Die Here is naby

Die Here is naby

NG Kerk Gansbaai

 Fil. 4:9  DIE HERE IS NABY ( 0PVOLG PREEK OP DIE VAN 5 JULIE 2015)

In die vroeë sestiger jare was ek die sendeling op Citrusdal wat manalleen die 3000 doop en belydende lidmate moes bedien. Een week moes ek sewe begrafnisse hou. Die Maandag  ry ek oor Middelberg en gaan hou in die verste oostelike deel van die gemeente in die Kouebokkeveld ’n begrafnis. Ek preek oor die teks uit Amos: “ Maak jou klaar om jou God te ontmoet.”Die Dinsdag agtermiddag ry ek oor die Pikenierskloofpas en gaan hou in die westelike deel van die gemeente ’n begrafnis. Ek gebruik weer dieselfde preek, want daar sal tog nie iemand wees wat gistermiddag se begrafnis in die Kouebokkeveld bygewoon het nie. Aan die einde van die preek staan ’n broer op. Toe hy begin met “gistermiddag”, weet ek hier kom ’n ding. “ Gistermiddag was ek by die begrafnis van ’n ou vriend en daar het die teks tot my gekom: “ Maak jou klaar om jou God te ontmoet. En agtermiddag is ek hier en hier’s die teks alweer. Ek dink nie hy wou my verwyt oor ek die “ Canfruit” preek gebruik het nie, nee hy was eerder diep bekommerd omdat die teks hom so agtervolg.

 Veertien dae gelede het ek gepreek oor : Die Here is naby en hier is die teks alweer. By daardie geleentheid het ek gesê dat as die Here naby is, ervaar ek 5 seëninge wat met die letter V begin. Toe het ons na die eerste twee gekyk. As die Here naby is, ervaar ek ondanks wat die omstandighede is   vreugde ( verbly julle altyd in die Here) en moet  ek ondanks hoe moeilik mense ook al is vriendelik teenoor alle mense wees.

Vanoggend bepaal ons, ons by die volgende  drie seëninge :

3. As die Here naby is het ek Vrymoedigheid om te bid.

 Onmiddellik na die troosvolle versekering die Here is naby, volg:  Moet oor niks besorg wees nie... maak in alles jou begeertes deur gebed aan God bekend. Dis byna soos ’n pa vir sy klein kindjie sê; “ Moenie bang wees nie, ek is mos hier by jou, sê my wat hinder jou, waarvoor is jy bang.

Dit gaan nie hier oor gebed in die algemeen of oor die noodsaaklikheid van gebed nie, maar oor gebedsvrymoedigheid. God is Koning wat op sy troon in die hemel sit. Die Bybel vertel van koning Ahasveros en hoedat toe die Jode uitwissing in die gesig gestaar het Mordegai  vir Ester opdrag gegee het om na die koning te gaan en vir die redding van die Jode te pleit. Ester protesteer egter, sy is bang, want as jy na die koning gaan indien hy jou nie geroep het nie, word jy dood gemaak tensy hy sy goue septer na jou uitsteek. Maar van ons God lees ons in Hebr.4:16   Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en  genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. En in 1 Joh. 5:16  word ons aangemoedig met die woorde: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. ’n  Koning met ’n genade troon wat in sy barmhartigheid en genade in Christus die goue septer uitgesteek het dat ek vrymoedig na Hom kan gaan.

Hierdie God wat naby my is, is ook my Vader. Een van ons ou gesange lui: Sal ek u majesteit se gloed, as sondaar ooit kan nader, goddank versoen deur Jesus bloed, noem ek God nou ook my Vader. My Vader na wie ek vrymoedig kan gaan, Hy het my lief en Hy kan my help. Hy is naby my.

Hy is ook my Vriend en dit gee my vrymoedigheid. Van Abraham van wie ons lees dat hy naby God geleef het, lees ons ook dat hy ’n vriend van God genoem is. En as Jesus praat oor gebedsvrymoedigheid, dan vertel hy van ’n man wat middernag toe sy vriend al geslaap het, aan sy deur gaan klop het om by hom drie brode te leen.

Oor hierdie gebedsvrymoedigheid is daar twee belangrike woordjies: Niks (besorg) As ek jonk is, is my eksamens of die werk of beroep wat ek moet kies of die keuse van my lewensmaat die dinge waaroor ek besorg is. As ek aftree, die plek waar ek gaan woon. Dit is vir my baie interessant om by mense te hoor, hoekom het julle spesifiek in De Kelders, Gansbaai, Kleinbaai, Franskraal of Pearly Beach kom woon. En dikwels word gesê, ons het gebid en die Here het dit vir ons so beskik. En vir baie van ons is daar nog ’n moeiliker keuse, die waar en die wanneer van ’n versorgings oord of tuiste vir bejaardes. En natuurlik wat kan ek saamneem? Dan wil die Here ook vanoggend vir ons sê: Wees oor niks besorg nie. Die tweede woord : Alles . Maak in alles julle begeertes deur gebed aan God bekend. Hy is mos sommer hier naby jou ’n elmboog van jou af. Daarom wees vrymoedig om te bid. Daar is nie iets groot of klein wat so onbelangrik is dat ek dit nie vrymoedig deur gebed aan Hom bekend kan maak nie.

4. Vrede:

Sien u wat volg as ek my sorge vrymoedig aan God bekend maak:  Hy skenk my sy vrede, ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Wat is die vrede waarvan Paulus hier praat: Iemand het vir ’n skilder gevra om vir hom ’n skildery van vrede te maak. Die skilder het terug gekom van ’n rustige plaastoneel, ’n dam met die water spieëlglad, vinknessies wat bokant die water hang, eende wat op die water wieg en skape wat daar rustig lê. Die man het gesê dis mooi, maar dis nie wat hy in gedagte gehad het nie. Die skilder het na maande teruggekom met ’n skildery van ’n waterval waar die water met spoed en geweld teen ’n hoë die ruwe krans na benede stort. Alles lyk onheilspellend. Maar daar digby die neerstortende water het ’n voëltjie rustig op sy nessie gesit. Vrede is nie die afwesigheid van storms of probleme nie, maar om ondanks die storms rustig te wees.

Op ’n Saterdagoggend lui my telefoon. Die nuus word vinnig aan my meegedeel. Daar was in die jagveld ’n ongeluk, die haelgeweer het afgegaan en die man is in sy maag gewond. Hulle het met hom Vredenburg hospitaal gejaag. Sy pa is alleen op die plaas, sal ek dan nie by hom ’n draai gaan maak nie. Ek gaan hou by die plaasopstal stil, loop verby die bakkie met die krapmerke soos hulle sommer in hulle haas deur die plaas se draad hekke gejaag het, sien die bloed op die bakkie en loop verby die bloedspatsels waar hulle hom na die motor gedra het. Ek vat oom John se hand en voordat ek nog iets kon sê, sê hy: Toemaar ds. wat die Here sal laat gebeur is goed, ek is daarmee tevrede. Oom John was vir my soos die voëltjie langs die waterval. Soos Dawid wat in Psalm 131 sê: Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. U sien hierdie soort vrede gaan ons verstand te bowe tensy ons besef wat die geheim is. En die geheim is. Die Here is naby en sy nabyheid is vir my ’n heerlike werklikheid.

In my kinderjare en as jong predikant was dit die gewoonte om by die graf Ges. 22: Rus my siel te sing. Veral die laaste vers: Rus my siel, jou God is Koning, wees tevrede met jou lot, kyk hoe alles hier verander, en verlang alleen na God. Ja ten spyte van pyn en leed, sorge en nood, selfs by ’n geliefde se dood, kan ek vrede vind in die nabyheid van God: My Koning wat kan help, my Vader wat wil help, my Vriend wat sal help. Sy nabyheid bring vrede in my gemoed.

5.Voorsiening:

Net voor Paulus sy brief aan die Filippense afsluit met lof aan God en groete aan die gemeente, skrywe hy wat vir my een van die troosrykste woorde in die Bybel is: Fil.4:19  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien...

 Kom ons kyk wat nie hier staan nie. Hier staan nie dat God in my hebsug sal voorsien of vir my gee alles wat ek vra nie. Die Amerikaanse predikers verkondig dikwels welvaart- of voorspoedteologie. Dit werk dan so: Jy bid vir ’n motor. Dan vra die Here jou watter soort motor dit moet wees. Jy begeer ’n Mercedes. Dan vra die Here wat sy kleur moet wees en jy sê groen. Die volgende oggend staan daar voor jou huis ’n groen Mercedes. Die petrol tenk vol en die sleutel in die slot van die motor. U sien ek ken nie hierdie God nie. Ek het as arm student vir ’n fiets gebid, dit nie gekry nie. Aan die einde van my eerste jaar het ek op ’n wingerdplaas gaan werk en toe byna met ’n maand se salaris vir my ’n fiets gekoop. Dieselfde dag was dit op Wellington bloedig warm en ek het met my nuwe fiets na die swembad gery, ’n tydjie geswem en toe ek  uit die swembad klim was my fiets gesteel. Ek het gebid dat my fiets tog gevind sal word, maar al die gebede het nie my fiets terug gebring nie. Ek sou u kon vertel hoe die Here toe op ’n ander en beter manier voorsien het. Maar genoeg hieroor.

Miskien moet ons die klem laat val op die woordjie behoefte en dit saamlees met die bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Kyk na die eenvoud: Ek bid nie vir koek nie ook nie vir die maande wat kom nie. Maar vir my basiese behoefte.

 In hierdie kerk sit vanoggend baie mense wat wonderlike verhale sal kan vertel van hoedat die Here in hulle behoeftes voorsien het. Laat ek vir u vertel van een so ’n gebeurtenis wat ek ervaar het. Ongeveer 1972 moes ek ’n vrou en haar drie kinders na Pretoria neem. Die vrou se man was daar in die hospitaal en moes ’n hartoperasie ondergaan. Ons het die lang grondpad vanaf Leonardville aangedurf. Ongeveer 30 kilometer nadat ek verby Koës gery het, hoor ek ’n slag toe ek oor ’n motorhek ry. Kort daarna sien ek dat die brandstofmeter vinnig sak en nie lank nie of die motor gaan staan. Ek buk en kyk na die petroltent en sien dat daar ’n gat in is. Daar staan ons tussen niks en nêrens met die son wat meedoënloos bak en ons kyk vorentoe en agtertoe en wag en wag en wag. Na baie lank sien ons stof in die pad, sien later dis ’n bakkie. Toe gebeur die eerste wonderwerk: Die bestuurder van die bakkie is die broer van die man in Pretoria se hospitaal. Hy is oppad na Kuruman. En toe die 2de wonderwerk. Die man het agter op sy bakkie ’n 44 gelling drom met petrol.  Hy trek die bakkie langs ons motor en tap uit die drom petrol in ons motor totdat ons sien dat die petrol uit die gat in die petroltenk begin uitvloei. Dan ry ek so vinnig as ek kan totdat die motor gaan staan. Dan kom hou hy weer langs ons motor stil en die proses word herhaal en herhaal. Uiteindelik bereik ons Aroab. Toeval? Nee, God het voorsien.

 Ek sluit met drie woordjies in hierdie teks oor voorsiening. Dit is die woorde: in Christus Jesus… U onthou mos vir Abraham, die man wat naby God gelewe het. Maar toe tref  iets soos ’n orkaan hom, God beveel hom om sy seun Isak te gaan offer. Terwyl hulle so stap vra Isak: Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer ?  Dan antwoord Abraham : My seun, God sal sy eie offerlam voorsien. Duisend jare later wys Johannes die Doper na Jesus en sê : Daar is die lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

 Want geliefdes ons grootste behoefte is nie ons tydelike materiële behoeftes nie, maar om in die regte verhouding met God te kom sodat ons kan weet : Die Here is naby. Daarom moet ek na die kruis kyk en weet, ons wat ver van God was het naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is Immanuel : God by ons.

Maak my ander behoeftes dan nie saak nie? Ja dit maak saak, dit is vir God belangrik. Die groot voorsieningsgeskenk is Christus en dan gee hy my die ander dinge as bonusse. Daarom skrywe Paulus in Rom. 8 : 32  Hy het sy eie Seun  nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie.

Geliefdes dis belangrik, noodsaaklik dat in elke krisis en situasie, ek weet, die Here is naby.

Dan  kan ek onder alle omstandighede:  vreugde ervaar, teenoor almal vriendelik wees, vrymoedig in gebed na Hom gaan, sy vrede ervaar en weet My God voorsien ryklik in elke behoefte van my deur Christus Jesus. Amen.

 

 

Die Here is naby

Ds. Dries Auret

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Recent Posts

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklikes

Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...

Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer. 

NG Kerk Gansbaai
BADISA (Maatskaplike Dienste)

BADISA (Maatskaplike Dienste)

Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.

NG Kerk Gansbaai
11 Junie 2022: Familie Stap

11 Junie 2022: Familie Stap

Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!

NG Kerk Gansbaai
Bulletin: Orrel

Bulletin: Orrel

Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.

NG Kerk Gansbaai
28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

28 + 29 Mei 2022: Bbos Basaar en Feesnaweek

Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.

NG Kerk Gansbaai
Baardskeerdersbos Eeufees

Baardskeerdersbos Eeufees

Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.

NG Kerk Gansbaai