Die Here is naby

Die Here is naby

NG Kerk Gansbaai

Skriflesing:  Fil.4 :4

Een van die wonderlikste beskrywings van ’n mens wat in die regte verhouding met God lewe of vroom gelewe het, is die woorde: Daardie persoon het naby die Here gelewe. Van Henog lees ons twee keer dat hy naby God gelewe het, van Noag: onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef. God verskyn aan Abraham en sê :  As Jakob Josef se kinders seën dan is dit met die woorde : Mag die God naby wie my voorvaders Abraham en Isak geleef het  en die vrome Asaf bely : Dit is vir my goed om naby God te wees.

Aan die anderkant word daar gepraat van hulle wat ver van God lewe. Die verlore seun gaan na ’n ver land. Paulus praat van die heidene wat vroeër ver van God gelewe het. Jesaja rig ook ’n waarskuwing tot die Here se volk : Hierdie volk eer my met hulle mond, maar hulle hart is ver van my. In Psalm 22, die Psalm waaruit Jesus aan die kruis aangehaal het, hoor ons die noodkreet : My God, my God , waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roepVerskriklik as God ver is, wonderlik as God naby jou is.

 Met hierdie agtergrond wil ek vanoggend praat oor hierdie 4 kosbare woorde: DIE HERE IS NABY.

Die woord naby beteken eintlik in sy oorspronklike Griekse vorm elmboog. Die Here is so naby soos jou elmboog aan jou liggaam.

As die Here naby is ervaar jy volgens Filippense ’n vyftal wonderlike dinge waarvan ek vanoggend slegs 2 wil noem.

1. Wonderlike vreugde:

Voordat Paulus skrywe: Die Here is naby  skrywe hy iets so belangrik dat hy dit sommer herhaal. Luister: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal. Wees bly. Wat maak mense gelukkig? Is dit jou  ou of jou meisie,  bankbalans, is dit jou gesondheid, roem en prestasies, jou gelukkige huwelik of dat dit met jou kinders goed gaan of jou span wat die wedstryd gewen het?  Natuurlik kan hierdie en baie ander dinge blydskap en geluk in jou lewe bring. Maar bring dit werklike, diepe en langdurige geluk?

Daar is die verhaal van die geliefde koning wie se onderdane sien dat hy baie ongelukkig is en hulle het die een ding na die ander probeer om hom gelukkig te maak, maar sonder sukses. Toe kry hulle die raad dat as hulle iemand vind wat baie gelukkig is en sy hemp kry en vir die koning aantrek, sal hy gelukkig word. Hulle was verbaas dat daar so min gelukkige mense is. Toe, op ’n dag kry hulle in die vuil straatjie van ’n krotbuurt ’n man wat straal van geluk. Hulle bied hom ’n som geld vir sy hemp aan, maar hy wil dit nie verkoop nie. Hulle verdubbel die bedrag, maar steeds weier die man om te verkoop. Uiteindelik bied hulle hom tien maal die oorspronklike bedrag aan. Dis toe dat die man sê :” Ek het nie ’n hemp nie.” En so was dit inderdaad. Onder sy ou verweerde jas was sy naakte liggaam.

Die verhaal wil eintlik maar vir ons sê dat ons blydskap nie afhanklik is van iets nie, maar van Iemand. Die Iemand is Hy van wie Paulus hier sê. Verbly julle in die Here.

Jesus Christus die bron van my blydskap. Of soos Ges.167 lui : Jesus bron van al my vreugde. Maar is dit so? Kan ek vanoggend eerlik sê : Jesus is die bron van My geluk, my blydskap, my vreugde. Toon kerklidmate dat Jesus die bron van hulle vreugde is?

 Maar Paulus gebruik hier ’n belangrike woord en dit is die woord “ altyd”.

En dan het ons miskien lus om vir Paulus te sê : Paulus jy ken nie my omstandighede nie. En Paulus kan antwoord, laat ek julle vertel. Ek sit hier in die tronk, maar laat ek julle vertel wat juis daar in die stad Filippi met my gebeur het. Hulle het my klere van my afgeskeur, hulle het my geslaan dat die bloed van my geloop het. Asof dit nie genoeg is nie het hulle my in die tronk gegooi, in die binneste gevangenes wat eintlik ’n gat was sonder lig of venster en waar suurstof net ingekom het as iemand die opening oopmaak en asof dit nie genoeg was nie het hulle my voete tussen twee blokke waarin daar ’n gat was, vasgeskroewe. Maar weet julle in daardie plek waar mense gesoebat en gevloek en gehuil het, het die medegevangenes daardie nag na ons geluister, want ek en Silas het lofliedere gesing. Hoe kon ons dit regkry ? Omdat die Here naby ons was, net ’n elmboog lengte van ons was.

En van moeilike omstandighede gepraat, lees net ’n bietjie verder in hierdie hoofstuk van my omstandighede: ek weet wat armoede is, ek het ondervinding van honger ly en gebrek ly.

My skoonma het wanneer iemand klae oor die versorging van ’n gestremde familielid of die verlies van ’n kind wat op jeugdige leeftyd gesterf het altyd gesê: Dit is standerds wat ek al almal “gepass” het. Paulus kon ook sê, ek het al hierdie standerds “gepass”. Lees gerus 2 Kor.11: 27  Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Nogtans kon hy ervaar wat in Neh.8:10 staan : die blydskap in die Here is julle beskutting. Daarom kon hy hom  in die Here verbly, kon hy lofliedere sing, want ondanks die baie wat hy nie gehad het nie, dit wat hom ontneem is, het hy hierdie een kosbare besitting gehad : DIE HERE IS NABY

2. Vriendelikheid:  

Onmiddellik na die  woorde : Wees bly en onmiddellik voor die woorde  Die Here is naby staan: Wees inskiklik teenoor alle mense. Wat is die teenoorgestelde van “inskiklik” ? Miskien ongenaakbaar, onversetlik, selfsugtig, hard, sonder begrip, sonder omgee, ens. Dit is helaas soos baie mense ook Christene is.

Die Griekse woord wat hier met inskiklik vertaal word, is epieikes wat vertaal kan word met sag of teer of soos die 1933 vertaling, vriendelik.

As die Here naby my is dan is daar ook ’n besondere verhouding met my medemens. Ek weerkaats die vriendelikheid van God. Tot sover sal ons miskien saamstem. Paulus gebruik egter ’n woordjie waarvan ons nie baie hou nie. Wees inskiklik teenoor alle mense, wees vriendelik met alle mense.

 Ek hoor al mense op hierdie opdrag reageer of liewer protesteer. Nee Paulus, teenoor my lewensmaat en kinders en vriende sal ek inskiklik wees en vriendelik optree. Jy ken egter nie my bure of kollegas, of my kliënte of my werksmense nie. Mense wat die lewe vir jou onaangenaam maak. Mense wat dit vir my moeilik, indien nie onmoontlik maak om teenoor hulle vriendelik op te tree.

Paulus bedoel alle mense. Hy het ook met ’n kwota van hierdie soort mense te doen gehad: Alexander die kopersmit wat hom moeite aangedoen het, Demas wat hom op ’n kritieke stadium verlaat het, troue medewerkers wat hom in die uur van nood in die steek gelaat het en nog ander het vir hom die lewe uiters moeilik probeer maak. Hy skrywe aan die Korintiërs ( 1Kor.4:13): ons word beledig en ons bly vriendelik.

Ek weet nie u nie, maar ek dop hierdie vriendelikheidseksamenvak sommer al in die kleuterskool en nog steeds. As mense van ’n ander kultuur half drie die  nag nog met die motor wat buite staan met die volume van die radio op sy hardste partytjie hou, dan loop ek nie oor van vriendelikheid nie as ek hulle gaan vra om net die radio sagter te stel nie. Dan moet ek maar weer bid “ Here gee dat ek so naby u lewe dat ek vriendelik kan wees.”

Blydskap in die Here en vriendelikheid, twee waardes, wat ek met twee verhaaltjies wil illustreer:

     

1. Vriendelikheid trek mense na Christus se kerk:

Bill was  maar ’n eienaardige student. Gedurende sy drie jaar op kollege het hy nooit skoene gedra nie en met sy verslete jeans en T Hemde met gate in rond geloop. Toe kom Bill tot bekering. Een Sondagoggend besluit hy om kerk toe te gaan. Naby die kollege was daar ’n konserwatiewe gemeente. Toe Bill daar aankom was die kerk reeds vol. Toe hy instap het die lidmate met hulle deftige klere hom aangestaar. Sommige het gewonder of iemand nie die moed sal hê om hom te verwyder nie. Omdat daar nie plek in die banke was nie het Bill tot vlak voor die kansel gestap en daar op die mat gaan sit. Dis toe dat ’n bejaarde maar gerespekteerde ou ouderling agter in die kerk opstaan en met sy kierie stadig in die paadjie af beweeg. Van die mense het gedink, jy kan hom nie kwalik neem vir wat hy nou gaan doen nie. Dit was doodstil in die kerk net die getik van die kierie op die kerkvloer. Hy het sy kierie neergesit moeisaam afgebuk en langs Bill gaan sit. Hy het na Bill gedraai en gesê : “ Dit is nie reg dat jy so alleen hier moet sit nie ek sal by jou sit”. Die predikant wat intussen opgehou het om te preek het weer begin:  “ Gemeente wat ek vanoggend verkondig sal julle nie lank onthou nie, wat julle vanoggend hier gesien het, sal julle nooit vergeet nie”. Ek is nie seker of ons altyd deur ons vriendelikheid mense laat tuis voel in die kring van gelowiges. As dit wel die geval is, is dit omdat ons naby lewe aan Hom wat teenoor  alle mense ook die grootste en snoodste sondaar vriendelik opgetree het. Hy was immers ’n vriend van tollenaars en sondaars wat kindertjies en vermoeides genooi het om na Hom te kom.

2. Blydskap ondanks moeilike omstandighede en onreg my aangedoen maak my getuienis geloofwaardig:

 Die Pa van Emmanuel Kant het eenmaal deur ’n woud in Pole gereis toe hy deur rowers oorval is. Hulle het hom van sy perd, gebedeboek en beursie beroof.: “ Is dit alles wat jy het? “ wou die rowers weet. “ Ja dis alles wat ek het”. Miskien het hy aan Hebr.10: 34 gedink : en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aan vaar... Toe die rowers ’n tydjie weg is, ontdek hy die goud in die soom van sy mantel. Hy volg hulle spore en toe hy hulle kry, sê hy, ek het julle nie die waarheid vertel nie, ek het nog goud ook, neem dit. Daar was ’n oomblik stilte. Toe kom die een rower en oorhandig aan hom sy beursie, die ander sy gebedeboek en die ander sy perd.

Waarom hierdie verhaal ? Omdat die wêreld krities, skepties en selfs vyandig staan teen dit wat ons preek. Hulle wil sien om te glo. Dade van blydskap ondanks omstandighede en vriendelikheid, ondanks wie die persoon is, dit en dit alleen maak ons woorde geloofwaardig. En ons kan dit alleen regkry as ons naby die Here lewe.

Die wêreld se manier van doen is om wraak te neem, te vergeld en in gelyke munt terug betaal. Maar vir Christus se kinders beveel Hy : Julle moet julle vyande liefhê, seën die wat julle vervloek en bid vir die wat julle beledig. Dit is hierdie anderse lewensstyl wat mense na Christus trek. Kan ek dit regkry ? Nee, tensy ek so naby die Here lewe dat hy deur my sigbaar kan word. Sigbaar word deur my blydskap in die Here en my vriendelikheid teenoor alle mense. Amen

https://ssl.gstatic.com/ui/v1/icons/mail/images/cleardot.gif

 

Die Here is naby

Ds. dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai