Sondag 25 Junie 2022: Biddag: Middelafhanklik...
Middelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Teks : 2 Kor 5:14
As inleiding wil ek noem van ‘n paar mense wat onder moelike omstandighede werk. Die Toeriens doen sendingwerk in Rusland. Die omstandighede waaronder hulle werk is uiters moeilik, die uitermate koue, die afstande, ver van die huis, die inkomste nie altyd seker nie. Ek dink aan ander wat ook onder moeilike omstandighede werk ook maar met beperkte middele, Christo Wooding en Bongikosi vir wie ons ook ondersteun. Ek dink aan ‘n vriend van my wie se dogter en skoonseun werk in Papwa, Guinea, waar hulle letterlik heeldag met ‘n boot moet ry om by ‘n stam uit te kom om hulle van die Here te vertel. As ek aan al hierdie mense dink, dan vra ek myself die vraag, waarom sal hulle dit doen? Waarom ?
Nou kan die antwoord tog nie wees net om die wêreld te sien nie, n soort avontuur, om net ander mense te ontmoet nie. Ek onthou as studente het ons op die grens van Angola gaan sendingwerk doen in die omgewing van Rundu. Maar dit was eintlik, as ek nou daaraan dink,‘n soort avontuur. Dit was eintlik baie lekker, net vir drie weke. Nee, dit kan nie dit wees nie, die feit dat hulle bereid is om dit permanent te doen. . . nee dit gaan om baie meer. . . Toe dink ek wat die apostel Paulus in 2 Kor 5:14 geskrywe het: die liefde van Christus dring ons En soos ek hulle leer ken het, het ek net besef dit is daarom. . .dit is oor die liefde van Christus hulle dring. Juis met hierdie woorde sou Paulus dan ook verduidelik hoekom hy die mense probeer oortuig het van die Here en hoekom hy dan ook deur baie dinge gegaan het om die boodskap van die Here uit te dra aan ander. Van al die dinge wat hy moes deurmaak vertel hy in 2 Kor 11: 23: Ek het harder gewerk. . ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see deurgebring. Lees tog gerus van hierdie ontberinge van die apostel Paulus ter wille van die evangelie. Ek dink daarom doen hulle dit ook. . . daarom in die vreemde, ver van familie, is hulle ook bereid om die koue te trotseer. . . dit is oor die liefde van Christus hulle dring.
Maar wat beteken dit dat die liefde van Christus jou dring? Kom ek sê net iets oor die liefde van Christus. Wat is hierdie liefde van Christus? Dit is die liefde van God vir die wêreld wat gemaak het dat Hy bereid was om mens te word en hier onder ons te kom woon. . . en om te sterwe aan die kruis. Paulus skrywe daaroor in Fil 2:6: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaran Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het , het Hy Homself verder verneder, Hy was gehoorsaam tot in die dood , ja die dood aan die kruis. Dink ook aan die woorde in Joh 3:16: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie , maar die ewige lewe kan hê. En hierdie liefde van Christus het hom baie diep geraak, diep getref. Dit was nie maar net nog iets wat hy gehoor het om te dink nou weet ek nog iets nie, soos die kennis wat ‘n mens kan hê van ander dinge nie. Nee, toe dit hom tref dat God hom liefhet, sou hy nooit weer dieselfde mens kon wees nie. Alle ander dinge het nou tweede gekom in belangrikheid. Daarvan skrywe hy ook in Fil 3:7 Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus , ja nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus my Here te ken , oortref alles in waarde. Dit is merkwaardig hoe hy absoluut niks daarom ontsien. Soos ek reeds vertel het. . . om gedring te wees deur die liefde van Christus. . . om daardeur diep getref te wees.
Om gedring te wees is darem heeltemal iets anders as om gedwing te wees. Dink aan die kunstenaar wat ure besig kan wees met sy kuns, wat ure kan besig wees om voor te berei om op te tree. . . ure lank om dit alles goed te doen. Niks is eenvoudig te veel nie. Dink aan n boek wat jy lees en nie kan neersit nie. Jy lees tot diep in die nag in, want jy is aan aangegryp. So was die apostel Paulus diep getref. Hy het die liefde van die Here leer ken. In 1975 lei prof Willie Jonker die Pinkster in die studente kerk op Stellenbosch. Hy sluit ook by hierdie verse aan. Sy preke in daardie Pinkster is in boekvorm uitgegee. Ek haal ‘n gedeelte aan waar hy dan veral die klem gelê het op Paulus se aangegrepenheid deur die evangelie: Daardie liefde van Jesus Christus, daardie liefde van God, dit het Paulus leer verstaan. Dit het op Paulus afgekom, hy het dit begryp." En dan sou hy so mooi sê : "Paulus het dit verstaan dat daardie liefde van Christus beteken dat daar ‘n ewige eenheid tussen Jesus en hom moet kom en dat daar geen oomblik van sy lewe meer is, van die begin tot die end van sy lewe, wat nie ingeskulp is in Jesus Christus nie. Dit hou in dat toe Jesus aan die kruis gesterf het, ons toe ook daar was. Toe Hy gesterf het, die Een, Hy vir almal gesterf het, want ons was daar in Hom. In Sy liefde het Hy ons omvat. Dit het Paulus verander. Dit was die drang in sy lewe. En toe daardie drang in sy lewe deurgeslaan het, toe het hy meteens besef. Ek mag nie meer vir myself leef nie. Daarvan lees ons ook in 2Kor 5:15: en Hy het vir almal gesterwehet, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf en uit die dood opgewek is. Hy sou so pragtig verder sê: Ek mag nie meer vir myself lewe as die liefde van Christus vir my ‘n werklikheid geword het nie. Dan mag ek wat ek hier ervaar as my aardse werklikheid, die plannetjies wat ek vir myself maak, die gedagtetjies wat ek rondom myself opbou, die feit dat ek alles op myself betrek, nie meer vir my van beslissende betekenis wees nie. O, gelukkig God ontslaan my daarvan , Jesus maak my daarvan vry. Hy het my ou mens saam met Hom geneem, aan die kruis het my ou mens gesterwe. Dit is die evangelie dat die Here my verlos van my voortdurende selfingekeerdheid, dat Hy my vry maak vir Hom en vir my naaste, dat hy my binneste buite keer, dat hy my op ‘n nuwe weg plaas, dat hy my lewe ‘n nuwe rigting gee. Dit is die evangelie. En toe het hy iets gesê wat my baie getref het: En as u godsdiens nie dit vir u kan beteken nie, dan het u godsdiens nog nie vir u beteken wat dit bedoel is om vir u te beteken nie.
Die sendelinge waarna ek vroeër verwys het, dit wat die apostel Paulus hier geskrywe, die woorde van Prof Willie Jonker na aanleiding daarvan bring my weer terug na hierdie gemeente. Mag dit ook van ons waar wees hier waar ons bly. . . hier waar ons ‘n gemeente vir die Here is. Mag die liefde van Christus ons ook dring. Mag ook ons diep daardeur geraak wees. . . diep getref wees sodat dit vir ons almal ook voel dat ons nou nie meer vir onsself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf en opgestaan het. Mag dit ook die drang in ons wees. Om in alles wat ons is en doen as Christene hier ook ons opnuut tot beskikking van die Here sal stel.
Na sy eerste preek het Prof Willie Jonker met die volgende gebed afgesluit: Here, onse God, ons dank U vir die liefde van Christus. Ons dank U vir die liefde wat U geopenbaar het in U Seun. Laat dit dit die drang in ons word en die vuur. Laat dit ons verlos van die middelmatigheid. Laat dit ons bring tot ‘n definitiewe keuse vir U. Laat dit ons daartoe bring om onsself onvoorwaardelik tot beskikking van U te stel. Hier is ons Here, neem ons tog ter wille van ons Here Jesus Christus.
Ek wil ook so bid. . . laat U liefde ook in ons die drang word en die vuur. Laat dit ons ook opnuut bring tot ‘n keuse vir U. Laat ons ook onsself onvoorwaardelik tot u beskikking stel. Ons sing: Neem my lewe laat dit Heer, u gewy wees meer en meer. . . gedring deur die liefde van die Here.
Ter afsluiting lees asseblief die gebed van Paulus aan die Efesiërs soos in Ef 3:14-20: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader . . . (en dit wat volg)
Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...
View ProfileXplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.
Read MoreMiddelafhanklikheid is ‘n té algemene verskynsel in ons samelewing, ‘n groot bron van kommer.
Badisa se werksgebied strek oor Hermanus (Swartdamweg tot Voëlklip), Stanford en Gansbaai tot by Uilkraalsmond en La Mont Wyne op BBospad.
Gryp jou stapskoene en kom stap lekker saam vanaf Gansbaai Karavaanpark na Stanfordsbaai!
Soos ons almal al agtergekom het, is ons kerk stil sonder die pragtige klanke van ons orrel, soos ons ook weet, is die orrel sinoniem met ons kerk.
Kom geniet saam die lekker boere atmosfeer en musiek.
Die NG Kerkgebou te Baardskeerdersbos, deel van die NG Gemeente Gansbaai, betree hierdie jaar haar honderdste bestaansjaar.