo, sal dit wees soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom sou kom, sou die Gees ontvang.
Daarom moet ons gebed op hierdie dag wees: Dankie Here vir U Gees . . . en bid ons dat die Here sal voortgaan om lewe te bring en ook vir ons te gebruik as Sy instrumente.
‘n Gebed: o Heilige Gees, lewegewende Lewe, Skepper en Onderhouer van die heelal, bron van alles wat bestaan, Bevry u skepping van alles wat onsuiwer is, genees haar wonde. U is stralend lewe, lofwaardig, Herskepper, o verkwik ons tot nuwe lewe.
Maar daarom sing ons ook weer: Strome van seën van bowe, dit het die Liefde beloof, ’n heerlike tyd van verkwikking vloei uit ons Heiland en Hoof. . .
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.